Vele Suid-Afrikaanse sektore is besig met aanpassings nadat die VSA se nuwe tariewe in werking getree het. Onder die planne wat die wynbedryf maak, is hoe om skaars aanplantings – ’n groot dryfveer van pionierswerk – en die uitbreiding van wyntoerisme volhoubaar te maak en winsgewend uit te bou.
Produsente plant al hoe meer kultivars wat minder algemeen in Suid-Afrika is, om nie net iets anders vir wynliefhebbers te bied nie, maar ook om nuwe geleenthede te ontsluit.
Een van dié skaars kultivars is vermentino deur die Ayama-wyn-olyf-en-artisjokplaas in die Voor-Paardeberg. Die plaas het onlangs die land se eerste Vermentino Cap Classique vrygestel.

Verandering is goed
Pionierswerk is egter nie ’n maklike pad nie, maar ’n positiewe ingesteldheid is nodig, soos wat Riaan Möller, keldermeester by MAN Vintners en voorsitter van Shiraz SA, by die onlangse jaarlikse Shiraz-uitdaging in die Paarl gesê het.
“In hierdie tye van onsekerheid, sal gehalte altyd seëvier en ons is hier om te volhard.
“Ons is landbouers en ons bou. Die bedryf het oor die jare baie uitdagings gehad, maar ons sal hierdie ook oorkom.”
En uitdagings is daar beslis vorentoe, soos landbouminister John Steenhuisen by die pas afgelope SA Terroir-pryse op Stellenbosch beklemtoon het. “Ons weet nie waarheen die wind ons gaan waai nie, maar ek dink ons moet vasgord: Die volgende drie of vier jaar gaan wild wees. Ons moet hierdie uitdagings – soos hoër tariewe – navigeer.
“Ons praat met ons Amerikaanse invoerders en laat hulle verstaan dat Suid-Afrikaanse wyne die beste is. Waar ek ook al in die wêreld reis, assosieer mense Suid-Afrika met Nelson Mandela en ons wonderlike wyne. Wie wil nou ’n Chileense of Argentynse wyn in jou glas hê as jy Suid-Afrikaans kan drink?
“Hul verbruikers gaan onder verhoogde tariewe ly, maar ons moet ook na nuwe markte kyk – tariefvrye markte soos China en die Afrika-kontinent onder meer.”
Skaars kultivars verg egter waagmoed.
By ’n onlangse bekendstelling van Brookdale-wynlandgoed se rooiveldversnit waarin 20 kultivars deurmekaar geplant is, het Xander Sadie, die nuwe wynmaker, gesê die meeste mense is net die sewe bekendste druifsoorte gewoond omdat “ons die hele wêreld daarmee beplant het”.
“En daarom is mense uiters bang as hulle ’n kultivar teëkom wat nie een van daardie sewe is nie. Ons verwelkom dit weer,” vertel hy.
Xander is die bekende Swartland Independent-wynmaker Eben Sadie se seun en om andersdenkend te wees loop dus in sy bloed.
Brookdale se veldversnitte het baie skaars kultivars, maar petit manseng, bastardo en counoise staan veral uit.
’n Tikkie Italiaans in die Paarl
Maar terug by vermentino en Ayama, wat sedert 2005 deur twee Italiaanse families in die noorde van Italië besit word. Afrika – en die wêreld – se enigste Vermentino Cap Classique plaas hulle in die kollig.
Die plaas produseer Vermentino Cap Classique sedert die 2023-oesjaar en het die eerste een in Desember 2024 vrygestel, met ’n tweede bottelering in Junie vanjaar.
As ’n eerste eksperiment van vermentino-vonkelwyn, het die wynmaker, Chiara Fabietti, besluit om hierdie eerste oesjaar in twee afsonderlike bottelerings te verdeel. Die helfte is vir 12 maande op die gismoer verouder; die ander helfte vir 18 maande, om die uitdrukking van twee verskillende weergawes van hierdie variëteit te evalueer.
Fabietti se proenotas vertel die volgende: “Die 12-maande-op-gismoer-weergawe het die tipiese aroma van vermentino – sitrusnote, wit blomme, tiemie en ’n ligte vrugtige ondertoon – ongeskonde behou. Dis mineraalagtig en vars op die tong, met ’n sagte en volronde finale gisnoot op die neus.
