Rekordgetal vraghouers deur Transnet-hawens

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister
Transnet Port Terminals sê sy hawestatistieke vir die afgelope ses maande toon groot verbeterings.
Transnet Port Terminals sê sy hawestatistieke vir die afgelope ses maande toon groot verbeterings. (Foto: TPT)

Transnet Port Terminals (TPT) het die afgelope week net meer as 100 000 20-voet-ekwivalente vraghouers gehanteer.

Dit is die vierde keer in die lopende boekjaar dat TPT se houerkaaie meer as 100 000 standaard-vraghouers per week hanteer. Dit is ’n mylpaal wat 10 jaar gelede laas behaal is, het Jabu Mdaki, uitvoerende hoof van dié Transnet-filiaal, in ’n verklaring gesê.

TPT spog met ’n nuwe maandelikse rekord van 477 119 houers wat gehanteer is, asook ’n kwartaallikse rekord van 1,292 miljoen houers. Mdaki sê dis ’n bewys van die herstelproses wat by Transnet in volle gang is.

Ander prestasies in die afgelope week was by die Ngqura-houereindpunt in die Oos-Kaap, waar daaglikse kraanskuiwe met 60% verbeter het tot 2 760 skuiwe in een dag.

In totaal het TPT in die afgelope ses maande 14 prestasierekords oortref, wat insluit daaglikse, weeklikse en jaarlikse houer- en voertuigvolumes, asook trein-omdraaitye en laaikoerse.

Nuwe toerusting en beter bestuursinisiatiewe

Die verbeterings is volgens Mdaki danksy nuwe toerusting wat by die Durbanse en Kaapse houereindpunte ontplooi is, asook ’n skip-tot-kaai-kraan by die Port Elizabeth-houereindpunt. Transnet noem sy hawe in Gqeberha steeds die Port Elizabeth-hawe.

Daar is ook meer as 200 houerkarweiers en sleepwaens by al die houereindpunte ontplooi en toegespitste instandhouding het gehelp sorg dat minder toerusting onklaar raak en dat dit vir langer tye in bedryf kan bly.

TPT het ook bestuursinisiatiewe ingestel, soos ’n vierde skof om seker te maak werkers kry genoeg rus tussenin, wat ook tot beter prestasie lei.

By die Kaapse houerkaai het die skeepswerkure met 32% verbeter vergeleke met ’n jaar gelede, en by die Ngqura- en Durbanse houerkaaie met onderskeidelik 27% en 24%.

Die Port Elizabeth-houerkaai het sy skeepswerkure met 16% verbeter teenoor ’n jaar gelede.

TPT se voertuig-eindpunte het ook sedert die begin van die boekjaar in April nuwe rekords behaal. Die Oos-Londense voertuigeindpunt het in April 252 eenhede per uur hanteer. Die Durbanse voertuigeindpunt het in die week tot einde Augustus sy tweede beste prestasie nog behaal deur 22 267 eenhede te hanteer.

Die Richardsbaaise losmaat-vrageindpunt het sy laaikoers vir magnetiet in Junie tot ’n rekord van 1 973 ton per uur verbeter.

– francois.williams@24.com

SPELETJIES VANDAG

CTA