Daybreak Foods het sy likwidasie afgeweer deur in sakeredding te gaan.
Die Openbare Beleggingskorporasie (OBK), wat Daybreak ten volle besit, het Dinsdag aangekondig dat hy die direksiebesluit ondersteun om die pluimveeprodusent in sakeredding te plaas.
Die OBK is oortuig dat die maatskappy gered "kan en móét word", en dat sakeredding die beste pad is om die maatskappy se waarde en potensiaal te bewaar, luidens die verklaring.
Die aankondiging kom ure nadat 'n likwidasie-aansoek teen Daybreak teruggetrek is.
'n Groep boere wat voorheen hoenders vir Daybreak grootgemaak het, het in Februarie aansoek gedoen vir die likwidasie van die maatskappy aangesien R19,9 miljoen aan hulle geskuld word.
Wilhelm Botes, 'n prokureur van J.W. Botes Ing. Prokureurs wat die boere verteenwoordig, sê aan Netwerk24 hulle het Maandag met Daybreak gepraat en het geskik.
Hy kon vanweë 'n vertroulikheidsklousule nie oor die skikking uitwei nie.
Vier ander partye het sedert die aansoek in Februarie tussenbeide getree.
Die drie wat die likwidasie-aansoek ondersteun het, was Boleng Food Solutions, Pride Pak en Goliath Tyres. Daybreak het hulle onderskeidelik R3,7 miljoen, R7,7 miljoen en R309 908,54 geskuld.
Hulle het ook die aansoek om likwidasie teruggetrek.
Die ander party was die Landbank, wat ook nie meer voortgaan met hul teenaansoek ten einde sy lening aan Daybreak te beskerm nie.
Daybreak is tans R123,9 miljoen verskuldig aan die Landbank, wat sedert 2017 'n krediteur van Daybreak is.
Sydney Soundy, strategiehoof van die Landbank, het Maandag op Netwerk24 se navraag gesê die Landbank was aanvanklik van plan om aansoek te doen dat Daybreak in sakeredding geplaas word om die onderneming te red en die bank se belange te beskerm. Gesprekke oor sakeredding kon egter nie voorheen konsensus bereik oor die finansiering wat nodig sou wees nie.
Soundy sê met die aansoek om Daybreak te likwideer Dinsdag op die dringende hofrol van die hooggeregshof in Pretoria is die Landbank verplig om beslissende stappe te doen om "sy belange te beskerm".
LEES OOK | Landbank teen likwidasie van hele Daybreak gekant, maar soek sy R124 m.
Vrae oor R500 miljoen
Die OBK het in Mei dringend R74 miljoen aan Daybreak voorsien om agterstallige salarisse te betaal en voer vir hoenders te koop.
In 'n verklaring het die OBK gesê die bedrag is deel van 'n oorhoofse R250 miljoen wat vir Daybreak se bedrywighede goedgekeur is.
Die OBK is die staatsbeheerde batebestuurder wat die aftreegeld van staatsamptenare namens die Staatsdienspensioenfonds (GEPF), die Werkloosheidsversekeringsfonds en die Vergoedingsfonds belê.
Die Sunday Times het Sondag berig dat die OBK 'n dringende beroep op die Werkloosheidsversekeringsfonds en die Vergoedingsfonds om finansiële bystand gedoen het.
In 'n brief wat deur die Sunday Times gesien is, versoek die OBK R500 miljoen om toenemende krediteure-eise af te handel, insluitend die hangende likwidasie-aansoek.
Kabelo Rikhotso, die OBK se beleggingshoof, het glo in die brief geskryf dat die finansiering Daybreak se haglike finansiële vooruitsigte "beslissend sal verander".
Die geld is teen Vrydag nog nie goedgekeur nie.
Netwerk24 het na die OBK vir duidelikheid uitgereik. Kommentaar sal bygewerk word indien dit ontvang word.
Dis nog nie bekend gemaak wie die sakereddingspraktisyns is nie.
- stefani.terblanche@media24.com






















