Vooruitskatting vir graanoes lyk positief

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister
Die vooruitskatting van die graanoes is vanjaar hoër. Foto: Jaco Marais
Die vooruitskatting van die graanoes is vanjaar hoër. Foto: Jaco Marais

Suid-Afrika is vanjaar 'n goeie graanoes te wagte.

Wandile Sihlobo, hoofekonoom by Agbiz, skryf in sy jongste weeklikse nuusbrief die Oesskattingskomitee het op 30 April sy derde produksievooruitskatting vir die land se 2024-'25-produksieseisoen vir somergewasse bekend gestel.

Sewe maandelikse skattings moet nog gedoen word, maar volgens Sihlobo tree gerusstelling teen die derde skatting in oor die akkuraatheid van die data.

Die komitee het in Maart 2025 Suid-Afrika se 2024-'25-produksieskatting vir somergewasse effens verhoog met 0,05% tot 18,01 miljoen ton.

"Dit was inderdaad 'n matige styging, maar dit bly belangrik in 'n tyd waarin sommige bekommerd was dat ons 'n afwaartse aanpassing van die gewas weens die uitermatige reëns sou hê. Die skatting sluit geel- en witmielies, sonneblomsaad, sojabone, grondneute, sorghum en droëbone in."

Mielies

Die oesskatting is volgens Sihlobo 16% hoër teenoor die 2023-'24-produksieseisoen en verteenwoordig 'n ordentlike herstel ná die droogte.

"Terwyl die oorhoofse produksiesyfer inderdaad matig hoër is, was daar sommige aanpassings in die verskeie kommoditeite. Die mielieoes is sedert die Maart 2025-skatting byvoorbeeld met 1% hoër tot 14,66 miljoen ton. Daar is 'n styging in sowel wit- as geelmielies, met oeste wat nou onderskeidelik op 7,75 miljoen ton en 6,91 miljoen ton staan.

"Die mielieoes van 14,66 miljoen ton is 14% hoër op 'n jaargrondslag, wat primêr voordeel trek uit verwagte verbeterings in opbrengs op 'n jaargrondslag."

Die vooruitskattings is heelwat bo Suid-Afrika se jaarlikse behoefte aan mielies van sowat 11,8 miljoen ton wat veronderstel dat Suid-Afrika 'n surplus sal hê en 'n netto uitvoerder van mielies sal bly, skryf Sihlobo.

Oliesade

Wat oliesade betref, word die sojaboon-oes op 2,3 miljoen ton geraam, wat 2,5% laer is in Maart 2025, maar steeds 26% hoër op 'n jaargrondslag. Dié maandelikse afwaartse aanpassing weerspieël kommer oor skade aan die oes ná die onlangse reëns. Die jaarlikse styging is hoofsaaklik vanweë 'n beter algemene opbrengs sedert verlede jaar se droogte.

"Ons neem 'n soortgelyke patroon met sonneblomsade waar, wat gedaal het vanaf 4% in Maart 2024, maar steeds 18% hoër is vanaf die vorige seisoen, wat op 742 800 ton geraam is."

Grondboontjies

Die oes vir grondboontjies word op 64 595 ton (24% hoër op 'n jaargrondslag) geraam, sorghumproduksie op 137 970 ton (41% hoër) en die droëboon-oes op 70 540 ton (40% hoër).

"Oorhoofs neem die landbouseisoen beter vorm aan en dit lyk of dit 'n jaar van herstel in die sektor gaan wees. Verder sal die verbeterde weervooruitsigte met sonniger en droër toestande help om die oes in die komende maande te ondersteun.

"Die uitermatige reëns die laaste paar weke het - toegegee - 'n mate van gehalteskade in sommige streke veroorsaak. Ons sal meer leer oor die omvang daarvan wanneer die oes in die komende weke en maande momentum kry," lui Sihlobo se ontleding.

Uit 'n verbruikersoogpunt is die kwessie van gehalte van gewasse in 'n paar streke nie 'n beduidende bekommernis nie. "Ons gaan voort om 'n algemene versagting van kommoditeitspryse waar te neem, aangedryf deur die verwagte groot oes wat goeie nuus is vir 'n meer gemaklike pad vir voedselinflasie in die tweede helfte van die jaar.

"Veral graanverwante produkte in die kosinflasiemandjie kan in dié kwartaal steeds die uitwerking van die onlangse hoër pryse en stewige graanvoorraad van die begin van die jaar weerspieël voordat ons die voorraad van die nuwe seisoen ontvang."

SPELETJIES VANDAG

CTA