Landbou

Deli-Co: Boere met ’n besigheid!

Isipani Konstruksie
Isipani Konstruksie

Daar is min goed waaroor die Truter-familie van die plaas De La Fontaine en hul suksesvolle slaghuisonderneming Deli-Co meer passievol is as vleis. Dít sowel as die uitbou en bevordering van die landboubedryf op eie bodem en werkskepping in hul gemeenskap. Die Truters is onlangs deur die Xhariep-tak van Landbouskrywers SA as die Wes-Kaapse Boer van die Jaar vereer vir hul bevordering van die rooivleisbedryf. Samantha van den Berg het gaan kuier.

Die kern van die Truter-familie is ma Susan (in die middel) en (agter, van links) Enid, Frederick, Pieter, Suzaan, Hendri en Shelly. Foto's: VERSKAF
Die kern van die Truter-familie is ma Susan (in die middel) en (agter, van links) Enid, Frederick, Pieter, Suzaan, Hendri en Shelly. Foto's: VERSKAF

Die Truter-familie van die vyfdegenerasie-familieplaas De La Fontaine net buite Riebeek-Kasteel is 'n familieboerdery in die ware sin van die woord.

Hier bedryf die Truters en hul uitgebreide familie hul alombekende landbou-onderneming Deli-Co - 'n trots Suid-Afrikaanse vleishandelsmerk wat al 'n algemene verskynsel in huise op eie bodem geword het. Die familie is boere in murg en been en bewerk en bemark hul vleis met passie en geesdrif - want kyk, die Truters is líéf vir vleis.

Geborg deur:

Isipani Konstruksie

Isipani Konstruksie
Isipani Konstruksie

"Hartlike gelukwense aan die Delico-span met die welverdiende toekenning. Hierdie erkenning is 'n bewys van julle toewyding, harde werk en uitstaande bydraes tot die landbousektor, trots dat ons kon deel wees van hierdie merkwaardige reis.

Isipani Konstruksie, het oor die afgelope 63 jaar 'n indrukwekkende portefeulje van kommersiële, kleinhandel, nywerheids-, regerings- en groot residensiële konstruksieprojekte opgebou. Met 'n uitsonderlike rekord van toewyding, spanwerk en kwaliteit, is ons nie net 'n gerespekteerde konstruksiemaatskappy nie, maar ook 'n voorkeurkontrakteur vir ons kliënte."

Besoek www.isipani.co.za vir meer inligting.

Bergrivier Besproeiing

Bergrivier Besproeiing
Bergrivier Besproeiing

Ons Bergrivier Besproeiing span wil graag vir Deli-Co baie geluk wens met hierdie ongelooflike prestasie! Ons deel die liefde vir landbou en is trots om met die Truter-familie geassosieer te word.

Bergrivier Bespoeiing beskik oor die regte kennis, passie en infrastruktruur vir die suksesvolle bestuur van enige waterontwikkeling in die landbou sektor. Ons tegniese span bestaan uit ingenieurs en landboukundiges wat hoogs geditailleerde ontwerpe en planne lewer - om die beste oplossings vir boere te bied.

Besoek www.bergrivier.co.za vir meer inligting.

Hierdie onderneming is nagenoeg drie dekades gelede om die kombuistafel in die plaasopstal op De La Fontaine begin waar ma Susan en haar oudste seun, Pieter, begin vleis verwerk het - aanvanklik vir die plaaslike kerkbasaar en vir eie gebruik, en daarna vir die gemeenskap. Die plaas se bakkie en 'n blou Coleman-koelboks is toe ingespan om die aflewerings te doen.

Met 'n stewige fondasie en 'n gedeelde visie om hul produk met ander families oor die land heen te deel, het hierdie onderneming sedert 1993 egter met rasse skrede gegroei.

Deli-Co het vandag altesaam 650 permanente werknemers in sy diens, en verskaf aan meer as 2 000 ondernemings vleis. Die ou plaasbakkie is ingeruil vir 'n vloot van 25 afleweringsvoertuie wat meer as 500 aflewerings op 'n daaglikse basis doen.

