Bedrywighede by die hawens wat deur Transnet bestuur word, is sedert Woensdag geleidelik hervat, het die Transnet Nasionale Hawe-owerheid (TNPA) Donderdagaand gesê.
Bedrywighede by die Port Elizabeth-grootmaat-eindpunt in Gqeberha, asook die ysterertskaai by Saldanha en die veeldoelige vrageindpunt in Kaapstad is Woensdag hervat nadat dit weens die slegte weer om veiligheidsredes opgeskort is, sê TNPA.
Die Kaapstad-houerkaai ervaar egter steeds hoë deinings en bly gesluit weens die wind. Dit het 'n impak op twee vragskepe wat nie kon vasmeer nie.
TNPA monitor wel die bewegings van kleiner skepe en sal hulle steeds toelaat om vas te meer.
Geen voorvalle is in die hawens aangemeld nie en TNPA bly daartoe verbind om die veiligheid van werknemers en hawe-infrastruktuur te verseker, lui sy verklaring.
Intussen werk die Oos-Kaapse vrageindpunte met tussenposes in die belang van werknemers se veiligheid. Die Wes-Kaapse vrageindpunte sal na verwagting teen Vrydagmiddag hul bedrywighede hervat. Die hawens in KwaZulu-Natal werk soos normaalweg.





















