Mynbou

Afwysende oudit vir staatsmyn

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister
Gwede Mantashe, minister van minerale hulpbronne en energie, Dinsdag by die Implats-myn buite Rustenburg in Noordwes.  Foto: Deaan Vivier
Gwede Mantashe, minister van minerale hulpbronne en energie, Dinsdag by die Implats-myn buite Rustenburg in Noordwes. Foto: Deaan Vivier

Die African Exploration Mining and Finance Corporation (AEMFC), die staatsbeheerde myn wat onder die Sentrale Energiefonds (SEF) se toesig val, het in die vorige boekjaar 'n afwysende ouditmening van die ouditeur-generaal (OG) gekry.

Dis 'n agteruitgang van die vorige twee jare se oudituitslae, het die OG Woensdag in die parlement gesê.

Die SEF-groep het 'n gekwalifiseerde oudit met bevindings gekry, terwyl die ander vyf filiale van die groep ongekwalifiseerde oudits met bevindings gekry het.

OG-amptenare het aan die parlement se portefeuljekomitee oor minerale bronne en energie verslag gedoen oor die SEF se oudituitslae vir die 2022-'23-boekjaar.

Die OG wys uit dat daar 'n gebrek aan gevolgebestuur is.

PetroSA, die Strategiese Brandstoffonds en die AEMFC vaar die vrotste wat betref die haal van jaarlikse teikens onder die maatskappye in die SEF.

Onreëlmatige besteding van R771 miljoen by die AEMFC het die groep se ouditmening geraak. 'n Finansiële hoof is by die AEMFC aangestel om die probleme aan te pak wat tot die afwysende ouditmening gelei het.

Die OG het bevestig die SEF en sy filiale is steeds lopende sake, op grond van sy balansstate.

Dr. Ishmael Poolo, uitvoerende hoof van die SEF, sê die groep het in die betrokke boekjaar 'n netto wins van R1,7 miljard behaal teenoor die vorige jaar se netto wins van net R63 miljoen.

Die groep het R35,4 miljard se totale bates.

In die tydperk het die SEF 'n 40%-belang in die Rompco-pypleiding tussen Mosambiek en Suid-Afrika gekoop, en is 'n 60%-belang in die gasinvoerder Avedia gekoop.

Maar daar was geen produksie by PetroSA se gas-tot-brandstofaanleg nie omdat dit die hele boekjaar in 'n staat van sorg en instandhouding was.

Gwede Mantashe, minister van minerale bronne en energie, wat ook die vergadering bygewoon het, het wel gesê dis nie 'n goeie teken dat die SEF sy finansiële state laat ingedien het nie. Hy is ook nie beïndruk met die toename in onreëlmatige besteding nie.

"Dis nie wat verwag word van 'n groep soos die SEF nie."

Volgens Poolo het die SEF die boekjaar afgesluit met 'n kontantbalans van R13,1 miljard. In die jaar is 22 338 songeisers geïnstalleer en 2,3 miljoen ton steenkool is aan Eskom gelewer.

Volgens Mantashe moet PetroSA se brandstofproduksie herstel word. Dit het ineengestort.

Die samevoeging van PetroSA, iGas en die Strategiese Brandstoffonds gaan volgens Mantashe weerstand kry. Dit is 'n ingewikkelde kwessie.

Hy het wel die werk van die OG lof toegeswaai en beklemtoon die OG is nie daar om fout te vind nie, maar om die departement te help om sy sake te verbeter.

Volgens die SEF het die groep in 2019 en 2020 nog verliese gely, met die ergste verlies in 2020 van R5,2 miljard. Teen 2021 het die prestasie effe verbeter en is 'n wins van R530 miljoen behaal. In 2022 het die netto wins weer tot R63 miljoen geval.

Die wins van R1,7 miljard in 2023 is volgens die SEF danksy afskrywings wat herroep is, 'n herberekening van die koste om PetroSA te rehabiliteer, en die feit dat die nasionale tesourie aan die Strategiese Brandstoffonds toestemming gegee het om die wins te hou as hy strategiese olievoorraad verkoop.

Keith Mileham, DA-lid van die komitee, het gewys op die verkoop van R11,5 miljoen se diesel wat PetroSA aan 'n fiktiewe entiteit verkoop het, wat die OG uitgewys het as 'n onreëlmatigheid.

Mileham meen dit wek erge kommer. Hy het gewys op die transaksie wat PetroSA met Equator Holdings gesluit het, wat ook 'n verdagte entiteit is. Hy wou weet waarom die OG hom nie sterker uitlaat oor dié aspekte nie.

Die filiaal iGas het in die boekjaar tot einde Maart 2023 'n wins van R771 miljoen behaal, grootliks weens die groter belang in die Rompco-pypleiding. Die belang is van Sasol gekoop.