Heelwat hoop vir SA wynbedryf

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister
Die wynbedryf se veerkragtigheid verseker dat uitdagings dit nie kan onderkry nie. Foto: VERSKAF
Die wynbedryf se veerkragtigheid verseker dat uitdagings dit nie kan onderkry nie. Foto: VERSKAF

Ten spyte van die verskeie uitdagings wat die plaaslike wynbedryf in die gesig staar, is daar 'n gevoel van optimisme dat dit oorkom kan word.

Bedryfsleiers, insluitend die bedryfsliggaam Vinpro se uitvoerende hoof Conrad Schutte en voorsitter Anton Smuts, glo dat die bedryf kwessies van ekonomiese druk en klimaatsverandering tot die verlies aan biodiversiteit kan aanpak danksy sy veerkragtigheid en die vermoë om deur tegnologie en innoverende praktyke aan te pas.

Vinpro deel meer oor die bedryf se uitdagings en oplossings.

Ekonomiese druk en winsgewendheid

Een van die kernkwessies van wynprodusente is natuurlik winsgewendheid.

Luidens Vinpro se jongste produksie-ontleding van sowat 270 plase - wat byna 30% van die bedryf verteenwoordig - was die gemiddelde opbrengs op belegging vir wyndruifproduksie 2,6% in 2024. Hoewel steeds laag, is dit 'n verbetering op 2023 se 0,74%.

Ekonomiese en politieke faktore het veral 'n beduidende invloed. Wêreldwye geopolitieke verskuiwings, handelsregulasies, inflasie en swak infrastruktuur, soos onderpresterende hawens en onvoldoende spoor- en padnetwerke, belemmer uitvoere en verhoog produksiekoste.

Nietemin het hawe-doeltreffendheid op kort termyn verbeter, met 'n toename van 39% in Desember en Januarie, volgens Smuts.

Klimaatsverandering en volhoubaarheid

Een van die faktore wat 'n direkte impak op wynprodusente het, is die voordurende veranderinge van die klimaat.

Uiterste weerstoestande, soos oorstromings, veldbrande, ryp en droogtes, bedreig die wyndruifopbrengste en gehalte.

Die droogte van 2018-'19 in die Klein-Karoo het onder meer die belangrikheid van tegnologie beklemtoon om watergebruik en produksie te optimaliseer.

Biodiversiteit is 'n ander kritieke aspek, want wynplase speel 'n belangrike rol in die beskerming van inheemse plantegroei en die habitatte van diere. 'n Voorbeeld hiervan is Paul Clüver Wines in Elgin waar meer as 60% van die plaas in samewerking met CapeNature beskerm word, wat volhoubare wynbou en ekologiese bewaring ondersteun.

Innovasie is 'n waardevolle sleutel

Om die volhoubaarheid en winsgewendheid van die bedryf te verseker, moet innovasie toegepas word. Om produktiwiteit te verhoog en arbeidskoste te verminder, moet produsente kyk na gevorderde snoeitegnieke soos meganiese snoeigereedskap.

Presisietegnologie verbeter doeltreffendheid. Terreinontledingsinstrumente, GPS-gebaseerde bemesting en alternatiewe opleistelsels help produsente om produksie te optimaliseer.

'n Produsent in die kusstreek het byvoorbeeldsy arbeidskoste met 30% verlaag deur 'n vertikale lote-posisioneringstelsel met 'n oop-hangstelsel te vervang, sonder om die gehalte van die wyn in te boet.

Suid-Afrika beskik ook oor 'n ryk verskeidenheid van wyndruifkultivars en -klone. Vititec bestuur meer as 100 kultivars en 600 klone, wat sorgvuldig gekies en gesuiwer word vir aanpasbaarheid en siekteweerstand.

Kry die regte feite

Waninligting oor wyn bly 'n deurlopende uitdaging vir die bedryf.

Volgens Smuts dra burgerlike optrede en ongegronde uitsprake oor die sogenaamde gesondheidsrisiko's van wynverbruik by tot die verspreiding van verkeerde persepsies, ondanks wetenskaplike bewyse wat die voordele van matige wyninname ondersteun.

Iets wat vir Vinpro baie belangrik is, is om daartoe verbind te bly om akkurate, tegniese en wetenskaplike inligting oor wynproduksie en -verbruik te versprei, en om misleidende sienings met feite te weerlê.

'n Veerkragtige toekoms

As daar na al die uitdagings in die bedryf gekyk word, kry die Suid-Afrikaanse wynbedryf dit reg om altyd veerkragtig te wees.

Deur innovasie, volhoubaarheid en strategiese aanpassings te prioritiseer, vind produsente maniere om ekonomiese en omgewingsonsekerheid te navigeer.

Van die hulpmiddels wat gebruik word, is gevorderde tegnologie, verbeterde doeltreffendheid en 'n verbintenis tot biodiversiteit. Hierdeur posisioneer die bedryf hom vir langtermynsukses in 'n mededingende globale mark.

Daar is ook goeie samewerking tussen wynprodusente, navorsers en beleidmakers wat ontwikkeling van volhoubare praktyke verseker.

Dit is ook belangrik dat boere bemagtig word met die nuutste kennis en tegnologieë deur van opleiding en navorsing gebruik te maak. Smuts beklemtoon dat opleiding 'n ingesteldheid van nuuskierigheid en aanpasbaarheid moet kweek, terwyl samewerking met opvoedkundige instellings soos die Universiteit Stellenbosch en die Elsenburg-landboukollege noodsaaklik is om te verseker dat die bedryf se vaardighede en mensekrag op peil bly.

Deur volhoubare boerderymetodes te bevorder en omgewingsvriendelike tegnologie te implementeer, verseker produsente dat toekomstige geslagte steeds 'n florerende wynbedryf sal hê.

SPELETJIES VANDAG

CTA