Suid-Afrikaanse boere behoort ontwikkelinge met die formele handelsbeleid van die VSA nougeset te volg na gelang van Donald Trump, aangewese Amerikaanse president, se verkiesingsbeloftes.
Dit is omdat globale landbouhandel ná Trump se oorwinning een bykomende risikofaktor is wat onsekerheid skep, skryf Wandile Sihlobo, hoofekonoom by Agbiz, in die organisasie se jongste nuusbrief.
Trump het tydens sy verkiesingsveldtog gesê dat die VSA tariewe van tot 20% op alle invoergoedere kan hef, en 60% op goedere uit China.
Dit is onseker hoe China op sulke tariewe gaan reageer. Handelspanning tussen China en die VSA het sedert 2018 toegeneem toe die VSA invoertariewe op Chinese produkte gehef en China teruggekap het met invoertariewe op landbouprodukte uit die VSA.
As China soos die laaste keer weer wraak neem, sal die Amerikaanse sojaboon- en mielieboere asook varkvleisprodusente volgens Sihlobo weer negatief geraak word.

"Ons sal dit kan sien in die ontwrigtings in internasionale graan- en oliesaadpryse. Die VSA is 'n beduidende produsent en wanneer sy graanmark se aktiwiteite ontwrig word, is die impak daarvan geneig om wêreldwyd gevoel te word."
As Trump deurdruk met sy beloftes van hoë invoertariewe op China, en dié land kap terug, sal daar onbestendigheid in die globale pryse van oliesade en graan wees. "Amerikaanse boere sal waarskynlik groter druk voel as boere in ander streke. Boere in Suid-Amerika sal voordeel trek as 'n ander bron vir China om sojabone te lewer."
Suid-Afrika is volgens Sihlobo 'n klein rolspeler in die internasionale graanmark, en is nie 'n deelnemer in die Amerikaanse mark vir graan en oliesade nie.
"Die enigste risiko is wanneer Amerikaanse boere hul produkte na tradisionele Suid-Afrikaanse markte in die Verre Ooste herlei en sodoende meer mededinging en afwaartse prysdruk skep. Dit is ook iets wat ons nougeset sal moet monitor."
Agbiz glo egter daar sal 'n minimale regstreekse impak op Suid-Afrika wees.
"Of die VSA enige ander invoertarief kan instel wat die Suid-Afrikaanse boeregemeenskap direk kan raak, moet nog gesien word. Ons is tans geneig om te glo die risiko's kan steeds minimaal wees."
Suid-Afrika behoort daaraan te werk om sy landbou-uitvoermarkte te diversifiseer. "In 'n gefragmenteerde wêreld soos vandag behoort 'n uitvoergeoriënteerde sektor meer te doen en hulpbronne daaraan te bestee om uitvoermarkte te verbreed en die risiko te diversifiseer. Suid-Afrika se landbougroei hang af van die land se sukses om soveel as moontlik uitvoermarkte te skep. Brics bly, bykomend tot die behoud van bestaande uitvoermarkte, so 'n roete," skryf Sihlobo.





