“Die 18-maande-op-gismoer-weergawe kombineer die evolusie van haselneut met aromatiese varsheid, wat ’n afgeronde kompleksiteit aan die neus en die tong gee. Dis ’n heerlike broodkorsie-geur op die nasmaak.”
Maar voor ons nou die kar voor die perde inspan, hoe op aarde het ’n tipies Italiaanse druifsoort in die Paarl beland en wie is die mense agter dié handelsmerk? Ayama is die Xhosa-woord vir iemand om op te leun. Dit versinnebeeld die vriendskapsbande van die twee Italiaanse paartjies uit die Friuli-streek wat hier saam met die ervaring van Suid-Afrikaners wou deel word van die reënboognasie.
Hul logo is ’n luiperd omdat hulle deel is van die Kaapse Luiperdtrust, wat gereeld ses luiperds op die plaas in die fynbos op kamerastrikke gewaar.
Die plaas is die afgelope 20 jaar in Italianers se besit en benewens die Italiaanse vermentino, waarvan die eerste stokke in 2014 geplant is, is daar nou ook nero d’avola aangeplant. Ander kultivars wat in die geil grond gedy, is grenache blanc, grenache noir, noir, durif (petite sirah), carignan, chenin blanc, viognier, shiraz, merlot, pinotage en muskaatkultivars.
Die olyfboorde is met die Italiaanse variëteite van frantoio, leccino en coratina beplant en die artisjoklande omsoom die plaas. Die Siciliaanse artisjok-variëteit violetto het uiters goed aangepas teen die hange van die Voor-Paardeberg en san marzano-tamatie floreer ook hier.
’n Nuwe tuiste vir vermentino
Giuseppe di Benedetto, bemarkingsbestuurder en Fabietti se lewensmaat, het vier jaar gelede die bestuurleisels van Ayama oorgeneem en die ervaring wat hulle elders in die wêreld opgedoen het, hier kom inspan.
Vandag spog die voormalige wyndruifplaas ook met sy eie kelder, ’n restaurant en gastehuis, ’n ware voorbeeld van hoe agritoerisme jou naam op almal se lippe kan hou.
Onder hul leiding is pastamaak-klasse, Italiaanse feeste en artisjok-pluk nou gewilde geleenthede.
“Vermentino is ’n semi-aromatiese wit druifsoort wat ook in Ligurië (Italië) verbou word, waar dit Pigato genoem word en in Piedmont (Italië) waar dit bekend staan as Favorita, in Provence en Languedoc-Roussillon (Frankryk) waar dit as Rolle gemerk word, maar dit is in Sardinië (Italië) waar dié druif in sy ideale habitat floreer.
“Vermentino word as inheems aan Sardinië beskou, waar dit wyd verbou word en diep historiese wortels het. Dit is egter onmoontlik om te sê of die Romeine vermentino na die eiland gebring het en of dit inheems aan Sardinië is,” sê Di Benedetto.
Volgens die Suid-Afrikaanse Wynbedryfinligting en -Stelsels (Sawis) is daar tans slegs 13,18 ha vermentino in die land. Altesaam 6,24 ha is in die Paarl geplant.
Die laaste aanplantings was in 2023 toe 1,01 ha in die Breedekloof aangeplant is.
In dieselfde jaar is 0,08 ha in die Kaapse suidkus-streek uitgetrek.
Eerste stokkies tref die grond
Op 13 November 2014 vergader ’n groepie media op Ayama. Ons maak vir die eerste maal kennis met die plaas. Min het ons geweet dat ons deel van geskiedenis – en van die land se eerste vermentino-aanplantings gaan word.
Die hoofdoel vir die dag was om vermentino-stokke as deel van ’n totale twee hektaar te plant.
Die uitsigte van daar bo-oor die vallei aan die voet van die Paardeberg is vaal en droog.
Dit is sowat 35 km van die Atlantiese Oseaan, maar die westelike kus en suidelike windjie maak dit in die somer ongeveer 5 grade koeler as in die Paarl.
Die wingerde van Ayama-plaas is onderhewig aan ’n groter daaglikse temperatuur-uiterste, waar die baie kouer nagte die bessies tyd gee om af te koel en hul suur en varsheid te behou.
