Landbou

Nóg slegte nuus vir lekkerbekke

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister
Sjokoladepryse het skerp gestyg en kan nog vir die res van die jaar ook styg, volgens FNB se senior landbou-ekonoom.
Sjokoladepryse het skerp gestyg en kan nog vir die res van die jaar ook styg, volgens FNB se senior landbou-ekonoom.

Sjokolade-liefhebbers wat gedink het sjokolade raak darem nou te vinnig duur, is reg.

Die gemiddelde prys van 'n plak sjokolade van 80 g was in Februarie R22,48, wat 4,3% duurder is as in Januarie en byna 17% duurder as 'n jaar gelede, sê Paul Makube, senior landbou-ekonoom by FNB.

Die prysstygings kan nog 'n redelike tyd voortduur, soos blyk uit die jongste pryse van kakao wat laat in Maart tot 'n rekord van $9 733 per ton gestyg het, en onlangs selfs tot $10 051 per ton gestyg het weens slegte weer wat oessyfers in belangrike produksiegebiede in die wêreld knou.

Sjokolade is die gewildste en grootste produk van kakaoverwerking. Makube verwag wel prysstygings sal stelselmatig wees om potensiële skokke in skerp veranderende vraag te probeer vermy.

Kakaoproduksie in die Ivoorkus was in die afgelope ses maande 28% laer as 'n jaar gelede teen 1,3 miljoen ton. Die Ivoorkus se huidige kakaoprodukseisoen eindig in September en die voorspelling is dat dit tot die laagste vlak in agt jaar tot 1,75 miljoen sal daal, volgens die kakaohandelaar Ecom Agroindustrial. Dit is 22% laer as 'n jaar gelede.

Paul Makube, senior landbou-ekonoom van FNB.
Paul Makube, senior landbou-ekonoom van FNB.

In Ghana word 'n kakao-oes verwag wat die kleinste in 22 jaar sal wees, teen tussen 422 500 en 425 000 ton. Dit is grootliks weens siektes wat uitgebreek het en ongunstige weerstoestande.

Die Internasionale Kakao-organisasie verwag dat kakaovoorraad vanjaar met 11% tot 4,45 miljoen ton sal daal, en stygende kakaopryse kan die vraag met 5% per jaar tot 4,78 miljoen verlaag.

Daar is wel positiewe tekens wat dui op potensiële herstel in sekere produksiegebiede. Onlangse voorspellings dui op 'n vinnige ommeswaai van die El Niño-weerpatroon na La Niña. Dit kan positief wees vir kakaoprodusente in Wes-Afrika, wat dan natter weer kan verwag.

Makube verwag dit kan beteken 'n groter mate van balans tussen die vraag en aanbod kan teen volgende jaar realiseer, wat 'n korreksie in sjokoladepryse kan beteken. Die hoër kakaopryse sal hopelik ook herinvestering in produksie aanmoedig en die groot wisseling in verskaffing kan vermy. Hy waarsku wel dat volgehoue hoë kakaopryse die vraag na sjokolade sodanig kan knou dat dit die skuif na alternatiewe produkte kan versnel.

SPELETJIES VANDAG

Spesiaal vir intekenare!CTA

Elke dag ’n nuwe blokraai, sudoku en woordblom asook ’n weeklikse vasvra élke Vrydag. 

SPEEL SAAM