Landbou

Uitdagings moet opgelos word

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister
Tydens die onlangse Sitrusberaad is die belangrikheid van meer uitvoere onderstreep.Foto: VERSKAF
Tydens die onlangse Sitrusberaad is die belangrikheid van meer uitvoere onderstreep.Foto: VERSKAF

Kommernisse oor onder meer Agoa en meer marktoegang vir sitrusuitvoere was net 'n paar van hierdie jaar se groot besprekingspunte tydens die jaarlikse beraad vir sitrus.

Die vyfde Sitrusberaad wat deur die Sitruskwekersvereniging van Suider-Afrika (CGA) aangebied word, het twee weke gelede in Gqeberha plaasgevind waartydens daar oor die bedryf se toekoms en uitdagings met konferensiegangers gepraat is.

Volgens die CGA was een van die belangrikste boodskappe op die beraad dat alhoewel uitdagende tye die sitrusbedryf in die gesig staar, sy groei verseker kan word as markgeleenthede aangegryp word en logistieke uitdagings aangespreek word.

Vanjaar het die landbouminister, John Steenhuisen, die hoofrede op die beraad gelewer waartydens hy die bedryf geprys het vir sy sukses - veral as dit kom by werkskepping.

Kopseer van uitvoere

Die moontlikheid dat Suid-Afrika uit die Amerikaanse Wet op Groei en Geleenthede in Afrika (Agoa) uitgeskop kan word, is een van die probleme wat tans die bedryf in die gesig staar.

Die bedryf voer vrugte na die VSA onder Agoa uit en volgens Steenhuisen sal duisende werke in gevaar wees indien Suid-Afrika se lidmaatskap van Agoa beëindig word - iets wat ook 'n direkte impak op die sitruswaardeketting sal hê.

"Ek moedig alle belanghebbendes aan om die hernuwing van Agoa te prioritiseer, of ten minste handel met tariewe en ooreenkomste te maak wat ons sal toelaat om ons uitstaande sitrusprodukte steeds te laat vloei na die markte wat so lief vir dit is," sê hy.

Tydens die beraad het Michelle Phillips, uitvoerende hoof van Transnet, meer oor Transnet se vordering met spoorweë en hawens met die gehoor gedeel.

"Die spoorweg is nou oop vir private treinoperateurs. Ons sal dus sien hoe hierdie sisteem meer kompeterend word.

"Hierdie seisoen moet dit beter werk as laasjaar," sê sy.

In terme van hawens, het Phillips aangedui dat daar in 2024 en 2025 toerusting ter waarde van R3,4 miljard vir die agt hawens aangekoop is en hulle beplan om nog R4 miljard se toerusting vir vyf hawens aan te koop teen 2026.

Nuwe markte moet betree word

Steenhuisen het tydens sy toespraak ook klem gelê op die belangrikheid daarvan om nuwe markte te ondersoek, veral in Asië, die Midde-Ooste en Indië.

Die nuwe uitvoerende hoof van CGA, dr. Boitshoko Ntshabele, stem saam en meen die bedryf se uitvoere het baie potensiaal om te groei. "Verhoogde marktoegang is kardinaal. Projeksies toon dat die bedryf teen 2032 sowat 100 000 werke kan skep en dit kan slegs gedoen word as uitvoere met ongeveer 95 miloen kartonhouers van 15 kg elk vermeerder na 'n totaal van 260 miljoen kissies," sê hy.

SPELETJIES VANDAG

Spesiaal vir intekenare!CTA

Elke dag ’n nuwe blokraai, sudoku en woordblom asook ’n weeklikse vasvra élke Vrydag. 

SPEEL SAAM