Die hoër wingerde trek ook later in die dag voordeel uit skaduwee, wat hulle teen die skerp laatmiddagson beskerm.
Dit beteken dat die wyne van Voor-Paardeberg – hoewel steeds robuus en aromaties – intens, dikwels effens helderder en varser is as hul Paarl-eweknieë.
“Wingerde hoog op die berg trek voordeel uit goed gedreineerde, kaliumryke gronde wat amper geheel en al uit graniet bestaan. Kalium is ’n belangrike voedingstof vir wingerdgesondheid, wat tesame met diep wortelstelsels, sorg vir gesonde, sterk wingerdstokke. Verder af teen die hange dra klei, skalie en graniet almal by tot ’n effens laer kwaliteit grondsamestelling.
“Die keuse om vermentino in Voor-Paardeberg te kweek, is te danke aan die ooreenkomste van hierdie omgewing met die Sardiniese elemente, in terme van rotsagtige grond, die see-invloed, son, wind en ’n droë klimaat.
“Om hierdie redes het ons besluit om vermentino te plant op die hange van die Paardeberg, wat Tafelberg en die oseaan in die verte kan sien,” word vertel.
So plant elkeen van die groep vyf stokke en ons name word op die paaltjie neffens ons stokke aangebring. Die wingerdstokke groei met ’n Guyot-traliestelsel en kry drupbesproeiing.
Hierdie stokkies was twee jaar in kwarantyn en hulle het beplan om teen 2017 hul eerste oes te hê.

’n Dekade later
Twee jaar gelede hoor ons jy kan gaan artisjokke pluk en lekker middagete daar geniet. Ons neem vriende en het ’n heuglike dag op die plaas, maar niemand weet van die destydse wingerdplant waarby ons betrokke was nie en weer word dit deel van heerlike herinneringe.
Draai die horlosie na Junie 2025 en Ayama stel hul nuwe Cap Classique bekend en ’n bottel van dié wyn word by ons afgelewer.
Met die oplees van Fabietti se storie, is dit duidelik waarom sy so kundig met hierdie kultivar werk. Sy het wynkunde in Italië en Bordeaux, Frankryk, gestudeer en in Italië en Nieu-Seeland gewerk, en het meer as 20 jaar se wynmaak-ondervinding.
Sy het onder meer vir agt jaar vermentino in Italië geproduseer voor sy haar ervaring vier jaar gelede na Suid-Afrika gebring het.
Sy het ’n plaas in die kusgebied tussen Rome en Napels bestuur en daar intensief met vermentino gewerk.
Die omstandighede daar is baie soortgelyk aan Paardeberg. In Monti Cecubi se organiese wynkelder, geleë op ’n rotsagtige heuwel, blootgestel aan die seebriesie, het sy ’n mineralewyn verkry, baie soortgelyk aan die resultate wat sy met die vermentino hier in die Paardeberg ervaar.
Ons drink ons bottel op 1 September, internasionale Cap Classique-dag, saam met daardie einste artisjok-pluk-vriende. Dis uniek en anders en ek lig my hoed vir Fabietti en Di Benedetto.
Die beskrywing wat saam met die bottel gekom het, is as volg: “Die druiwe is vroeg in Januarie 2023 met die hand geoes, teen 17,5 balling en hoë suur. Ná die eerste alkoholiese fermentasie, is dit in Julie gebottel vir tweede fermentasie.”
Wyne gemaak van vermentino is in die algemeen fyn en goed gebalanseerd, met intense aromas van ryp, witvleis vrugte en blomme, vergesel deur skeute aromatiese kruie, wat herinner aan die Mediterreense onderbos. Op die tong is vermentino sag met goeie soepelheid en nie te veel suur nie, met ’n kenmerkende amandel-nasmaak.
Danksy sy struktuur en varsheid kan vermentino selfs die mees ingewikkelde visgeregte komplementeer. Ons braai geelstert, en die vonkelwyn is die perfekte pasmaat.
Dis weer Riaan Möller se woorde oor ons vermoë om struikelblokke te oorkom, wat by my opkom.
Een ding is vir seker, boere sal steeds planne maak en triomfeer met skaars produkte soos hierdie lekker Cap Classique, ongeag watter uitdagings voor hul deur gelê word.












