Landbou

Dit gaan klopdisselboom!

Met boere wat aanplant en opbrengste wat positief lyk, is die aartappelbedryf opgewonde oor die jaar se resultate.
Met boere wat aanplant en opbrengste wat positief lyk, is die aartappelbedryf opgewonde oor die jaar se resultate. (Foto: )

As ’n stapelvoedsel in Suid-Afrikaanse huishoudings, sal daar altyd ’n mark vir aartappels wees – en ons plaaslike produsente het die vermoë om hierdie mark vol te hou. Suzaan Potgieter het met Aartappels SA se FP Coetzee oor die bedryf gesels.

Die aartappelbedryf is baie positief oor sy toekoms en glo dat danksy nuwe tegnologie en die produsente se vermoë om beter te produseer, daar beslis hoër­ opbrengste in die toekoms gaan wees.

FP Coetzee, Aartappels SA (ASA) se hoof van inligting, sê dat sowat 80% van die aartappelproduserende streke vanjaar meer aartappels aangeplant het.

“In 2023 was die hektare laag en in 2024 het dit vermeerder, maar die ryp het die opbrengste geaffekteer en vanjaar het produsente meer aangeplant.

“As jy na die langtermyntendens vir die afgelope 30 jaar kyk, het produsente minder hektare aangeplant, maar die opbrengste het gestyg. Die korttermyntendens is dat daar hierdie jaar meer as verlede jaar aangeplant is. Dit wissel van jaar tot jaar,” sê hy.

“Ons soek markaandeel en ons glo dit is die produk van die toekoms. Dit is die stapelvoedsel van die groentebedryf – die hoof-een – en ons moet ’n nasie voer. Daar is nie ’n ander stapelvoedsel wat so ’n hoë opbrengs per hektaar lewer nie.”

Pryse wisselvallig, maar goed

As daar gekyk word na die afgelope paar jaar se pryse, kan jy duidelik sien dat hierdie gewas sedert ’n laagtepunt in 2020 net gegroei het.

In 2020 was die gemiddelde prys vir ’n 10 kg-sakkie R37,75, in 2021 was dit R43,47, 2022 het R42,30 behaal en 2023 se prys was nog die hoogste op R64,38. Verlede jaar het ’n sakkie aartappels gemiddeld R62,03 behaal en die vyfjaargemiddelde is R49,99.

Met die jaar wat nog nie op sy rug is nie, is die gemiddelde prys vir aartappels vir 2025 tot op hede R59,23 per sakkie.

“Die prys is nou laer as wat dit hierdie tyd in 2022 was, wat ’n hoëvolumejaar was en pryse was dus onder druk.

“Die eerste gedeelte van 2025 was ’n baie goeie jaar in terme van prys en ons het goed gedoen, maar in die middel van Mei het pryse begin plunder na ’n laer gemiddelde.”

Met aartappels wat reg rondom die jaar in Suid-Afrika se 16 aartappelproduserende streke geproduseer word, is die prys baie wisselvallig weens die produksietye.

Bedryf nie sonder sy kwessies

Met klimaatsverandering en veranderende seisoene wat altyd ’n probleem in landbou is, affekteer dit ook die produksie en marktoegang vir die aartappelbedryf.

Volgens Coetzee was die plantseisoen in dele van die Vrystaat en die Noord-Kaap vanjaar baie uitdagend, maar dat gemiddeld tot bo-gemiddelde oeste steeds in ander streke aangeteken is.

“Die plantseisoen aan die begin van die jaar was baie uitdagend. Eers was dit droog en die produsente, soos in die Oos-Vrystaat, wat droëland geplant het, se oeste is ’n bietjie swak. Toe met die tweede deel van aanplantings kry hulle baie reën en die produsente het gesukkel om die aartappels uit te haal, maar dié opbrengste was toe hoër.

“En daai klomp reën en vakansiedae in April het ’n bottelnek veroorsaak,” sê hy.

