Jan Taks staan heel voor in die ry vir sý deel van pensioenfondslede se aftree-spaargeld wat hulle vanaf 1 September ingevolge die nuwe tweepotstelsel sal kan onttrek.
Dan is daar ook administrasiegelde wat bygereken moet word voordat werkers hul hande op die geld voor aftrede kan kry.

Benewens dat elke onttrekking uit die spaar-komponent van die tweepotstelsel teen jou marginale belastingkoers as inkomste belas sal word, sal enige uitstaande skuld van vorige jare éérs aan die Suid-Afrikaanse Inkomstediens (SAID) betaal word voordat die geld in die pensioenfondslid se sak beland.
John Paul Fraser, 'n belastingprokureur van Tax Consulting SA, sê voordat fondsadministrateurs geld uit die spaar-komponent uitbetaal, moet 'n belastingaanwysing van die SAID verkry word om vas te stel of daar uitstaande belastingskuld is wat eers betaal moet word.
Gurschulle Neethling, bedryfshoof by Liberty Korporatiewe Voordele, waarsku ook dat sodra 'n eis vir onttrekking verwerk en na die SAID verwys is, dit nie herroep kan word nie.
Phil le Feuvre, lid van die South African Reward Association (Sara), sê die marginale belastingkoers op onttrekkings uit die spaar-komponent kan mense onkant vang.
'n Lid van 'n pensioenfonds wat teen 31% belas word, kan dus teleurgesteld wees as hy R10 000 onttrek, maar dan R3 100 daarvan aan die belastinggaarder moet betaal. Van die oorblywende R6 900 kan 'n transaksieheffing van sowat R350 of selfs R500 ook afgetrek word, wat jou met sowat R6 500 laat.
Die aftreefondsbedryf raam tussen R55 miljard en R100 miljard sal in die eerste jaar onttrek word. Administrateurs verwag tussen 1% en 3% van bates onder hul bestuur sal in die eerste jaar uitvloei.
Die meeste fondsadministrateurs verwag kliënte sal van middel September geld kan onttrek.
Benewens die belastingimplikasies wat as 'n ontnugtering kan kom, is daar nog versteekte koste wat pensioenfondslede onkant kan betrap.
Die tesourie verwag bykomende belastinginkomste van R5 miljard in die 2024-'25-boekjaar uit die onttrekkings uit dié spaar-komponent.
Die nuwe tweepotstelsel vir aftreefondse behels dat aftreebydraes vanaf 1 September verdeel sal word in 'n spaar- en 'n bewaar-komponent. Lede van pensioenfondse sal een keer in 'n belastingjaar geld uit die spaar-komponent kan onttrek, maar die geld in die bewaar-komponent bly onaangeraak totdat jy aftree.
Die regering wil hiermee keer dat mense wat in finansiële nood is hul werk bedank net om toegang tot hul pensioengeld te kry.
Op 1 September vanjaar sal alle bestaande lede van pensioenfondse se spaar-komponent 'n aanvangsbedrag ontvang wat onttrek kan word. Dié bedrag sal 10% van die fondswaarde op 31 Augustus wees, of R30 000, afhangend van watter bedrag die laagste is.
Die geld wat pensioenfondslede einde Augustus reeds in aftreefondse het, sal aan 'n derde pot, die gevestigde komponent, toegedeel word. Net die 10% of R30 000 sal daaruit oorgedra word om die spaar-komponent vir eerste onttrekkings te finansier. Die minimum onttrekking is R2 000.
In die lig van onlangse tendense en ekonomiese druk, verwag FNB en Momentum Corporate elk nagenoeg 20% van hul kliënte sal geld onttrek, Old Mutual tussen 50% en 70% van lede wat kwalifiseer, Liberty dat sowat 70% genoeg geld in hul spaar-komponent sal hê, en Discovery Corporate and Employee Benefits (CEB) 50% van sy totale kliëntebasis.
Benewens die belastingimplikasies wat as 'n ontnugtering kan kom, is daar nog versteekte koste wat pensioenfondslede onkant kan betrap. Talle fondsadministrateurs sal 'n onttrekkingstarief van gemiddeld R350 per onttrekking hef en sommige beplan ook 'n bykomende maandelikse administrasieheffing.
John Anderson, uitvoerende hoof van oplossings en die bemagtiging van lede by Alexforbes, sê hul gelde word gehef op 'n glyskaal met 'n minimum van R100 en 'n maksimum van R600. Hy verduidelik as iemand net R2 000 in sy spaar-komponent het en 'n vaste transaksiebedrag van R350 word afgetrek, kom dit neer op 17%. As die persoon byvoorbeeld 10% belasting betaal, gaan hy minder as R1 500 in sy sak kry.
Alexforbes gebruik 'n glyskaal om 'n mate van kruissubsidiëring toe te laat sodat lede van aftreefondse wat 'n klein bedrag in hul spaar-komponent het, nie te swaar dra aan die koste nie.
Samukelo Zwane, hoof van produkte by FNB Wealth and Investments, sê FNB hef 'n vaste administrasiebedrag vir sy interne fondse. Dit word gehef as 'n persentasie van die bates wat op die FNB Platform geadministreer word. "As 'n kliënt geld uit die spaar-komponent onttrek, verminder die onderliggende bates en die administrasiebedrag sal gevolglik laer wees."
Daar is nie 'n bykomende heffing vir onttrekkings nie.
Michelle Acton, hoof van aftree-hervormings by Old Mutual, sê sowat 30% van sy lede sal nie kwalifiseer vir spaar-komponent-onttrekkings nie omdat hul huidige aftreegeld te min is om die minimum bedrag van R2 000 per onttrekking oor te plaas as aanvangsbedrag. Old Mutual sal vanaf 1 September 'n vaste transaksiebedrag in rand hef vir onttrekkings en sal kliënte inlig sodra daar finaal oor dié bedrag besluit is. Geen bykomende administrasiebedrag sal gehef word nie.
Sanlam sê in korrespondensie aan kliënte 'n transaksieheffing van R500 per plan is van toepassing op 'n onttrekking uit die spaar-komponent voor aftrede. Die randbedrag word deur regulatoriese maatreëls bepaal en kan in die toekoms verander.
Sanlam se tweepot-administrasieheffing is aanvanklik R15 per maand, en kan van tyd tot tyd styg om voorsiening te maak vir inflasie.
Nashalin Portrag, hoof van FundsAtWork & Distribution by Momentum Corporate, sê hul lede betaal 'n administrasieheffing wat 'n vaste persentasie van hul maandelikse salaris is of 'n vaste randbedrag. Dit bly onveranderd.
Guy Chennells, kommersiële hoof by Discovery CEB, sê administrasiegelde sal nie op 1 September aangepas word nie.
Om kliënte geld te bespaar, het onder meer Discovery CEB en Momentum Corporate digitale onttrekkingsopsies ontwikkel.
Chennels sê Discovery CEB gaan digitale en WhatsApp-onttrekkingsprosesse bied om dit so maklik moontlik te maak. Dit behels 'n geoutomatiseerde elektroniese betalingsproses wat nie menslike ingryping vereis nie.
Portrag sê lede wat die digitale kanale gebruik, sal 'n laer vaste heffing betaal. As hulle papiervorms moet invul, sal dié laer heffing nie geld nie.




















