Maatskappye

Ithuba bedryf Lotto tydelik vir jaar lank

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister
Ithuba Holdings gaan die Nasionale Lotery ’n jaar lank tydelik bedryf.  Foto: Argief
Ithuba Holdings gaan die Nasionale Lotery ’n jaar lank tydelik bedryf. Foto: Argief

Suid-Afrikaners se kans om geld met die Nasionale Lotery te wen leef voort nadat 'n tydelike lisensie vir die bedryf daarvan op die nippertjie toegestaan is.

Die lisensie van Ithuba Holdings, wat die lotery die afgelope agt jaar bedryf het, het Saterdag verstryk.

Parks Tau, minister van handel, nywerheid en mededinging, het egter Saterdagmiddag laat in 'n verklaring aangekondig dat hy op advies van die Nasionale Loterykommissie (NLK) 'n ooreenkoms vir 'n tydelike lisensie met Ithuba onderteken het. Die lisensie is met ingang 1 Junie vir 12 maande geldig.

Dit sal volgens hom die voortsetting van die bedrywighede van die lotery in die oorgangstyd vanaf die derde na die vierde lotery-operateur verseker.

Sizekhaya Holdings

Dié stap kom nadat Tau Woensdag aangekondig het dat Sizekhaya Holdings die suksesvolle bieër was om as die vierde operateur van die nasionale lotery te dien.

Die waarde van die agtjaartermyn beloop R180 miljard.

Sizekhaya se aanstelling tree volgens Tau op 1 Junie 2026 in werking en vereis dat daar 'n oorgangstydperk sal wees tussen die bedrywighede van die derde en die vierde operateur.

Dit was nadat die hooggeregshof in Johannesburg beslis het dat Tau teen 28 Mei moet aankondig watter maatskappy die lotery vir die volgende agt jaar gaan bedryf.

Die hof het ook die toestaan van 'n tydelike eenjaarlisensie ongeldig verklaar, maar dit vir vyf maande opgeskort, wat beteken het 'n tydelike operateur mag die lotery in dié tyd bedryf.

‘Verskil' met hofuitspraak

Tau het gesê hy verskil met die uitspraak van die hooggeregshof op 21 Mei waarin bevind is dat die versoek vir voorstelle vir die tydelike lisensie nie geldig was nie, en hy het appèl teen die uitspraak aangeteken.

"Die hof het egter in sy uitspraak van 21 Mei aanvaar dat dit in die openbare belang is dat die bedrywighede van die Nasionale Lotery moet voortgaan om inkomste te genereer ten einde verdienstelike organisasies te finansier ongeag die feit dat die hof nie tevrede was met die proses vir die versoek van voorstelle nie," lui Tau se verklaring.

"Bykomend daartoe het 'n ander hof my mag om 'n tydelike lisensie toe te staan in sy uitspraak op 30 Mei bevestig.

"Dit is in die konteks van die twee hofuitsprake op 21 en 30 Mei dat ek die advies van die kommissie, dat ek 'n tydelike lisensie-operateur op 'n dringende grondslag kan aanwys, gevolg het.

"Ek is bly dat die bedrywighede van die Nasionale Lotery nie onderbreek sal word gedurende die oorgang vanaf die derde na die vierde operateur nie en dat verdienstelike organisasies sal voortgaan om ondersteuning te ontvang," lui Tau se verklaring.

- philda.essop@24.com

SPELETJIES VANDAG

Spesiaal vir intekenare!CTA

Elke dag ’n nuwe blokraai, sudoku en woordblom asook ’n weeklikse vasvra élke Vrydag. 

SPEEL SAAM