Landbou

Uitvoer van beesvleis groei met 'n enorme 25%

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister
Die rooivleisbedryf kan nou begin herstel van die impak van bek-ek-klouseer. Foto: Unsplash
Die rooivleisbedryf kan nou begin herstel van die impak van bek-ek-klouseer. Foto: Unsplash

Ná 'n paar jaar van uitdagings en 'n afname in uitvoer word vordering bespeur met die uitvoer van Suid-Afrikaanse beesvleis.

Die land se kumulatiewe beesvleis-uitvoer was teen $136 miljoen 25% hoër in die eerste drie kwartale van die jaar teenoor dieselfde tydperk verlede jaar.

Sleutelmarkte sluit in China, Egipte, die Verenigde Arabiese Emirate, Jordanië, Mosambiek, Koeweit, Katar, Saoedi-Arabië, Mauritius en die Seychelle.

Die uitvoer is ook hoër wat volumes betref, nie net prys nie, sê Wandile Sihlobo, hoofekonoom by Agbiz, in 'n verklaring.

Uitdagings vir die Suid-Afrikaanse beesvleisbedryf oor die afgelope paar jaar sluit die gesondheid van vee in. "Ons het rofweg drie jaar van uitbrekings van dieresiektes in die land gehad - bek-en-klouseer by vee, voëlgriep by pluimvee en Afrika-koors by varke."

Hy sê wel dié dieresiektes is nie uniek aan Suid-Afrika nie, maar dat die land se probleme met biosekuriteit onlangs verdiep het.

Wandile SihloboFoto: Argief
Wandile SihloboFoto: Argief

Ses provinsies het in 2022 uitbrekings van bek-en-klouseer aangemeld. Dit was die eerste keer dat die siekte so wyd in die land versprei het. Dit het die regering en die bedryf aangespoor om hul fokus op biosekuriteit en waarnemings op plase te verskerp.

Ander ingrypings wat steeds aan die gang is, sluit in pogings om die land se veeartseny- en verwante ondersteuningsdienste (hoofsaaklik laboratoriums) wat entstofvervaardiging behartig, te verbeter.

Volgens Sihlobo word die koste van dieresiektes in die veebedryf gesien aan die verlies aan vee en die laer uitvoer na wêreldmarkte gedurende uitbrekings. Uitvoer het in 2022 aansienlik met 16% op 'n jaargrondslag afgeneem.

Die departement van landbou het in Oktober aangekondig dat die land vordering gemaak het met die bestuur van bek-en-klouseer. KwaZulu-Natal en die Oos-Kaap ervaar egter steeds uitdagings.

Die departement het aangekondig dat die uitbrekings van bek-en-klouseer wat van 2021 tot 2022 voorgekom het, suksesvol opgelos is in Noordwes, die Vrystaat, Gauteng en Mpumalanga. Omvattende toetse is gedoen op plase wat onder kwarantyn was in die provinsies wat aanvanklik deur die uitbreking geraak is, en die uitslae toon dat die virus nie meer teenwoordig is nie.

"Dit is die verbetering in siektebeheer wat deels bygedra het tot die herstel in die uitvoer. Dit is uitstekende werk deur die bedryf en die regering," sê Sihlobo.

SPELETJIES VANDAG

Spesiaal vir intekenare!CTA

Elke dag ’n nuwe blokraai, sudoku en woordblom asook ’n weeklikse vasvra élke Vrydag. 

SPEEL SAAM