Daybreak: OBK, GEPF moet verduidelik, eis DA

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister
Daybreak Foods is ’n pluimveeprodusent wat ten volle deur die Openbare Beleggingskorporasie (OBK) besit word. Foto: Getty
Daybreak Foods is ’n pluimveeprodusent wat ten volle deur die Openbare Beleggingskorporasie (OBK) besit word. Foto: Getty

Die DA het dringend versoek dat die Openbare Beleggingskorporasie (OBK) en die drie staatsfondse wat elkeen 'n belang in die pluimveeprodusent Daybreak Foods het, voor die staande komitee oor finansies (Skoor) in die parlement verskyn.

Luidens die verklaring van die DA het twee direkteure van Daybreak Foods, wat ten volle deur die OBK besit word, sessyferbetalings ontvang terwyl werkers nie betaal is nie, hoenders honger gely het en die maatskappy op pad is na sakeredding.

Netwerk24 het vroeër berig dat werkers sedert April nog nie betaal is nie en dat die Nasionale Dierebeskermingsvereniging (NDBV) honderdduisende hoenders op Daybreak se plase weens wanvoeding en lyding van kant moes maak.

'n Maatskappy wat onder meer bande aan Daybreak Foods verskaf het en aansoek gedoen het om tussenbeide te tree in 'n likwidasie-aansoek teen Daybreak, sê die pluimveeprodusent is baie diep in die skuld en "kommersieel insolvent".

LEES OOK | Nóg 'n maatskappy wil ‘insolvente' Daybreak laat likwideer

Die OBK belê die geld van die Staatspensioenfonds (GEPF), Werkloosheidsversekeringsfonds en Vergoedingsfonds.

"Dié entiteite is almal aandeelhouers in Daybreak Foods, en moet verduidelik watter toesig hulle uitgeoefen het, hoe dié situasie toegelaat is om te ontvou en watter stappe nou gedoen word om staatswerknemers se pensioenspaargeld en openbare geld te beskerm," lui die DA se verklaring.

Die DA versoek ook 'n dringende en volledige ondersoek deur die Gedragsowerheid vir die Finansiële Sektor (FSCA) na die OBK se rol en mislukte toesighouding by Daybreak Foods.

Die DA doen ook 'n beroep op die FSCA om die komiteeverhoor by te woon om sy regulatoriese rol rakende die OBK en sy toesig oor ongenoteerde beleggings soos Daybreak te verduidelik.

- stefani.terblanche@media24.com

SPELETJIES VANDAG

CTA