Anglo American Platinum (Amplats) het, soos gewaarsku, 'n skerp daling van 69% in sy verdienste vir die halfjaar tot einde Junie aangekondig.
Dit is aansienlik laer pryse, laer verkope en hoër koste wat sy verdienste voor rente, belasting, depresiasie en afskrywing tot R13,4 miljard afgedruk het.
'n Tussentydse dividend van R12 per aandeel is verklaar. Dit steek sleg af teenoor die R41 wat 'n jaar gelede verklaar is tesame met 'n spesiale dividend van R40 danksy die meevallerwins uit sterk markpryse van daardie tyd.
Hoewel Amplats in die halfjaar 42 dae se ladingvermindering van Eskom moes verduur, is sy mynbedrywighede nie daardeur geraak nie, sê Natascha Viljoen, uitvoerende hoof.
Die groep het sy sake só geskik dat hy sy instandhoudingswerk laat val op die dae waarop hy ladingvermindering moet ondergaan, en minimale verliese is dus gely wat betref mynbouproduksie.
Die produksie wat uitgestel moes word vir die halfjaar weens kragonderbrekings bedra 66 400 ons. Dit verteenwoordig 3,6% van sy verkope van 1,8 miljoen onse in die halfjaar. Die verkope is wel 12% minder as 'n jaar gelede.
Amplats se mynbouproduksie was 7% laer op 1,844 miljoen ons. Dit was weens onder meer laer graad erts by die Mogalakwena-myn en tydelike bedryfsprobleme by Amandelbult.
Pryse:
Die gemiddelde mandjieprys van platinumgroepmetale was in die halfjaar 29% laer as 'n jaar gelede op $1 885 per ons.
Rodium se prys was gemiddeld $8 957 per ons, wat steeds histories hoog is, maar dit was 48% laer as 'n jaar gelede en 35% laer as in die tweede helfte van verlede jaar.
Palladium se gemiddelde prys van $1 505 per ons was 32% laer as 'n jaar gelede en 25% laer as 2022 se tweede helfte.
Platinum se gemiddelde prys was wel 1% hoër as 'n jaar gelede op $1 009 per ons en 9% beter as in die tweede halfjaar van 2022.
Die pryse van iridium en rutenium was bykans onveranderd, maar steeds op hoë historiese vlakke, sê Amplats.
Vooruitsig:
Die groep verwag die vraag na platinumgroepmetale sal vanjaar matig styg danksy kapitaalprojekte in China. Die mark vir platinum-juweliersware sal stabiliseer, maar dit hang baie af van die Chinese mark.
Produksie in Suid-Afrika was oor die algemeen laer as 'n jaar gelede, maar nie aansienlik nie, want die bedryf hanteer die uitdagings van Eskom se kragonderbrekings relatief goed, meen Amplats.
Oor die volle jaar word verwag dat die aanbod in die mark matig kan toeneem. Russiese produksie sal vanjaar swakker wees omdat die Russiese myngroep Norilsk instandhouding, wat uitgestel is, sal moet begin doen.
Amplats verwag hy sal vanjaar totale kapitaalbesteding van sowat R22 miljard doen. Hy verwag daar sal oor die volgende paar jaar steeds 'n tekort aan platinum wees namate die motorbedryf die palladium-katalisators vir petrolenjins vervang. Motorvervaardigers het begin om oor te skakel na platinum pleks van palladium weens die hoë pryse. Daar sal dus 'n ooraanbod van palladium verwag word, maar dit sal afhang van hoe die motorbedryf groei en hoe vinnig daar internasionaal na battery-elektriese-voertuie oorgeskakel word.
Die groeiende waterstof-ekonomie en vraag na platinumgroepmetale in nywerheidstoepassings sal die internasionale vraag in die toekoms in stand hou, meen Viljoen.
Sy is tans besig met haar 12-maande-kennisgewingtydperk by Amplats aangesien sy in Februarie 'n pos aanvaar het by die Amerikaanse myngroep Newmont. Amplats soek nog na 'n opvolger vir haar.





















