Pres. Donald Trump se 30%-invoertarief gaan Suid-Afrika se sitrus onmededingend in Amerika maak, wat landelike ekonomieë soos dié van Citrusdal, wat deur die uitvoersitrusmark onderhou word, gaan verwoes.
So het dr. Boitshoko Ntshabele, uitvoerende hoof van die Sitruskwekersvereniging van Suider-Afrika (CGA), Dinsdag gesê in reaksie op Trump se bevestiging van die tarief wat op 1 Augustus in werking tree.
Ntshabele het Vrydag in 'n verklaring gesê die sitrusuitvoerseisoen is nou op sy hoogtepunt, met projeksies wat aandui dat dit nog 'n rekordjaar sal wees.
Die sitrusseisoen eindig eers in Oktober.
" 'n Tarief van 30% sal verwoesting saai in gemeenskappe wat dekades lank gefokus het op produksie spesifiek vir die Amerikaanse mark."
Netwerk24 het in April berig Gerrit van der Merwe, voorsitter van die CGA en 'n verbouer in die Olifantsriviervallei, sê daar is 35 000 poste wat op die een of ander manier met die uitvoer na die VSA verbind word.
LEES OOK | Trump-tariewe: Tot 35 000 se werk in sitrusbedryf in gedrang
Ntshabele sê Amerikaanse verbruikers het 'n diepe waardering vir Suid-Afrikaanse sitrus en dat uitvoer na dié mark sedert 2017 byna verdubbel het.
Suid-Afrika voer tussen 5% en 6% van sy sitrus na die VSA uit en verlede jaar het dié uitvoer R1,8 miljard beloop.
Suid-Afrika het verlede jaar R10,26 miljard se vrugte, groente, vleis, vrugtesap, wyn, vette en verwerkte kosprodukte na Amerika uitgevoer.
Vraag na volstruisleer kan daal
Hoewel sitrusuitvoer in die grootste gevaar is, is daar ook groot rede tot kommer oor ander landbouprodukte, soos makadamianeute, druiwe, wyn, vrugtesap en volstruisleer, sê AgriSA.
Bykans 60% van die volstruisleer wat Suid-Afrika uitvoer, gaan na die VSA, wat beteken onder meer skoene en handsakke met dié leer in sal vir Amerikaners duurder word. Dit kan die vraag daarna laat taan.

‘Groot slag' vir wynbedryf
South African Wine sê in 'n verklaring aan sy lede Trump se tarief is 'n groot slag vir die wynbedryf.
Nie net gaan dit 'n impak op wynhandel met die VSA hê wat jaarliks meer as R650 miljoen beloop nie, die tarief gaan gevolge inhou vir werkgeleenthede, volhoubaarheid en die verskaffingsketting.
"Wyn, as 'n diskresionêre en pryssensitiewe produk, is veral blootgestel. Die bedryf het reeds te doen met onsekerheid en strawwe kostedruk, insluitend inflasie, logistiek en stygende aksyns," luidens die verklaring.
"Dié tarief voeg nóg 'n las by."
Koste dalk geabsorbeer
Die CGA hoop dat Suid-Afrika gunstige marktoegang na Amerika, China en Indië kan verkry.
Die wynbedryf sê hy gaan voort met sy strategie vir die diversifikasie van uitvoer na ander wêreldmarkte, die verskerping van plaaslike bemarking en om die verskaffingsketting te verbeter.
Maar onmiddellike, praktiese stappe moet ook gedoen word.
"Uitvoerders en eienaars van handelsmerke kyk reeds na hoe om van die koste te absorbeer, pryspunte aan te pas of voorraad te herlei.
"Dit is nie maklike keuses nie, maar dit is noodsaaklik."
AgriSA sê hoewel oproepe vir markdiversifikasie geldig is, kan verskaffingskettings nie oornag herlei word nie.
"Dit beklemtoon die ernstige, onmiddellike impak op streke en produsente wat baie afhanklik is van die Amerikaanse mark," sê Johan Kotze, uitvoerende hoof van AgriSA.
Hoop op ooreenkoms
AgriSA sê die regering moet onmiddellik inspring om beter handelsooreenkomste vir landbou te beding.
Die CGA glo dat 'n wedersyds voordelige handelsooreenkoms tussen Suid-Afrika en die VSA voor 1 Augustus moontlik is.
"Of ten minste dat 'n vrystelling vir seisoenale vars produkte beding kan word.
"Suid-Afrikaanse sitrusprodusente bedreig nie Amerikaanse sitrusprodusente of Amerikaanse werkgeleenthede nie."
Gerhard Papenfus, uitvoerende hoof van die Nasionale Werkgewersvereniging (Neasa), het in 'n paneelbespreking gesê vrystellings is 'n roete wat mense kan verken en het groepe aangemoedig om dit te probeer.
Sekere produkte, soos platinum, word reeds van Trump se tariewe vrygestel omdat 'n tarief daarop nadelig vir Amerika sal wees.













