Maatskappye

Woolies Dash wroem met groei van 23%

Woolworths Suid-Afrika se aanlyn verkope het sy sterk groei in die afgelope ses maande voortgesit.
Woolworths Suid-Afrika se aanlyn verkope het sy sterk groei in die afgelope ses maande voortgesit. (Foto: Gallo Images)

Woolworths Suid-Afrika se aanlyn verkope het sy sterk groei in die afgelope ses maande voortgesit.

Woolies Dash se verkope het met 23% gestyg en aanlyn verkope is nou verantwoordelik vir 7,2% van Woolworths SA se voedselverkope, luidens ’n handelsverklaring wat die maatskappy uitgereik het vir die halfjaar geëindig 28 Desember 2025.

In die ooreenstemmende halfjaar verlede jaar was Dash se groei op ’n jaargrondslag 49,2% en het aanlyn verkope 6,4% van Woolworths se kosverkope verteenwoordig.

LEES OOK | Woolies Dash laat wiel, met groei van bykans 50%

Die aanlyn verkope op Checkers Sixty60 het in die halfjaar tot einde Desember 2024 self sterk groei van 47,1% aangeteken. Die resultate vir die halfjaar tot einde Desember 2025 is nog nie bekend nie.

Woolworths sê ten spyte van relatief gedempte verbruikersvertroue en -besteding, was sy groei in omset en verkope bo die markgemiddelde op 6,8% in die ses maande onder oorsig.

Verkopegroei het in die laaste sewe weke van dié tydperk verlangsaam tot 5,3%. Prysbewegings het stelselmatig afgeneem en was oor die betrokke ses maande gemiddeld 4,6%.

Só verduidelik Woolworths prysstygings

Woolworths verwys in die aankondiging na die “prysbeweging” op produkte.

Die groep is in 2020 gevra wat beteken die prysbeweging waarna hy verwys en hoe dit gemeet word. LEES OOK | Klante skrik steeds nie vir Woolies Food se pryse

Volgens die winkelgroep bereken hy die prysbeweging aan die hand van ’n geweegde gemiddelde eenheidsprys.

Dit is verkope gedeel deur eenhede wat verkoop is.

Volgens die groep weerspieël dit die impak van klante wat die mengsel van produkte in hul mandjies verander en enige verandering in die verpakkingsgrootte.

.
. (.)

Klere, skoonheid en tuis

Die omset- en verkopegroei vir die afdeling klere, skoonheid en tuis was onderskeidelik 6,2% en met 6,4% in vergelykbare winkels, ondersteun deur verbeterde produkbeskikbaarheid danksy sy “transformerende inisiatiewe in die waardeketting”, lui die handelsverklaring.

Hierdie momentum is oor Swart Vrydag en die feestyd gehandhaaf, met verkopegroei van 6,1% in die laaste sewe weke van die ses maande onder oorsig “wat bemoedigende markaandeelwinste oor die halfjaar en positiewe onderliggende volumegroei te kenne gee”.

Die skoonheid- en huisafdeling het uitgestaan, met verkopegroei van onderskeidelik 8,9% en 14%, terwyl modeverkope teruggehou is deur doelbewuste prysbelegging in kategorieë soos kinderklere en die uitverkoping van oortollige voorraad.

Woolworths sê die bewegings het marges op kort termyn beïnvloed, maar volumegroei ondersteun.

In Australië was die Country Road Group se aanlyn bydrae steeds aansienlik hoër as in Suid-Afrika, waar dit 27,2% van verkope verteenwoordig, hoewel dit op ’n jaargrondslag relatief onveranderd was namate handelstoestande teen die einde van die tydperk papper geword het.

Die groepomset en -verkope vir die tydperk het ver bo inflasie gegroei, teen onderskeidelik 5,4% en 6,1% teen konstante geldeenhede.

– stefani.terblanche@media24.com

CTA