Van die uitdagings vorentoe wat hy sien, is die hitte wat tans ’n probleem kan wees, want dit was die afgelope naweek reeds 36 °C in Limpopo.

“Hitte veroorsaak probleme met die aartappels se raklewe en dit kan ’n negatiewe effek op die mark hê.”

Mot en ander siekte en plae kan ook nou begin uitkom wat die boer se uitpakpersentasie negatief kan affekteer.

Daar is ook tans probleme met sekere gifstowwe wat dalk van die mark verwyder gaan word en volgens Coetzee kan dit ’n groot probleem veroorsaak as dit plaasvind en produsente nie gou genoeg kan aanpas nie. Dit kan ’n negatiewe impak op opbrengste na die bedryf bring.

Aartappel Suid-Afrika sê daar sal altyd aartappels in die mark wees.
Aartappel Suid-Afrika sê daar sal altyd aartappels in die mark wees. (Foto:)

Uitvoer affekteer nie die bedryf

Met die meerderheid van Suid-Afrika se landboubedrywe wat in rep en roer is oor tariewe, is dit een van die kommernisse wat aartappelprodusente nie in die gesig staar nie.

“Ons voer nie aartappels uit na die VSA nie, so hul tariewe het nie ’n direkte effek op ons nie. Dit kan egter sekondêre en tersiêre effekte hê,” sê Coetzee.

Hy sê dat ongeveer 6/7% van Suid-Afrika se aartappelproduksie na buurlande in Afrika uitgevoer word. Buiten vir die vars produk word saad en verwerkte aartappels ook uitgevoer.

Verlede jaar het Suid-Afrika 135 688 996 kg vars aartappels uitgevoer met Mosambiek as die grootste invoerder van ons plaaslike aartappels.

Dis egter nie nét vars aartappels wat die land verlaat nie met 9 074 289 kg verwerkte aartappels, wat skyfies, tjips en wiggies insluit, wat in 2024 uitgevoer is.

Hoop vir toekoms

Danksy beter pryse, sien die bedryf ’n toename in aanplantings van aartappels.

“Die boere plant meer en dit is te verwagte, want die afgelope twee jaar was daar uitstekende pryse vir aartappels.

“Die bedryf doen goed en dit motiveer ook nuwe toetreders om by die bedryf aan die produksiekant aan te sluit,” sê Coetzee.

Hy voorspel ook dat daar vanjaar meer as genoeg aartappels in produksie sal wees – nie soos verlede jaar en vroeër vanjaar wat paniek gesaai is oor die opbrengste wat laer as die vyfjaargemiddelde was nie.

“Daar mag dalk tye wees waar daar minder aartappels is, maar daar sal altyd genoeg vir die mark wees en vir almal om te gebruik.

“Ons voorsien dat daar nou heelwat aartappels in die mark gaan inkom,” sê hy.

Limpopo is ook nie vanjaar deur die swartryp getref soos verlede jaar nie en daar sal dus goeie oeste en aansienlik meer aartappels in die mark wees.

Die bedryf kan ook uitsien na meer uitvoergeleenthede namate die opbrengste groei.

“Ons verwag groei as dit kom by opbrengste en werk hard daaraan om nuwe uitvoermarkte te kry en goeie verhoudings met die SADC-lande te vestig. Ons aartappels gaan na Mosambiek, Botswana, Namibië en diep in Afrika in.

“Ons praat ook met Rusland en ons het ’n geleentheid om volgende jaar van Maart tot Julie 50 000 ton na hulle uit te voer.”

(No Credit)

Volop

Aartappels in Suid-Afrika word in 16 streke geproduseer en ons is een van die enigste lande in die wêreld wat daagliks vars produk op die mark neersit.

Daar word gemiddeld 350 000 sakkies aartappels per dag verkoop.

Alhoewel die voorraad wissel afhangend van die produksietyd van die jaar, is daar altyd genoeg aartappels beskikbaar.