Geldsake

Wag eers met BTW-plan vir skole, vra Saica

Talle skole verhuur hul geriewe soos skoolsale om ekstra inkomste in te vorder. Daarvoor is hulle vir BTW geregistreer. Maar die tesourie stel nou voor dat skole nie meer vir BTW geregistreer hoef te wees nie. Dit hou egter ’n eenmalige belastingaanspreeklikheid vir die skole in.
Talle skole verhuur hul geriewe soos skoolsale om ekstra inkomste in te vorder. Daarvoor is hulle vir BTW geregistreer. Maar die tesourie stel nou voor dat skole nie meer vir BTW geregistreer hoef te wees nie. Dit hou egter ’n eenmalige belastingaanspreeklikheid vir die skole in. (Foto: Volksblad)

Die tesourie se voorstel om skole vry te stel van BTW-registrasie vir nie-opvoedkundige aktiwiteite behoort eers onttrek te word sodat beter met die geraakte skole gekonsulteer kan word.

Dít is die voorstel van die Suid-Afrikaanse Instituut vir Geoktrooieerde Rekenmeesters (Saica).

Pieter Faber, senior bestuurder vir belasting by Saica, het die parlement se staande komitee oor finansies gewaarsku die verandering raak nie slegs private skole nie, want daar is heelwat staatskole wat ook bedrywighede het om ekstra geld in te vorder waarvoor hulle vir BTW geregistreer is.

Die tesourie se voorstel in vanjaar se wysigingswetgewing oor belastingadministrasie is dat skole van 1 Januarie 2026 nie meer vir BTW geregistreer hoef te wees nie.

Faber meld die tesourie se bedoeling is nie kwaadwillig nie, maar dit kan onbedoelde negatiewe gevolge vir skole inhou.

BTW-wet ag deregistrasie as verkoop

Die deregistrasie vir BTW word ingevolge die BTW-wet beskou as dat die entiteit dan sy bates verkoop waarmee hy BTW-verwante aktiwiteite uitgevoer het. En dan het dit ’n eenmalige belastingimplikasie vir die betrokke skool.

Faber sê die probleem is die tydsberekening. Skole het al hul begrotings vir die komende jaar opgestel. Hy stel voor die voorstel word onttrek totdat skakeling met die geraakte skole afgehandel is. Die Suid-Afrikaanse Inkomstediens (SAID) moet ook verkieslik eers presies uitwerk wat elke skool kan verwag om te moet opdok.

Geen druk vir dié verandering

Volgens Faber is daar meer denke nodig oor dié voorstel, want daar is tog nie druk dat die deregistrasie vir BTW onmiddellik gedoen moet word nie.

Dit is nie net private skole wat geraak word nie, want baie staatskole word weens die beperkte onderwysbegroting gedwing om bykomende inkomstebronne te soek.

Skole probeer hul inkomste aanvul deur hul sale en sportgeriewe te verhuur of om skooluniforms en sportklere of ander produkte te verkoop. Daarvoor moet hulle vir BTW registreer sodra die waarde van wat hulle verkoop meer as R1 miljoen bedra.

Die bedoeling van die tesourie om skole ten volle van BTW vry te stel is om die administratiewe las op skole te verlig. Suiwer onderwysverwante bedrywighede is reeds van BTW vrygestel.

Faber se pleidooi is gelewer gedurende die staande komitee oor finansies se openbare sitting oor vanjaar se wysigingswette oor belasting wat al die administratiewe en tegniese wysigings in die belastingstelsel behels wat die tesourie en die SAID wil aanbring.

Dr. Joe Maswanganyi, voorsitter van die komitee, het aangedui die tesourie en die SAID sal op die komitee se vergadering op 4 November op al die openbare kommentaar reageer.

Bowmans waarsku ook

Die regsfirma Bowmans se belastingafdeling het ook al gewaarsku die voorgestelde wysiging sal ’n kontantvloeiprobleem vir skole skep.

Die probleem met die tesourie se voorstel is volgens Bowmans dat daar nie wat betref die berekening van die bates van die skool duidelike onderskeid getref word nie. ’n Skool sal byvoorbeeld sy skoolsaal uitverhuur en net 5% van die koste terugeis omdat die skoolsaal grootliks vir BTW-vrye onderwysdoeleindes gebruik word. Maar met die berekening van die skoolbates kan dit gebeur dat die skool nou eenmalig BTW moet betaal op die volle waarde van die skoolsaal. Volgens Bowmans lyk dit nie asof die tesourie voorsiening maak vir proporsionele toekenning van BTW-aanspreeklikheid vir sulke bates wat vir sowel onderwysdoeleindes as inkomstedoeleindes gebruik word nie.

Volgens Bowmans het die tesourie se ongekende voorstel behoorlik konsternasie onder veral private skole veroorsaak.

– francois.williams@24.com

CTA