Geldsake

Word geldslim sonder smouse wat pla

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister
Smart About Money verduidelik die produkte en dienste wat die spaar- en beleggingsbedryf bied, maar gee nie advies of riglyne nie. Foto: iStock
Smart About Money verduidelik die produkte en dienste wat die spaar- en beleggingsbedryf bied, maar gee nie advies of riglyne nie. Foto: iStock

Uiteindelik. 'n Webblad vol inligting oor geldsake en beleggings sonder enige advertensies, sonder polissmouse wat jou teister om iets te koop wat jy nie wil hê nie.

Hier is al die inligting - neutraal aangebied - sodat jy self kan besluit.

Die webblad Smart About Money is 'n nuwe inisiatief van die Vereniging vir Spaar en Beleggings (Asisa) om mense aan te moedig om beter besluite oor hul geldsake te neem.

Die blad het nuttige artikels oor enigiets van boedelbeplanning, begrafnispolisse en aftreebelegging tot lewensversekering.

Daar is ook video's wat verduidelik hoekom effektetrusts 'n goeie belegging is, wat al jou opsies is wanneer jy aftree en hoe die onderskrywingsproses werk.

Smart About Money gee onbevooroordeelde inligting oor beleggings en spaar, sonder een enkele advertensie.
Smart About Money gee onbevooroordeelde inligting oor beleggings en spaar, sonder een enkele advertensie.

'n Aantal nuttige rekenaars kan jou help om te bereken hoeveel inkomste jy kan verwag om uit 'n lewende annuïteit te verdien, en hoe om 'n begroting op te stel.

Die blad is geskep as 'n inisiatief van die bedryf om akkurate, onbevooroordeelde inligting in maklik verstaanbare taal oor gereguleerde finansiële produkte en dienste aan verbruikers te gee, verduidelik Leon Campher, uitvoerende hoof van Asisa.

Asisa is die verteenwoordigende instelling vir batebestuurders, effektetrustbestuurders, lewensversekeringsmaatskappye en soortgelyke beleggingsmaatskappye.

"Smart About Money verduidelik die produkte en dienste wat die spaar- en beleggingsbedryf bied, maar gee nie advies of riglyne nie. Dit moedig gebruikers aktief aan om hul nuutverworwe kennis aan te wend om 'n betekenisvolle gesprek met hul finansiële adviseurs te hê voordat hulle produkte koop," sê Campher.

Die webblad word kollektief deur lede van Asisa gefinansier, maar verbruikers word nie met enige advertensies op die blad geteiken nie.

Die blad is dus ontwerp om nie enige handelsnaam te bevorder nie, en dit bring uiteindelik alle belanghebbers in die finansiële sektor saam.

'n Onafhanklike span inhoudskeppers en ontwikkelaars is aangestel om 'n gebruikersvriendelike webblad te skep met inhoud wat maklik verstaanbaar is.

Asisa se senior beleidsadviseurs het die inhoud vir akkuraatheid nagegaan, belowe Campher.

Die inhoud van die blad sal aangevul word en die span werk reeds aan 'n lang lys toekomstige artikels.

Onder die hofie "Spaar en beleggings" kan lesers uitvind oor die basiese beginsels van belegging, hoe kollektiewe beleggingskemas werk, asook effektetrusts, beursverhandelde fondse en verskansingsfondse.

Onder versekering kan jy lees oor lewensversekering, inkomstebeskerming, dekking vir ernstige siekte, begrafnisdekking, groeplewensdekking, kredietlewensdekking en ongeskiktheidsdekking.

Onder die hofie "Aftrede" word die proses verduidelik in aanloop tot jou aftrede en jou opsies daarna.

Die aanlyn rekenaars en "Gereedskap"-hofie bied 'n vraelys om:

  • jou finansiële gesondheid te bepaal,
  • 'n begrotingsbeplanner,
  • hoe om jou terugbetalings te bereken as jy skuld het,
  • 'n spaardoelwit-rekenaar,
  • hoeveel jy uit 'n lewende annuïteit kan onttrek,
  • hoeveel jy tot aftrede kan bydra om belasting te bespaar, en
  • 'n baie nuttige en volledige gids om uit te vind waarin elk van die honderde effektetrusts in Suid-Afrika hul geld belê en hoe hulle geklassifiseer word.
CTA