Met die suksesvolle bedryf van sy familieplaas aan die buitewyke van Durbanville het André Brink vanjaar bewys dat boerwees in sy are loop.
Nadat Brink deur die !Xhariep-tak van Landbouskrywers SA as die Wes-Kaapse Boer van die Jaar aangewys, is hy voorverlede Vrydag aangewys as Landbouskrywers SA se Nasionale Boer van die Jaar.
Die wenners van die nasionale kompetisie is op Vrydag 15 November by Old Trafford in Centurion aangewys.
Brink se plaas Groot Phesantekraal, wat hy saam met sy twee seuns en vrou bestuur, is 'n gemengde boerdery met 'n graan-, wingerd- en veevertakking.
- Saam met die aankondiging van die boer van die jaar, is daar ook wenners in ander kategorieë aangewys. Hulle is as volg:Boer van die Jaar: André Brink, Groot Phesantekraal)Nuwe Toetreder tot Kommersiële Landbou van die Jaar: Thulani Magida
In die Oos-Kaap boer Magida, eienaar van Juta Agritech, op 28 ha van 45 ha gemeenskaplike grond. Hier het hy die boerdery reeds gediversifiseer om groente te verskaf waarna daar 'n groot vraag is, soos botterskorsie, pampoen, kool en aartappels, en dit huisves ook 'n florerende varkboerdery.
- Magida het 'n meestersgraad in landbou-ekonomie en 'n MBA, maar dit is sy ses jaar ervaring in die landboudepartement en nege jaar in die private sektor wat hom toegerus het met die regte vaardighede om produktiwiteit te maksimaliseer.Landboukundige van die Jaar: prof. Driekie Fourie
Met 'n passie vir landbouwetenskap en 'n PhD in nematologie van die Universiteit van Leuven in België het Fourie haar loopbaan daaraan bestee om rondewurms en die impak daarvan op die gesondheid van gewasse te bestudeer.
Sy is wêreldbekend om haar kennis van rondewurms en word wyd erken as die persoon na wie jy gaan vir enigiets verwant aan rondewurms in die landboubedryf in Suid-Afrika.
Behalwe vir die bogenoemde pryse, is 'n spesiale prys ook toegeken aan die veearts dr. Faffa Malan, bekend as "dok Faffa".
Hy het 'n belangrike rol gespeel in die bevordering van dieregesondheid in Suid-Afrika in kommersiële kuddes en wanneer dit kom by raad gee en opleiding van opkomende boere.



















