Aartappelpryse gaan vir 'n tyd lank aan die hoër kant bly en veral van middel September af gaan mense dit beslis aan hul beursies begin voel.
Teen einde September sal 'n mens tot gemiddeld R100 moet betaal vir 10 kg aartappels. Dié hoë pryse sal waarskynlik tot die einde van die jaar geld.
Dit word grootliks toegeskryf aan die swartryp wat Limpopo in Julie vanjaar getref het
Dít blyk uit die lente-uitgawe van die Absa Agri Trends-verslag wat Woensdag uitgereik is.
Ondanks 'n waarskynlike ooraanbod in die mark in vroeg November, sal aartappelpryse hoog bly tot einde vanjaar weens die groter vraag, lui die verslag.
Aanstaande jaar sal pryse na verwagting ietwat verlangsaam, iets wat verder versterk sal word met die risiko's rondom beurtkrag wat moontlik uit die waardeketting kan verdwyn.
"Gegewe die belangrikheid van die informele sektor en laerinkomstehuishoudings in die vraag na groente, sal die struktuur van maatskaplike toelaes, wat moontlik in 2025 kan verander, waarskynlik ook 'n beduidende impak op pryse hê.
"Ons verwag dus dat die prysgroei oor die komende drie jaar baie meer gedemp sal wees as wat oor die laaste drie jaar ondervind is," lui die verslag.
Met Limpopo wat in die tweede helfte van die jaar die grootste deel van die land se groente - en veral aartappels - verskaf, kan groente-inflasie luidens die verslag bes moontlik weer momentum kry in die nuwe jaar.
Die probleme rondom aartappels het ontstaan toe swartryp groente- en vrugteproduksie in Limpopo in die eerste week van Julie getref het. Ná 'n tydperk van relatief matige winters met min ryp, het die jongste rypskade die risiko's rondom klimaatsverandering weer beklemtoon, lui die verslag.
Dr. Johan van Berg, meteoroloog, sê in 'n winter met bogemiddelde temperature soos dié wat vanjaar tot einde Junie ervaar is, is plante meer sensitief vir ryp. Die plante is dan nie geakklimatiseer vir konstante laer temperature wat veerkragtigheid verhoog nie.
Dit blyk luidens die verslag die ryp van 7 en 8 Julie vanjaar was tydens die laagste temperature wat die afgelope 20 jaar aangeteken is.
Nog 'n kwessie wat luidens die verslag aan klimaatsverandering verbind word, is droogte en die beskikbaarheid van water.
"Die Sandveld-streek in die Wes-Kaap word deur 'n potensiële waterkrisis in die gesig gestaar weens die departement van water en sanitasie se voorgestelde vermindering in wateronttrekking om plaaslike waterreserwes te beskerm.
"Potato SA raam dat dit daartoe kan lei dat tot 30% van die grond wat tans vir aartappelverbouing gebruik word uit produksie gehaal sal word. Dit kan ook aartappelpryse die hoogte laat inskiet."
Ofskoon watervlakke sedert 2022 herstel het, kan die voorgestelde beperkings boere verder uitdaag en die aartappelprys beduidend verhoog, lui die verslag.
Aanvraag
Verskeie faktore, waaronder die maatskaplike verligtingstoelae (SRDG) wat in Mei 2020 ingestel is, het 'n belangrike rol gespeel in die ondersteuning van lae- inkomste-huishoudings. Dit het ook 'n kritieke deel uitgemaak van die basis aanvraag na stapelvoedsel en groente. Aartappelpryse was in middel 2022 onder druk. "Ons beskou dit as 'n effek van die opskorting van die SRD-toelae in April en Mei 2022. Hoewel dit in Junie 2022 weer ingestel is, het die uitwerking daarvan gebly tot die derde kwartaal van 2022."
Die toelae is later tot Maart 2025 verleng.
"Met die aard van die toelae wat moontlik in 2025 gaan verander, saam met die feit dat sowat 9 miljoen mense dit kry, kan die vraag na asook die pryse van groentee in die toekoms voor aansienlike veranderings te staan kom."
Aanvraag is luidens die verslag ook geraak deur laer uitvoer, met die uitvoer van belangrike groentesoorte wat oor die afgelope twee jaar gedaal het. Dié dalings is hoofsaaklik weens die verbod op invoer deur buurlande soos Botswana, Namibië en Zimbabwe.





















