Die aansienlik duurder pryse wat jy tans vir piesangs betaal, is eintlik 'n tydige herinnering oor hoe ernstig Suid-Afrika klimaatsverandering en fratsweerverskynsels moet opneem.
Die Buro vir Voedsel- en Landboubeleid (BFAP) se uiteensetting van Mei se kosprys-inflasiesyfer, soos gemeet deur Statistieke Suid-Afrika, wys piesangs het verlede maand meer as 21% meer gekos as dieselfde maand verlede jaar.
Vrug met hoogste styging
Dit is die vrug met die hoogste prysstyging op 'n jaargrondslag volgens BFAP se lys, met slegs twee groentesoorte - blaarslaai (27,1%) en wortels (23,4%) - wat hoër prysstygings beleef het.
Konsentraat vir vrugtesap het die eerste plek op dié ongewenste lys beklee nadat die prys met 32,6% op 'n jaargrondslag gestyg het.
Oorhoofse voedselprysinflasie op 'n jaargrondslag was 4,8%.
Crookes Brothers, 'n landboumaatskappy wat op die JSE genoteer is, het Maandag met die bekendmaking van sy jaarresultate vir die boekjaar tot einde Maart melding gemaak van hoe slegte weer sy piesangboerderye beïnvloed het.
Hoewel die inkomste van sy piesangbedrywighede netjies met 31% tot R198,4 miljoen op 'n jaargrondslag gestyg het, was dit 'n boekjaar wat deur ontwrigting gekenmerk is.
Fratsweer
Die Mawecro-plaas naby Tonga in die suidooste van Mpumalanga het weens onverwagte ryp bykans 16 000 trosse aan die begin van die vorige seisoen verloor, maar het mettertyd bevredigend herstel.
Maar 'n groter terugslag het daarna getref. In laat Oktober verlede jaar is die Nicoskamp- en Amanxala-plase deur 'n verwoestende windstorm getref. 'n Geraamde 189 330 plante is in die storm verwoes, waarvan meer as 81 000 van daardie plante se bloeiende trosse geoes sou word.

Boonop het die storm buurplase ook gepeper, wat beteken streekvoorraad is benadeel en dus moes pryse styg.
Tog kon Crookes Brothers self voordeel uit die terugslag trek deur 'n kombinasie van goeie ander oeste en hoër pryse. Trouens, die maatskappy het 'n bedryfswins van R51,6 miljoen vir sy piesangonderneming gegenereer, wat 'n rekordbedrag is.
Verdere slegte nuus
Nog 'n windstorm by Mawecro gaan 'n beduidende impak op die 2025-'26-oesseisoen hê omdat 'n geraamde 108 000 trosse beskadig is, maar dit blyk darem nie verwoes te wees nie.
Crookes Brothers sê aan aandeelhouers hy is "versigtig optimisties" oor pryse wat bestendig hoër in die lopende boekjaar sal bly weens voorraad wat betreklik beperk bly.
Dit is natuurlik nie goeie nuus vir plaaslike verbruikers nie.








