Landbou

‘B*con’ taboe, maar nie ’n veggie-burger nie

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister
’n Beetburger. Benamings vir plantgebaseerde kos moet eersdaags duidelik aandui dat dit nié regte vleis is nie. Foto: Unsplash
’n Beetburger. Benamings vir plantgebaseerde kos moet eersdaags duidelik aandui dat dit nié regte vleis is nie. Foto: Unsplash

Vervaardigers van plantgebaseerde produkte, dus nievleisprodukte, sal binnekort nie meer hul slim name kan gebruik om dié produkte as kwansuise vleis te bemark nie.

Nuwe regulasies wat deur die departement van landbou in die Staatskoerant gepubliseer is, maak dit nou onwettig vir vervaardigers om etikette met enige verwysing na diereprodukte op hul produkte te plaas.

Die nuwe regulasies geld vir plantgebaseerde produkte of sampioene wat verwerk word om die geur en tekstuur van vleisprodukte na te boots.

Benamings

Sekere vervaardigers het die laaste paar jaar hul produkte beskryf as byvoorbeeld "hoender-styl" of selfs "b*con" vir nagemaakte spek.

Laasgenoemde voorbeeld is ook gebruik om verbruikersbewustheid oor die handelsname te kweek.

Ingevolge die nuwe regulasies wat John Steenhuisen, minister van landbou, uitgevaardig het, mag daar geen verwysing meer na vleis soos bees of hoender wees nie.

Vervaardigers kan steeds na terme soos burger of maalvleis verwys, maar dit moet van die woorde "plantgebaseerde", "vegan" of "veggie" vergesel word.

Ander nuwe reëls hou verband met standaarde vir die toetsing van produkte, veral wat die proteïeninhoud betref.

Nievleisprodukte, soos Fry's se worsies, moet nou duidelik aandui dat dit plantgebaseerd is om aan die departement van landbou se nuwe regulasies te voldoen. Foto: Fry's Foods
Nievleisprodukte, soos Fry's se worsies, moet nou duidelik aandui dat dit plantgebaseerd is om aan die departement van landbou se nuwe regulasies te voldoen. Foto: Fry's Foods

Lankal in die visier

Die departement het eintlik al geruime tyd dié produkte se benamings in sy visier omdat hy meen verbruikers kan mislei word.

Twee jaar gelede het die Agentskap vir Voedselveiligheid namens die departement drasties ingegryp deur beslag te lê op nievleisprodukte in winkels voordat die Verbruikersgoedereraad 'n hofsaak teen die departement daaroor gewen het. Die raad het aangevoer daar is geen wetgewing wat dié optrede regverdig het nie.

Steenhuisen het nou dié skuiwergat toegemaak. Die regulasies sal oor 12 maande van krag wees.

Vervaardigers maak voorbrand

Volgens News24 het verskeie vervaardigers van nievleisprodukte, soos Fry Foods, wat deur LIVEKINDLY Collective South Africa besit word, die nuwe regulasies verwelkom omdat dit "duidelikheid bied en mededinging verbeter".

Herbivore Earthfoods sê hy het ná 2023 se drama proaktief sy verpakkings gewysig.

Die Rooivleisprodusenteorganisasie (RPO) ondersteun ook die regulasies omdat dit duidelikheid aan verbruikers bied, maar sê ook die plantgebaseerde produkte het nie noodwendig die markaandeel van vleisprodukte benadeel nie.

- heinz.schenk@24.com

CTA