Mynbou

Amplats in Junie los van Anglo

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister
’n Vroulike mynwerker in die Dishaba-myn van Amplats in die Thabazimbi-omgewing in Limpopo.  Foto: Amplats
’n Vroulike mynwerker in die Dishaba-myn van Amplats in die Thabazimbi-omgewing in Limpopo. Foto: Amplats

Anglo American Platinum (Amplats) sal in Junie van sy beheergroep, Anglo American, ontbondel word.

Hy sal dan benewens sy notering op die JSE ook 'n notering op die Londense beurs kry, het Anglo American Maandag aangekondig.

Amplats het Maandag sy jaarresultate bekend gemaak, en benewens 'n slotdividend is 'n bykomende kontantdividend verklaar. Saam is dit R16,5 miljard wat aan aandeelhouers uitgekeer word, en met sy belang van 67% in Amplats kry Anglo self dus ook 'n stewige R11 miljard in die vorm van dividende.

Volgens Duncan Wanblad, uitvoerende hoof van Anglo, is die groep op koers met die ontbondeling van Amplats.

Anglo sal steeds 'n belang van 19,9% in Amplats behou ná die ontbondeling.

Strategiese herskikking

Dié ontbondelingsplan is verlede jaar aangekondig as deel van 'n strategiese herskikking van Anglo se portefeulje, wat ook insluit dat hy die diamantgroep De Beers wil verkoop of ontbondel.

Anglo het dié strategie aangekondig te midde van 'n vyandige oornamepoging deur die mededingende mynreus BHP.

Anglo sal nie meer direksieverteenwoordiging in die Amplats-direksie hê ná die ontbondeling nie, en Anglo sal stelselmatig sy oorblywende belang in Amplats op 'n verantwoordelike wyse verkoop, het Wanblad gesê.

Anglo wil hom op sy koper- en ysterertsbelange toespits, asook op 'n landboubemesting-onderneming in Brittanje.

Anglo sal amptelike aandeelhouersgoedkeuring vir die ontbondeling vra op sy jaarvergadering op 30 April.

Amplats se verdienste daal met 19%

Amplats het vir die afgelope boekjaar tot einde Desember 'n verdienste van R19,8 miljard behaal, wat 19% laer is as die vorige boekjaar. Dit is grootliks weens laer randpryse vir platinumgroepmetale wat behaal is.

Amplats se dividend bestaan uit R3 per aandeel as 'n gewone dividend, en 'n bykomende kontantdividend van R59 per aandeel. Dit word op 29 April aan aandeelhouers uitbetaal. Die laaste dag waarop nog in Amplats-aandele verhandel kan word om vir die dividend te kwalifiseer is 22 April.

Craig Miller, uitvoerende hoof van Amplats, glo die ontbondeling gaan Amplats help om 'n doeltreffende onafhanklike kapitaalstruktuur te skep. Hoewel platinumgroepmetale se pryse tans gedemp is, is Miller optimisties oor die langtermynvooruitsigte aangesien die metale 'n belangrike rol speel in die skep van 'n groener ekonomie.

Amplats se aandeelprys was Maandagoggend 2,7% sterker op R674. Anglo se aandeelprys was effe laer op R576.

-francois.williams@24.com