Maatskappye

G’n belastingimplikasies vir Naspers-aandeelhouers

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister
Naspers gaan sy ingewikkelde oorkruisaandeelhouding met sy internasionale filiaal Prosus uit die weg ruim en die eienaarskapstruktuur vereenvoudig.  Foto: Getty Images
Naspers gaan sy ingewikkelde oorkruisaandeelhouding met sy internasionale filiaal Prosus uit die weg ruim en die eienaarskapstruktuur vereenvoudig. Foto: Getty Images

Naspers-aandeelhouers kry op die ou einde nie meer of minder aandele of het nie 'n keuse van 'n kontantdividend wat betref sy beoogde kapitalisasie-uitreiking nie.

Omdat 'n aandelekonsolidasie outomaties dadelik ná die kapitalisasie plaasvind, bly die aantal Naspers-aandele wat aan aandeelhouers uitgereik is, ná alles steeds dieselfde as voor die transaksie.

Daar is ook nie belastingimplikasies vir aandeelhouers wat betref die jongste aandeelskuiwe nie.

Die doel van die kapitalisasie en konsolidasie is bloot deel van die aftakeling van die ingewikkelde oorkruisaandeelhoudingstruktuur waarin Naspers se filiaal Prosus 'n belang in Naspers het.

Dít blyk uit dokumente wat Naspers einde verlede week uitgereik het nadat die meerderheid aandeelhouers Donderdag op 'n aanlyn vergadering ten gunste van die stappe gestem het.

Die eindresultaat is dat Prosus se belang in Naspers tot 'n minimale vlak verwater sal word, en dié belang sal dan in die ope mark verkoop word om die oorkruisaandeelhouding te verwyder.

Om dit te bereik sal Prosus nie aan die Naspers-kapitalisasie deelneem nie. Naspers se N-aandeelhouers sal 4 999 nuwe Naspers-aandele kry vir elke Naspers-aandeel wat hulle teen 15 September besit. Direk daarna word die aantal Naspers N-aandele weer teen 'n verhouding van een tot 5 000 gekonsolideer, wat in effek beteken aandeelhouers behou maar net dieselfde getal aandele wat hulle voorheen besit het, met die verskil dat Prosus dan nie meer 'n noemenswaardige belang in Naspers sal hê nie omdat hy nie aan die kapitalisasie sal deelneem nie en dus geen nuwe Naspers-aandele sal ontvang nie.

Volgens Naspers sal die kapitalisasie nie as 'n "verkoop" van aandele ingevolge die Wet op Inkomstebelasting geag word nie, en dit is daarom nie 'n belasbare gebeurtenis vir Suid-Afrikaanse belastingdoeleindes nie.

Die finale aankondiging oor die beoogde stappe sal op 4 September op die JSE se Sens-nuusdiens gepubliseer word, het Naspers gesê.

Die laaste dag waarop beleggers nog in Naspers-aandele kan verhandel voor die kapitalisasie en konsolidasie is Dinsdag 12 September. Die Naspers-aandeleregister sal gesluit wees tussen 13 en 15 September, en Vrydag 15 September is die rekorddatum vir die transaksie.

Maandag 18 September is die verwagte datum waarop die kapitalisasie en gelyktydige konsolidasie van krag word. Nuwe aandeelsertifikate sal op daardie dag uitgestuur word aan gesertifiseerde aandeelhouers.

Volgens Naspers sal die oorblywende Naspers-aandele wat Prosus ná die transaksie nog besit, van Maandag 18 September af verkoop word.

Om kans te gee dat die transaksie afgehandel kan word, sal Naspers sy deurlopende aandeleterugkoopprogram tydelik staak van 30 Augustus tot 18 September. Dit hervat op 19 September, het die groep Vrydag gesê.

• Netwerk24 is deel van Media24, 'n filiaal van Naspers.

SPELETJIES VANDAG

Spesiaal vir intekenare!CTA

Elke dag ’n nuwe blokraai, sudoku en woordblom asook ’n weeklikse vasvra élke Vrydag. 

SPEEL SAAM