Transnet het die afgelope week 15% meer vraghouers by al sy houerhawens hanteer as sy weeklikse teiken.
Die meer as 100 000 standaard-vraghouers (20-voet-ekwivalente eenhede oftewel TEU's) wat hanteer is, is die meeste wat al in een week hanteer is sedert die rekord van 101 871 eenhede wat in die 2018-boekjaar behaal is.
Transnet Port Terminals (TPT) skryf die volgehoue verbeterings in prestasie toe aan die inwerkingstelling van sy herstelplan.
Teikens vir die aankoms, vasmeer en vertrek van skepe is ook oorskry, het TPT gesê. Die hantering van skepe is in pas met die ooreenkomste wat die TPT met skeepsrederye het en daar was oor die afgelope week tot en met 20 Julie geen agterstande of vertragings by enige van die houerkaaie landwyd nie, het TPT in 'n verklaring gesê.
Skeepsrederye
Die spoed waarteen hawe-operateurs vragskepe hanteer, is belangrik vir skeepsrederye, wat soms bo-heffings per houer op kliënte hef weens opeenhopings in hawens. Hoe langer dit duur vir 'n vragskip om buite 'n hawe te moet wag voordat dit kan vasmeer en vrag kan op- en aflaai, hoe groter die ekstra koste aan brandstofverbruik en verlore inkomste vir die redery weens skedules by die volgende hawens op sy reisplan wat misgeloop word.
Hoe het Transnet dit reggekry?
Die inisiatiewe wat TPT ingestel het om produktiwiteit te verhoog, sluit in intydse prestasieverslagdoening, 'n nuwe aansporingskema, 'n skerp fokus op die vervanging van toerusting, asook die instel van 'n vierde skof.
Die aflewering van belangrike vraghanteringstoerusting soos rubberwiel-bokkrane, buidelwaens, houerkarweiers en houerhanteerders het bygedra tot groter vragvolumes en beter produktiwiteit.
Nog nuwe toerusting gaan voor die einde van die jaar vir die Kaapse en Durbanse hawens aankom.
Die verkryging van toerusting kon versnel word danksy hulp van die tesourie.
Sitrusseisoen in volle gang
Die beter vraghanterings kom te midde van die sitrusuitvoerseisoen. TPT mik daarna om die seisoen sterk af te sluit voordat die kleinhandelseisoen - wanneer invoergoedere gemik op die tradisioneel besige inkopieseisoen in die aanloop tot die Kerstyd - in Oktober begin.
Die hawens waar TPT houervrag hanteer, sluit in die Durbanse houereindpunte Pier 1 en Pier 2, die Kaapstadse houerkaai en die houereindpunte by die Ngqura- en Port Elizabeth-hawens in Gqeberha. (Transnet behou die naam Port Elizabeth vir sy hawe in die Oos-Kaap, al het die naam van die stad na Gqeberha verander.)
TPT hanteer jaarliks meer as 4 miljoen houers en wil volumes verhoog deur nuwe vennote en markte te ondersoek.





















