Bek-en-klouseer tref SA se grootste verskaffer van beesvleis

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister
Karan Beef, ’n groot beesvleisverskaffer in Suid-Afrika, het bek-en-klouseer by hul fasiliteit in Heidelberg aangemeld. Foto: Unsplash
Karan Beef, ’n groot beesvleisverskaffer in Suid-Afrika, het bek-en-klouseer by hul fasiliteit in Heidelberg aangemeld. Foto: Unsplash

Karan Beef, wat een van die grootste voerkrale in die Suidelike Halfrond besit, het Maandag 'n geval van bek-en-klouseer by sy fasiliteit in Heidelberg, Gauteng, bevestig.

Luidens 'n verklaring is die infeksie Vrydag geïdentifiseer ten spyte van streng nakoming van biosekuriteitsmaatreëls, insluitend kwarantynprotokolle en deeglike inspeksies deur veeartse voor die inname van beeste.

"Karan Beef werk nou saam met die staatsveeartsenykundige dienste om vinnige inperking te verseker en enige verdere risiko vir die breër bedryf te verminder."

Luidens 'n verklaring van die VFPlus het Karan Beef sy verskaffers laat weet dat hy 'n tydelike moratorium op aankope ingestel het.

Die VFPlus sê indien Karan Beef, wat speenkalwers op groot skaal aankoop, ophou om vee aan te koop, gaan dit die hele bedryf ontwrig.

"Dit sal vleispryse afdwing en boere dwing om beeste op die plaas te hou, juis wanneer weiding in die wintermaande agteruitgaan," lui die verklaring.

"Vir bestaansboere kan dit erge ontbering veroorsaak omdat hulle oor die algemeen vee in klein getalle verkoop soos hulle kontant benodig."

Rapport het twee jaar gelede berig dat Karan Beef se Heidelberg-plaas sowat 2300ha beslaan. Daar was toe op enige gegewe tydstip sowat 150000 beeste in Karan Beef se stelsel.

Karan Beef besit of huur ook kwarantynpersele landwyd waar die 1500 speenkalwers wat daagliks aangekoop word, 30dae eenkant gehou word om seker te maak hulle het nie bek-en-klouseer nie.

'n Siek dier wat die voerkraal binnekom, kan die hele kudde uitwis, het Ivor Karan, die voorsitter van die direksie van Karan Beef, destyds gesê.

Bedryf reeds onder druk

Bek-en-klouseer is 'n hoogs aansteeklike virus wat endemies in Suid-Afrika is.

Hoewel mense nie bek-en-klouseer kan opdoen nie, kan dit versprei word deur mense wat met hul hande, voete, klere of voertuie daarmee in aanraking was.

Dr. Frikkie Maré, uitvoerende hoof van die Rooivleisprodusenteorganisasie (RPO), het verlede Maandag aan Netwerk24 gesê in KwaZulu-Natal, wat erg onder die virus gebuk gaan, is boere se kele basies ekonomies afgesny.

LEES OOK | Bek-en-klouseer ‘sny KZN-boere se keel ekonomies af'

Volgens die VFPlus was daar oor die afgelope vyf jaar altesaam meer as 300 gevalle van bek-en-klouseer in Suid-Afrika.

Rolspelers in die bedryf het klaarblyklik voorstelle aan die departement van landbou gemaak omdat die kennis en tegnologie om die siekte te bestry, "algemeen beskikbaar" is.

Volgens die VFPlus is die rolspelers se ervaring egter "dat die departement hom nie daaraan steur nie".

Volgens Maré was boere juis bekommerd oor die gebrek aan padversperrings wanneer vee vervoer word.

Die verskuiwing van diere met gesplete hoewe word in sekere provinsies soos KwaZulu-Natal beperk as deel van pogings om die verspreiding van bek-en-klouseer te voorkom.

Boere vrees sonder padversperrings om te verseker dat diere nie vanuit bek-en-klouseer-gebiede vervoer word nie, die virus na ander provinsies gaan versprei.

Verdere verspreiding

John Steenhuisen, minister van landbou, het verlede Woensdag aangekondig dat verskerpte pogings deur sy departement om bek-en-klouseer te beheer en uit te roei besig is om goed te vaar en dat hulle R72miljoen se entstowwe bestel het wat na verwagting middel Junie sal arriveer.

Die siektebestuursgebiede in die Oos-Kaap en Limpopo sou luidens Steenhuisen se verklaring binnekort opgehef word, terwyl die uitbreking in KwaZulu-Natal voortduur, en die enkele geval wat in Mpumalanga bespeur is, nie verder uitgebrei het nie, maar steeds gemonitor word. Nuwe gevalle is egter in Gauteng aangemeld, het Steenhuisen toe gesê.

Steenhuisen se verklaring het verwys na die voerkraal en 'n aangrensende plaas.

"Aanvanklike inligting het op 'n veiling in Heidelberg gedui, maar epidemiologiese opvolgondersoeke het aangedui dat daar heel waarskynlik 'n ander bron van infeksie was.

"Veeartsenykundige dienste toets aangrensende persele en gekoppelde liggings om die oorsprong van hierdie uitbreking en moontlike verspreiding te bepaal."

In die tweede helfte van Mei is kliniese tekens van bek-en-klouseer ook by gemeenskaplike beeste aan die Oos-Rand in Gauteng aangemeld.

‘Ramp van onmeetbare omvang'

Theo de Jager, direksievoorsitter van die landbouvereniging Saai, is nes die VF Plus ontsteld dat die regering nie genoeg gedoen het nie en verwys na die verspreiding van die virus na van die grootste voerkrale as 'n "ramp van onmeetbare omvang vir beesboere".

"As boere nie hul vee op veilings, aan voerkrale of aan slagpale kan verkoop nie, het die boerdery - en daardie gesin - geen inkomste nie," sê De Jager luidens 'n verklaring.

Saai het reeds in Desember met die departement in verbinding getree toe daar gerugte oor 'n uitbreking was, maar dit het die departement maande geneem om dit amptelik te verklaar.

Saai sê die departement het nie vinnig genoeg opgetree om die verspreiding van die siekte te keer nie en het nie effektief met al die rolspelers gewerk nie, onder andere boere, Onderstepoort en verkeersdienste.

"Die ontwrigting van die waardeketting en marktoegang is vir baie plaaslike produsente 'n nekslag. Boere meen die probleem spruit uit 'n gebrek aan politieke wil, swak leierskap, onbevoegde amptenare en die onvermoë om bekwame mense in sleutelposte aan te stel sodat doeltreffende dienste gelewer kan word."

Is vleis veilig?

Volgens Maré is dit hoogs onwaarskynlik dat die virus versprei kan word deur diere wat van die siekte herstel het.

Wandile Sihlobo, hoofekonoom van die landbousakekamer Agbiz, sê Dinsdag in 'n nuusbrief beesvleisprodukte (op die mark) is veilig en verbruikers hoef nie bekommerd te wees nie.

Hy meen dat daar selfs 'n moontlike daling in beesvleispryse gaan wees.

Volgens hom is daar 'n moontlikheid dat nog buitelandse markte vir Suid-Afrikaanse rooivleis gesluit gaan word. Tans is net China amptelik vir SA uitvoer gesluit.

Verder is daar volgens Sihlobo 'n relatief lae plaaslike vraag na rooivleis. Meer plaaslike vleis kan pryse afdwing.

Saai sê egter verbruikers gaan waarskynlik meer vir vleis betaal, met die prys van supergraadvleis wat reeds gestyg het.

- stefani.terblanche@media24.com

SPELETJIES VANDAG

CTA