'n Voorgestelde verhoging van 6,83% in aksynsbelasting het kommer in die bedryf veroorsaak.
Hierdie persentasie is in die onlangse begrotingsrede wat gepubliseer is, maar nie formeel ter tafel gelê is nie, uiteengesit.
Volgens die wynbedryf se verteenwoordigende liggaam South Africa Wine is hulle sterk teen hierdie voorgestelde verhoging.
"Hierdie syfer oorskry die jongste verbruikersprysindeks (VPI) met meer as 3,5%, wat onnodige druk plaas op 'n bedryf wat steeds besig is om van ekonomiese druk te herstel," luidens 'n verklaring van die liggaam.
South Africa Wine sê hulle het die afgelope tydperk met die beleidsmakers in gesprek getree en bewyse verskaf dat die bedryf se volhoubaarheid afhang van billike belasting (beperk tot VPI) en beleidsekerheid. "Die huidige aksynsbelasting van die bedryf voldoen reeds aan nasionale tesourie se neergelegde riglyn en daarom glo ons dat enige verdere aanpassings in lyn met inflasie moet wees om stabiliteit vir besighede en werkers regdeur die wynwaardeketting te verseker."
South Africa Wine spreek hul kommer uit dat hierdie verhoging onder meer die herstel van die bedryf kan belemmer en 'n negatiewe impak op onder meer werksgeleenthede, belegging en ekonomiese bydraes kan hê. Daar is ook die kwessie van onwettige alkoholmarkte wat verbruikers dalk sal ondersteun mits die belasting met die voorgestelde persentasie styg.
"Hierdie voorgestelde bo-inflasie-verhoging is in direkte teenstryd met pres. Cyril Ramaphosa se ekonomiese groeiteikens wat in sy staatsrede uiteengesit is. Op 'n tydstip waar die regering daarna streef om die huidige BBP-groei te oorskry deur belegging en ekonomiese hervorming, loop 'n bo-inflasie-aksynsbelastingverhoging die risiko om die teenoorgestelde te bewerkstellig, groei te stuit, belegging te ontmoedig en duisende bestaansmiddele in die wynwaardeketting in gevaar te stel," sê Rico Basson, bestuurshoof van South Africa Wine.
Volgens South Africa Wine het hulle reeds 'n formele voorstel ingedien waarin 'n dringende beroep op die nasionale tesourie gedoen word om hierdie voorgestelde verhoging te herevalueer en hulle is gereed om met die regering saam te werk aan 'n gebalanseerde en volhoubare belastingraamwerk.



