Die Truters het ook in die volledige waardeketting belê en besit onder meer hul eie slagpale en afvalfabriek - met 'n slagkapasiteit van 2 500 skape per dag en die skoonmaak van 800 afvalle. 'n Nuwe fabriek met moderne kantoorgeriewe is ook intussen gebou om meer ruimte te skep vir Deli-Co se werknemers en die masjinerie, sowel as om verhoogde produksie en gehalte aan te blaas.

Daarbenewens het Deli-Co ook drie bistro's en plaasstylslaghusie (op die plaas De La Fontaine, in Riebeek-Kasteel self sowel as in Klapmuts) waar verbruikers hul produkte kan koop.

Aan die stuur van die onderneming is Hendri Truter, as uitvoerende hoof, sy oudste broer, Pieter, wat die plaas en al die bedrywighede daar beheer, terwyl hul middelste broer, Frederick, die leisels hou as produksieverhoudingsbestuurder. Die hele familie - insluitend die volgende generasie - is egter almal by die besigheid betrokke waar hulle saamwerk om dit verder uit te brei en hul doelwitte te bereik.

Die plaas De La Fontaine in Riebeek-Kasteel is al vir 130 jaar in die Truter-familie se besit.
Die plaas De La Fontaine in Riebeek-Kasteel is al vir 130 jaar in die Truter-familie se besit.

Alles begin by landbou

Die De La Fontaine-plaas van 1 300 ha is die spilpunt waarom alles draai. Hier word koring en wisselbougewasse volgens bewaringslandboupraktyke geproduseer. Die wisselbougewasse word gebruik om meer as 25 ton voer per dag vir Deli-Co se lam-afrondingstelsel te voorsien.

Die voerkraal, weer, kan nagenoeg 12 000 lammers akkommodeer. Die doel daar is om die ingekoopte lammers markgereed te kry ten einde optimaal winsgewend te wees.

Deli-Co koop diere in van sowat 1 100 boere binne 'n radius van 1 000 km en ondersteun dus so ook die landboubedryf regstreeks. "Ons fasiliteer 1 100 boere se produk na die verbruiker. Ons kraai dus nie net koning op ons eie plaas nie, maar neem ook ander se plase na die mark," verduidelik Hendri.

"Dit is vir ons 'n groot voorreg om in hierdie posisie te wees. Ons het destyds net ons eie diere geslag, en daarna ons buurman se diere. Toe vergroot daardie radius van 5 tot 10 km uiteindelik tot 'n 1 000 km radius waarin ons lewende hawe intrek, slag, verwerk en versprei - nasionaal en internasionaal."

Hendri is al 15 jaar voltyds by Deli-Co werksaam, maar smous al sedert hy ses jaar oud is vleis saam met sy gesin.

Volgens hom word Deli-Co bedryf as 'n besigheid van hoop. "Ons is binne ons DNA eerstens 'n boerdery. En ons is bevoorreg om in die landboubedryf te wees. Die Truters is al 130 jaar op die plaas De La Fontaine en die hele familie is betrokke. Dit is regtig 'n mooi storie en dit skep hoop. Ons is boere en daarom praat ons die produsent se taal goed. Daarmee saam kan ons ook te danke aan ons jarelange ervaring as vleisverkopers ook die verbruiker se taal goed praat."

Deli-Co koop skape in vanaf 1 100 boere oor die land heen en ondersteun dus so ook talle ander plase.
Deli-Co koop skape in vanaf 1 100 boere oor die land heen en ondersteun dus so ook talle ander plase.

Katalisator vir groei

Deli-Co het oor die jare verskeie omwentelings ondergaan.

In 1998 is die melkstal op die plaas in 'n landelike slagpale omskep waar 50 skape per week geslag kon word.

Die twee oudste Truter-broers en hul eggenotes het saam met die plaas se werkers die slagpale bedryf en in die afvalkamer gewerk.

Drie jaar na pa Erik se afsterwe besluit die familie egter om die onderneming te groei om nie net 'n groter deel van die Truter-familie te betrek nie, maar ook om meer van hul produk met ander families oor Suid-Afrika heen te deel.

Te danke aan Hendri se entrepreneursvernuf begin Deli-Co vleis aan restaurante verskaf, waarna die Truters uiteindelik ook die groothandelmark betree en vleis aan slaghuise begin lewer.

