
"Ek is nie goed met naaldwerk nie. Ek kan skaars 'n knoop behoorlik aanwerk. So, jy kan dink, ek is totaal oorbluf dat ek my eie klerereeks in Pick n Pay-klerewinkels gaan sien."
Ilsé Vincent (32), 'n blommerangskikker en -ontwerper van Wellington in die Wes-Kaap, skud haar kop. "Ek kan dit nou nog nie glo nie. Ek kan eintlik ook nie teken nie, maar ek is darem kreatief. Ek hou van ontwerp en weet wat lyk mooi."
Vincent, kleintyd al op foto's waar sy 'n freesia of affodil uit haar ouers se tuin in Kakamas vashou, sê dit is juis haar liefde vir blomme wat die deur geopen het na Pick n Pay Clothing se Futurewear-mentorskap. Haar ILSé-reeks, The Language of Flowers, word van môre in 40 winkels landwyd verkoop.
Sy vertel as sy iets moois vir die huis of klere moet kies, is dit altyd die kussing of kledingstuk met 'n blom-motief.
"Elke blom vertel 'n storie en dit is wat ek met my blommerangskikkings, en nou my klere, wil regkry."
Pick n Pay Clothing bied die program die afgelope vyf jaar in samewerking met die bekende ontwerper Gavin Rajah aan.
Hazel Pillay, uitvoerende hoof, sê die inisiatief skep 'n platform vir jong, kreatiewe ontwerpers wat die modebedryf wil betree of hul versameling wil uitbrei.
Hulle hoef nie mode-ontwerpers te wees nie, maar moet vanuit 'n ontwerp-perspektief 'n sterk estetiese aanslag hê, en die vermoë om hul ontwerpe om te skakel in kommersiële silhoeëtte.

Vincent sê vir die reeks het sy blomontwerpe van speldekussings en strelitzias gekies wat nie altyd Suid-Afrikaners se gunstelinge is nie. "Só bring ek hulde aan Suid-Afrika se inheemse blommeryk."
Die reeks, in skakerings van oranjes, subtiele aardse kleure en sagte pistachiogroen, weerspieël die skoonheid van die Suid-Afrikaanse landskap.
Vincent sê die klem is op gemak in 'n materiaal met 'n linne-basis. Sy bedryf die afgelope nege jaar haar eie onderneming, Blomstories, in Wellington van waar sy blomme vir troues en ander spesiale geleenthede doen van die Paarl tot in Plettenbergbaai.
Vincent het op 'n dag met digitale ontwerpe begin speel toe sy muurpapier vir hul kombuis wou ontwerp. Sy het dit so geniet dat daar vinnig baie afdrukke was.
Toe sien sy aansoeke is oop vir die 2024-Futurewear-program en skryf in. Rajah sê uit die onderhoude was dit duidelik Vincent het 'n oog vir detail en 'n visie. Haar reeks is 'n toonbeeld van wat vroue wil dra.
Pillay sê die jong ontwerpers wat gekies word, leer meer oor die kommersiële aspek om klere vir hoofstroomverbruikers te maak en oor plaaslike vervaardiging. Die program lei uiteindelik tot 'n eie reeks wat in Pick n Pay Clothing-winkels verkoop word.

Onder die 10 ontwerpers wat tot dusver ondersteun is, is Kiav Mitoo, 'n grafiese ontwerper wat in 2023 deelgeneem het. Binne 'n jaar het sy lewe verander van dié van 'n student tot 'n ontwerper wie se reeks T-hemde uitverkoop is.
Julia Buchanan, wat as deel van die program haar eie swemklere-reeks gehad het, is nou 'n mentor vir jong ontwerpers.
Volgens Vincent het sy baie geleer oor hoe om 'n handelsnaam te bou en kon sy leer uit haar foute in 'n veilige omgewing waar ervare mense haar ondersteun.
Sy werk nou aan 'n nuwe reeks onder haar ILSé-handelsnaam wat in Desember op die loopplank by die Cape Town Resorts Collection te sien sal wees.
"Ek is gek oor detail en die reeks gaan tossels, blinkertjies en krale hê!"
Intussen gaan sy voort met Blomstories se unieke skeppings vir troues, spesiale verjaardae en geleenthede. Sy het twee werkers wat help met die klerereekse en enigiets tussen vyf en 25 mense met die blomme, afhangend van hoe groot die geleentheid is.
Sy stel mense uit die gemeenskap aan. Een van die vroue wat vir haar werk, was 'n skoonmaker en die ander het in 'n viswinkel gewerk.
Vincent sê sy het deur die Futurewear-program baie geleer van haar ouers, Elaine en Marius Louw. Hulle is sakemense in eie reg met pakhuise en verkoelingsgeriewe vir uitvoervrugte.










