Landbou

Opwinding oor nuwe variëteite

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister
Ten spyte van laer as verwagte volumes, is die appel- en peer­produsente steeds positief oor vanjaar se oes.
Ten spyte van laer as verwagte volumes, is die appel- en peer­produsente steeds positief oor vanjaar se oes.

Daar heers heelwat opwinding onder appel- en peerprodusente, want die gehalte van die vrugte vir die huidige seisoen lyk baie belowend.

Tru-Cape is baie optimisties oor die seisoen, ten spyte van die uitdagings vroeër die seisoen.

Luidens 'n verklaring van Tru-Cape is die marktoestande ook gunstig vir die bedryf.

"Die 2023/'24-seisoen het tien tot 14 dae vroeër as gewoonlik afgeskop, en danksy die Ceres-streek wat weer op dreef is ná verlede jaar se haelskade, ervaar ons 'n normale oes van bevredigende gehalte," sê Roelf Pienaar, besturende direkteur van Tru-Cape Fruit Marketing.

Calla du Toit, verkrygings­bestuurder by Tru-Cape, reken dat Tru-Cape se totale volume laer sal wees as aanvanklik verwag. Die bedryfsorganisasie Hortgro het 'n toename van 7% vir sy appel- en 1% vir sy peeruitvoer geskat.

Du Toit sal dit egter nie as 'n slegte seisoen beskryf nie, want hy reken dit gaan inkomstegewys bogemiddeld wees en produksiegewys gemiddeld.

Volgens Attie van Zyl, besturende direkteur van Two-a-Day Group Limited, verwag hulle dat die volumes in die areas van Elgin, Grabouw, Villiersdorp en Vyeboom (EGVV) vanjaar effens hoër gaan wees.

"Die peervolumes is effens laer as ons ramings, maar steeds in lyn met verlede jaar se oes. Ons appelvolumes (veral Royal Gala, Bigbucks en Kanzi) het verhoog vanaf verlede jaar, maar nie soveel soos verwag nie weens sonbrand-kwessies," sê Van Zyl.

Hy meen dat hoewel die vloede van verlede jaar nadelig was vir variëteite soos Forelle, was die water voordelig vir latere variëteite. "Dit beklemtoon hoe belangrik dit is om met 'n verskeidenheid van kultivars te boer."

Die Ceres-streek het homself gereed gemaak vir 'n groot oes, maar die nat blomperiode en die seisoen wat vroeër aangebreek het, het 'n kleiner oes en kleiner vruggroottes tot gevolg gehad.

Volgens Francois Malan, Ceres Fruit Growers se besturende direkteur, het dit die volumes van die appels en pere beïnvloed.

Du Toit sê produsente in die Langkloof het ook probleme gehad met reën tydens blomtydperk. 'n Ligpunt is dat die streek die minste haelskade in 14 jaar gehad het. "Die Langkloof se volumes is ook laer, maar die gehalte is goed."

Nuwe variëteite lyk belowend

Malan en Du Toit is veral opgewonde oor die gehalte van die Royal Gala-appels in Ceres.

"Dit was bogemiddeld, en die pryse is ook na wense. Suid-Afrika word toenemend 'n belangrike rolspeler wanneer dit kom by Gala-tipe appels," sê Du Toit.

Malan is ook optimisties oor die bergbaarheid van die seisoen se vrugte. "Die pere se suurvlakke is hoër as die afgelope twee jaar, wat 'n goeie aanduiding vir bergbaarheid is."

Daar is nie net goeie nuus nie, want weens die warm somer met dae met baie hoë temperature, het van die vrugte sonbrand opgedoen. Variëteite soos Fuji en Pink Lady se kleur lyk nie na wense nie. Malan sê dit is veral 'n jammerte omdat daar goeie potensiaal vir die vrugte was.

Volgens Du Toit is dit waardevol om op die voorpunt te wees as dit by nuwe variëteite kom.

"Die waarde van nuwe seleksies en beter mutasies is duideliker as ooit. Die nuwe variëteite kan weeruitdagings beter weerstaan, wat 'n beduidende effek op gehalte en winsgewendheid het."

Van Zyl sê dat Two-a-Day Group Limited ook tans met 'n reeks nuwe variëteite eksperimenteer.

"Ons het onlangs verskeie nuwe appelkultivars geproe wat tans aan al ons vereistes voldoen. Hulle is goed op pad om semi-kommersieel getoets te word.

"Ek is seker sommige van hul­­le sal binne 'n dekade hoofstroom­­variëteite word."

Positiewe en negatiewe aspekte van seisoen

Meer as 'n derde van die totale oes is al verpak en bemark.

"Die oes het vanjaar mooi saam met Ramadan geval en ons vrugte was betyds in die mark, wat 'n groot seën was.

"Daar is tans 'n goeie aanvraag na Royal Gala en Braeburn, waarvan daar by van ons mededingers 'n tekort is. Die aanvraag uit Engeland is ook baie goed, en hulle het ons vrugte vroeër as gewoonlik begin inneem," sê Conrad Fick, Tru-Cape se bemarkings­direkteur.

Pienaar deel dat die Verre Ooste, die Midde-Ooste en Europa tans gunstige markte vir Suid-Afrikaanse appels en pere is. Suid-Afrika is die grootste uitvoerder van appels vanaf die Suidelike Halfrond na die Verre- Ooste.

"Die onsekerheid rondom die konflik in die Midde-Ooste en Oekraïne skep geleenthede vir vrugte vanaf die Suidelike Halfrond. Suid-Afrika se nabyheid aan die uitvoermarkte, ons tydsberekening in die mark, en ons laer produksiekoste is tot ons voordeel, veral in die Verre­­-Ooste. Ten spyte van ons uitdagings en kwessies vaar ons verbasend goed," sê Pienaar

Hy is veral opgewonde oor die toenemende aanvraag na Bigbucks/Flash Gala vanaf Indië en die Verre-Ooste.

Logistiek by egter 'n probleem as die vrugte na die mark moet gaan.

"Die nuwe bestuur by Transnet het die afgelope twee maande 'n positiewe impak gehad, maar daar is steeds ruimte vir verbetering in die Kaapstad-hawe. Ons was ook gelukkig dat minder wind gedurende Februarie tot minder vertragings gelei het. Die logistieke krisis is egter nog lank nie verby nie," sê Pienaar.

Plaaslik is die aanvraag en pryse relatief stabiel.

SPELETJIES VANDAG

Spesiaal vir intekenare!CTA

Elke dag ’n nuwe blokraai, sudoku en woordblom asook ’n weeklikse vasvra élke Vrydag. 

SPEEL SAAM