Die onderneming span ook die spreekwoordelike net wyer te danke aan die honderde werkgeleenthede wat dit skep, en ondersteun vandag 'n uitgebreide netwerk families deur hul onderneming.

Deli-Co verkoop 'n verskeidenheid vleisprodukte in sy winkels.
Deli-Co verkoop 'n verskeidenheid vleisprodukte in sy winkels.

"Aan die begin het ons maar vyf restaurante bedien en vandag lewer ons vleis aan 850. Toe ons die groothandelmark betree het, het ons aanvanklik vleis aan vier slaghuise gelewer. Vandag staan ons op 250. Ons doen vandag steeds eg outentieke, ouskool-besigheid. Ons is boere met 'n besigheid; ons is landbouers in die industrie."

Volgens Hendri is Deli-Co gebou op die waardes vertroue, respek, onvoorwaardelikheid, volhardheid, energie en aanspreeklikheid.

"Ons is lief vir mense en ons wil mense graag ophef. Dit is een van ons doelstellings om werk te skep en ons glo dat ons binne die volgende drie jaar 'n permanente werkerskorps van 1 000 mense sal hê.

"Hoe meer Suid-Afrikaners 'n heerlike skaaptjoppie geniet, hoe meer mense kan ons in diens neem."

Pols jy Hendri oor waarom hulle aanhou in Suid-Afrika belê, antwoord hy sonder om te aarsel: "Dit is ons mense, dit is ons kultuur en dit is ons tuisgrond waarop ons grootgeword het. Ons sien Suid-Afrika as 'n geleentheidsland. Ons is 'n land waar ons verskillende kulture as 'n reënboognasie kan saamtrek en dit gee my sommer hoendervleis! Ons is 'n besigheid van hoop en ons is daar vir alle belanghebbendes - van ons kliënte tot ons verskaffers, die werknemers en almal wat oor ons drumpel kom."

Hendri meen hoewel Deli-Co se fondasie reg gelê is, hy nog nie glo dat hul as onderneming "gearriveer" het nie. Daar is nog groot visie en doelstellings om te bereik.

"Die jeug vandag soek na TikTok-sukses, maar dit is een uit 'n miljoen. Ons glo daarin om ons koppe neer te sit, hard te werk en nederig te bly. Ons neem ons sukses hart toe - en nie kop toe nie. Ons is al 130 jaar op hierdie plaas, maar ons het steeds strategieë vir die volgende, 10, 15 en 20 jaar om aan te hou groei en daardie momentum te behou."

En hoe lyk die Deli-Co van die toekoms? "Die hoofopskrif in Die Burger in 2030 moet lees: ‘Vleissekere toekoms in Suid-Afrika. Kwaliteit, altyd.' Ons wil graag in ander streke eiendom besit waar ons volhoubare proteïenverskaffing kan waarborg en aanhoudende waarde aan die eindverbruiker kan lewer. Solank jy iets heerlik produseer, gaan die verbruiker vir dit vra by naam. As ons wêreldwyd vir iets soos Coca-Cola by naam kan vra, moet ons dieselfde begin doen vir ons uitstekende landbouprodukte."

Hoogtepunte

1993

Die ontstaan van die Deli-Co-slaghuis op die kombuistafel op die plaas De La Fon- taine:

  • Ma Susan en ouboet Pieter begin vleis te verwerk op die kombuistafel.
  • Die buurman Hennie Truter se koelkamer (2 meter x 3 meter) word oorgekoop.
  • Diepvries was ingespan om die vleisprodukte te vries.
  • Die plaasbakkie en 'n blou Coleman- koelboks is gebruik om die aflewerings te doen.

1996

  • Die slaghuis word in Mei van hierdie jaar geopen.
  • Suzaan Truter (Pieter se vrou) raak deel van die familieonderneming.

1998

Die ontstaan van die Deli-Co-slagpale:

  • Die slagpale word gebou in hierdie jaar.
  • Ongeveer 30 tot 50 skape per week word geslag.
  • Broer Frederick kom plaas toe en raak formeel deel van die besigheid.

