Canal+ se belang in MultiChoice kom al hoe nader aan die 50%-kerf.
Die Franse televisiereus, wat in April 'n aanbod op die tafel geplaas het om alle MultiChoice-aandeelhouers uit te koop, het sy belang intussen tot 45,2% verhoog.
Volgens die Oornamereguleringspaneel het Canal+ van 8 tot 10 Mei nog sowat 7,4 miljoen aandele vir meer as R882 miljoen gekoop, dus 'n gemiddelde prys van R119,66.
Sedert 9 April, die dag nadat die bindende aanbod aan MultiChoice gedoen is teen 'n prys van R125 per aandeel, koop Canal+ nog op elke handelsdag aandele op en van die mark af.
Die jongste reeks transaksies beteken die groep het al byna R3,9 miljard op 38 miljoen aandele bestee.
Canal+ besit nou nagenoeg 200 miljoen MultiChoice-aandele en moet nog 243 miljoen koop. Indien hy nou verkrygings staak en wag totdat die aanbod aanvaar word, sal hy teen R125 per aandeel R30,3 miljard vir die res nodig hê.
Op 9 April sou Canal+ meer as R41 miljard nodig gehad het om ander MultiChoice-aandeelhouers teen R125 per aandeel uit te koop.
Die R30,3 miljard plus die jongste R3,9 miljard bring Canal+ se besteding op R34,2 miljard te staan. Alle bedrae is afgerond, maar dit beteken deur voort te gaan om aandele te koop voordat die transaksie voltrek is, het Canal+ reeds R6,8 miljard bespaar.
Canal+ belê nou al jare lank in MultiChoice, maar die langtermynplan - 'n oorname - is eers in Januarie bekend gemaak. Canal+ stel veral belang in MultiChoice se reikwydte in Afrika en glo die groter groep sal reuse soos Netflix, Disney+ en Amazon Prime die stryd kan aansê om markaandeel in stromingsdienste te wen.
MultiChoice besit Showmax en Dstv.





















