Die eienaars van kleinsakeondernemings lê wakker oor die onsekerheid in aanloop tot die verkiesing op 29 Mei.
Dit blyk uit die kwartaallikse indeks van sakevertroue van kleinsake deur Business Partners vir die laaste kwartaal van 2023.
Die respondente is in 'n peiling gevra of hulle bekommerd is dat ekonomiese onstuimigheid en protesoptrede gedurende die verkiesingstyd 'n impak op hul bedrywighede sal hê. Bykans die helfte (49%) het "ja" geantwoord.
Sowat 33% van die respondente was van mening dat die verkiesing broodnodige verandering sal meebring.
Die hoogs bestrede 2024-verkiesing sal vir die eerste keer die deelname van onafhanklike kandidate insluit. Die groot aantal politieke partye, sowel as die onsekerheid oor die ANC se meerderheid, dra tot die nasionale onsekerheid by, blyk uit die peiling.
David Morobe, hoofbestuurder van impakbelegging by Business Partners, glo dis die blote aard van verkiesings dat dit ontwrigtend kan wees en 'n risiko vir kleinsakeondernemings op grondvlak inhou omdat regerings beleggings uitstel in aanloop tot die verkiesing.
Die indeks meet die afgelope 11 jaar kleinsakevertroue.
Die vertroue van kleinsake-eienaars dat hul ondernemings oor die volgende 12 maande sal groei, is 14 persentasiepunte hoër as 'n jaar gelede, maar slegs 0,7 van 'n persentasiepunt hoër as in die vorige kwartaal.
Daar was 'n styging van vier persentasiepunte in die vertroue dat die ekonomie bevorderlik vir sakegroei sal wees oor die volgende 12 maande.
"Dit is dus regverdig om te sê dat die algemene sentiment onder kleinsakeondernemings tentatief optimisties is in die lig van die verskeie uitdagings in die ekonomiese landskap. Dié optimisme sal egter waarskynlik, met verkiesingsdag wat vinnig nader kom, gedemp wees," sê Morobe.
Ondanks pogings om Eskom se opwekkingsvermoë te herstel en noodoplossings in te stel, is die skade skynbaar reeds gedoen.
Kleinsakeondernemings het minder vertroue gehad dat die regering genoeg doen om kleinsake-ontwikkeling te kweek. Dié aanduider het met nege persentasiepunte jaar op jaar geval - interessant genoeg die enigste aanduider wat 'n afswaai getoon het in vergelyking met die vorige jaar.
Beurtkrag is volgens die peiling 'n reuse-terugslag vir kleinsakeondernemings.
Respondente is gevra of die klein verlaging in die fases van beurtkrag 'n aansienlike verligting bied van hul bokoste en winsgewendheid. Slegs 17% van ondernemings het gesê hulle was in staat om 'n mate van hul wins in dié tyd te herstel; 'n verdere 22% het gesê hulle kon spaar, maar net marginaal; terwyl 32% gesê het hulle was in staat om net gelyk te breek.
Beurtkrag het 'n negatiewe impak op 60% van klein ondernemings gehad. "Ondanks pogings om Eskom se opwekkingsvermoë te herstel en noodoplossings in te stel, is die skade skynbaar reeds gedoen."
Die drie grootste uitdagings van kleinsake is kontantvloei, ekonomiese toestande en finansiering.