1999

  • Enid Truter (Frederick se vrou) raak deel van Deli-Co. Sy was eers deel van die plaasbedrywighede en het later oorgeskakel na die vleiskomponent.

2002

  • Deli-Co se eerste formele afleweringsvoertuig word aangeskaf.

2008

  • Die jongste Truter-boer Hendri kom plaas toe en word ook deel van die onderneming.
  • Deli-Co se fokus verskuif om vleis aan restaurante te voorsien, saam met publieke aankope.
  • Deli-Co het nou twee afleweringsvoertuie.

2011

  • Shelly Truter (Hendri se vrou) sluit by die besigheid aan.

2013

Aanbouings aan die Deli-Co-slaghuis en -slagpale:

  • Die slagpale word met die slaghuis verbind.
  • Die skoonmaakaanleg vir Deli-Co se afval word begin met Ouma Marie aan die stuur (50 afvalle per dag).
  • Koelkamer word vergroot vir 600 lammers saam met bokse. Daarmee saam word 'n
  • droëstoor gebou, sowel as 'n boksekamer, speserykamer, 'n kamer vir verpakkingsmateriaal en 'n kantoorgebou met plek vir vyf mense.
  • Die winkel op die plaas word vergroot. Deli-Co begin ook met die Potbelly Pantry in Klapmuts.
  • Deli-Co begin sy eerste voerkraal van 1 500 lammers. Die visie was toe om 'n 100 lammers per week uit die kraal te kry.
  • Die Truters begin ook hulle salamistokkies maak in hierdie jaar.

2015

  • Deli-Co bou 'n tweede voerkaal van 4 900 lammers.
  • Die voerkraal werk met 'n selfvoerder. Dit bring Deli-Co se voertotaal op 8 400 skape (1500 + 4900 + 1500 in die buitekampe) te staan.
  • 2018
  • Deli-Co bou 'n nuwe vrieskamer met plek vir 150 palette.
  • Die besigheid koop ook sy eerste langafstandvragmotor.

2019

Die slagpale en afvalfabriek word opgegradeer:

  • Nuwe karkas-koelkamer word gebou wat 1 000 lammers kan akkommodeer.
  • Hoë deurset van 2 500 lammers per dag. Al wat kort is meer verkoeling en krale. Die opgegradeerde slagpale is van uitvoerstandaard.
  • Die afvalfabriek word opge-
  • gradeer en kan nou 700 afvalle per dag skoonmaak. Dit is sewe keer meer as die 100 waarmee hulle begin het.

2020

  • Die opgraderingswerk aan Deli-Co se slagpale en afvalfabriek is klaar.
  • Die onderneming skaf sy twee langafstand-vragmotor aan wat George en Port-Elizabeth diens.

2021

  • Nuwe winkel, Deli-Co on Main, word in Riebeek-Kasteel se sakekern geopen.
  • Die eerste sooi word gespit vir die nuwe fabriekperseel.
  • Beplanningswerk begin vir die nuwe fabriek, plaaswinkel en die moontlike bistro.
  • Sune Truter (eerste kleinkind) betree die besigheid.

2022

  • Isipani volstoom aan die gang om die "nuwe tuiste" van Deli-Co te bou.
  • Die plaaswinkel sluit vir opgraderings.

2023

  • Die kantoorpersoneel neem in Januarie hul intrek in die nuwe kantoor.
  • Lean Truter, die tweede kleinkind van die Truters, betree ook die besigheid.
  • Aan die begin van Februarie maak die Butchery & Bistro op die plaas oop. Teen die einde van Februarie is die nuwe verkoelingsgeriewe in gebruik.
  • Aan die begin van Maart trek die meeste van die produksiepersoneel oor na die nuwe fabriek.
  • Die Deli-Co-span word deur die Xhariep-tak van Landbouskrywers SA as die Wes-Kaapse Boer van die Jaar in Oktober aangewys. 'n Groot eer!
Samantha van den Berg

SPELETJIES VANDAG

Spesiaal vir intekenare!CTA

Elke dag ’n nuwe blokraai, sudoku en woordblom asook ’n weeklikse vasvra élke Vrydag. 

SPEEL SAAM