Sassa-hersienings: ‘Niemand se toelae net gestaak’

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister
Een van Sassa se kantore in die Oos-Kaap. Foto: Sassa/Facebook
Een van Sassa se kantore in die Oos-Kaap. Foto: Sassa/Facebook

Die Suid-Afrikaanse Agentskap vir Maatskaplike Sekerheid (Sassa) sal eers teen einde Julie beter syfers hê oor hoeveel mense na vore gekom het om hul besonderhede te bevestig om steeds Sassa-toelaes te kan ontvang.

Brenton van Vrede, uitvoerende bestuurder vir toelae-administrasie by Sassa, het Maandag gesê die jongste syfer is steeds dat die besonderhede van 210 000 begunstigdes van Sassa-toelaes hersien moet word om te kyk of hulle wel nog vir toelaes in aanmerking kom.

Van Vrede raam dat Sassa vir die jaar sowat 300 000 hersienings kan doen.

Dit is as deel van die streng nuwe voorwaardes wat die tesourie Sassa opgelê het met die toekennings uit die staatskas vir toelaes oor die mediumtermyn-begrotingsraamwerk van drie jaar.

Vir die lopende boekjaar is R284,8 miljard vir welsynstoelaes toegeken, gevolg deur R296,4 miljard in die 2026-'27-boekjaar en R309,8 miljard in die 2027-'28-boekjaar. Dit blyk nou dat dié bedrae wel ook die voorsienings insluit om steeds die Covid-19-armoedetoelae te betaal wat veronderstel was om slegs tydelike verligting aan armes tydens die Covid-19-pandemie te bied. In vanjaar se begroting is R35,3 miljard vir die armoedetoelae toegeken.

Die moontlikheid is in die begrotingsrede genoem dat dit omskep gaan word in 'n "werksoekerstoelae", soos die DA vantevore voorgestel het.

Geen toelaes nog opgeskort of gestaak

Themba Matlou, uitvoerende hoof van Sassa, het Maandag op 'n mediakonferensie beklemtoon dat geen toelaes aan enigiemand nog opgeskort of gestaak is nie.

"Die wet laat ons nie toe om betalings onmiddellik op te skort nie."

Die enigste vertraging of verandering is in die betalingskedule as 'n manier om mense wie se besonderhede hersien moet word, in te lig dat hulle na hul naaste Sassa-kantoor moet gaan om seker te maak hul besonderhede is korrek en op datum.

Dit is omdat Sassa gevind het baie begunstigdes ontvang 'n groter inkomste as wat hulle aan Sassa verklaar het.

Sassa doen reeds jaarlikse hersienings van begunstigdes, maar met die tesourie se streng voorwaardes het Sassa besef hy moet meer gereelde hersienings doen. Hy moet nou kwartaalliks aan die tesourie verslag doen oor die getal kwalifiserende begunstigdes.

Ekstra druk op kantore

Matlou het erken die hersienings plaas ekstra druk op Sassa, maar meer personeel word aangestel, en personeel is herontplooi na kantore wat besiger is as ander. Sassa werk ook volstoom aan 'n aanlyn platform waar mense self hul besonderhede kan opdateer en bevestig.

Op 'n vraag wat die ergste is wat kan gebeur met begunstigdes wat nie kontak maak met Sassa nie, het Matlou gesê dit is dat hul toelaes ná drie maande gestaak kan word.

Benewens die uitstuur van SMS-boodskappe aan begunstigdes en die selfdiens-platform, het Sassa ook veldtogte met gemeenskapsleiers en uitreikveldtogte in landelike gebiede om mense te bereik wie se name op die lys is van begunstigdes wie se status hersien moet word.

Volgens Matlou is meer as 140 000 SMS-boodskappe uitgestuur aan begunstigdes wie se besonderhede hersien moet word. Die swak reaksie daarop is 'n aanduiding dat sommige begunstigdes hul kontakbesonderhede verander het, maar Sassa nie daaroor ingelig het nie.

Ekstra inkomste

Volgens Van Vrede is dit nie duidelik presies watter ekstra inkomste mense alles ontvang nie. Wat gebeur, is dat mense aansoek doen om 'n welsynstoelae en aan Sassa sê hulle het geen inkomste nie of 'n lae inkomste, maar dan gaan hulle na 'n plek waar hulle iets wil koop of 'n lening wil aangaan en sê daar dat hulle 'n sekere inkomste het. Dis dié soort teenstrydighede wat Sassa nou probeer uitsorteer in samewerking met kredietburo's.

Matlou sê dit is Sassa se verantwoordelikheid om korrupsie en bedrog uit te skakel, om seker te maak daar is nie mense wat al dood is wat steeds toelaes ontvang nie, om te verseker openbare geld word verantwoordelik bestee, en dat die regte mense gehelp word.

Vierde betaaldag

'n Vierde betaaldag vir toelaes is ingestel juis om vir die begunstigdes wat daardeur geraak word, aan te dui daar is iets fout en hulle moet inkom na 'n Sassa-kantoor om dit reg te stel. Dit is die mense wat geïdentifiseer is vir hersiening.

Voorheen is toelae-betalings oor drie dae gedoen. Die ouderdomstoelaes word gewoonlik naby die 2de van die maand betaal, die ongeskiktheidstoelae teen die 3de van die maand, en die kindertoelae naby die 5de van die maand.

Die mense wat nou eers hul Sassa-geld teen die 8ste van die maand ontvang, is dié wat hersien moet word.

Die Covid-19-noodleningstoelae is afsonderlik hiervan en word aan die einde van 'n maand oor 'n periode van vyf dae betaal, het Van Vrede gesê.

Niemand se betaling word gestaak nie, maar die veranderde betaling is 'n bykomende vorm van aanduiding dat iets fout is en mense moet inkom om hul besonderhede te bevestig. As dit nie gebeur nie, sal toelaes vir 'n maand of twee opgeskort word. Mense wat inkom om hul besonderhede te bevestig en wat wel steeds vir die toelae in aanmerking kom, sal terugwerkend vir die verlore maande betaal word sodra hul toelae-betalings hervat word.

Daar is meer inligting oor die hersieningsveldtog by www.sassa.gov.za of mense kan sy hulplyn skakel by 0800 60101.

- francois.williams@24.com

SPELETJIES VANDAG

CTA