Anglo American was eens die kroonjuweel van Suid-Afrikaanse mynbou.
Maar die oorname-aanbod deur die Australiese mynreus BHP is 'n klap in die gesig van die ANC-regering se mynboubeleid, sê James Lorimer, DA-woordvoerder oor mynbou.
Lorimer het die naweek gereageer op die nuus dat BHP 'n aanbod van meer as R740 miljard gebied het om Anglo oor te neem, maar sonder sy Suid-Afrikaanse platinum- en ysterertsbates.
BHP werk glo intussen aan 'n verbeterde oornamevoorstel nadat Anglo se direksie einde verlede week sy voorstel summier van die hand gewys het, het Bloomberg berig.
Stuart Chambers, voorsitter van Anglo, sê die voorstel van BHP is opportunisties, te ingewikkeld, dit onderwaardeer die Anglo-groep se bates aansienlik, en is glad nie vir aandeelhouers aantreklik nie.
Anonieme bronne met wie Bloomberg gepraat het, voer aan BHP bespreek 'n hersiene voorstel met sy adviseurs oor die komende weke. BHP het amptelik tot 22 Mei tyd om 'n formele aanbod te maak, ingevolge die reëls van die Londense aandelebeurs waarop albei die mynmaatskappye genoteer is.

'n Voorwaarde van BHP is dat Anglo eers sy belange in Anglo American Platinum (Amplats) en Kumba Iron Ore aan sy aandeelhouers ontbondel.
Lorimer voer aan dié benadering van BHP wys hoe mynmaatskappye en mynboubeleggers wêreldwyd die manier beskou waarop die ANC-regering dit uiters moeilik maak om sake in Suid-Afrika te doen.
"Suid-Afrikaanse mynboubates word nou as toksies beskou. Amplats en Kumba is albei indrukwekkende maatskappye, maar is verswak. Amplats is verswak deur lae metaalpryse en Kumba weens die mislukking van Transnet wat keer dat hy sy produk behoorlik kan uitvoer," sê Lorimer.
Hy wys op swak mynbeleid wat swak in werking gestel word, wat vererger word deur gewelddadige mynboumafias, mynbougemeenskappe wat ontevrede is, korrupsie, die gebrek aan elektrisiteit en die spoorvervoerstelsel wat ineenstort. As Anglo sterker was, sou dit nie vir 'n oorname kwesbaar gewees het nie, meen Lorimer. Hy wys op kommentators wat glo al het Anglo die voorstel van BHP verwerp, sal daar ander aanbiedings kom.
BHP stel uitdruklik belang in Anglo se kopermyne in Suid-Amerika, naamlik in Peru en Chili. Koper het 'n kritiek belangrike metaal geword in die skuif na skoner tegnologie soos elektriese voertuie.
Sou BHP slaag met 'n oorname van Anglo, kan hy 10% of meer van die wêreld se koperproduksie beheer. Maar ontleders waarsku so 'n oorname kan deur China as grootste kliënt gekniehalter word.
Owerhede in China is bekend daarvoor dat hulle inmeng by groot internasionale samesmeltings. Die owerhede in Beijing kla volgens Bloomberg al lank oor China se swak koopkrag teen mynreuse wat die handel in sekere kommoditeite oorheers. Ontleders van Bloomberg Intelligence sê Chinese smelters sukkel om wins te maak met voorraad van myngroepe soos BHP. Die Chinese mededingingsowerhede kan byvoorbeeld vir BHP dwing om eers van sy ander bates te verkoop voordat hulle toestemming vir die samesmelting sal gee.
Chinese reguleerders het in 2013 aan Glencore die opdrag gegee om eers 'n groot nuwe koperprojek in Peru te verkoop voordat hulle goedkeuring sou geen aan sy oorname van Xstrata. China het voorheen help keer dat BHP se oorname-aanbod van sy mededinger Rio Tinto gladweg verloop, en dié reuse-transaksie het uiteindelik misluk.
Koper is belangrik in die vervaardiging van sonpanele en batterye vir elektriese voertuie - 'n mark waarin China oorheers.
Ná BHP se voorstel om Anglo oor te neem het koperpryse tot bo $10 000 per ton gestyg. Ontleders sê dit wys dat mynmaatskappye nie genoeg myne bou nie.
Al sou BHP sowat 10% van die kopermark hê as hy Anglo sou oorneem, gaan dit nie 'n verskil aan produksie maak nie. Die produksie van bestaande myne gaan oor die komende jare na verwagting skerp afneem, en mynmaatskappye sal tussen 2025 en 2032 meer as $150 miljard moet bestee om in die markvraag te voorsien.
Koper lyk soos die laaste oorblywende aanbodrisiko vir die elektriesevoertuigmark, sê 'n ontleder van Natixis aan Bloomberg. Die styging in die koperprys word aangedryf deur beleggers wat tekorte verwag, en mynmaatskappye is nie gereed om genoeg nuwe projekte te bou nie.
Seleho Tsatsi, beleggingsontleder by die batebestuurder Anchor Capital, sê Anglo se aandeelprys verhandel ná die aanvanklike voorstel van BHP teen 'n effense premie van 5% op die waarde van BHP se aanbod, wat volgens hom dalk aandui dat Anglo-aandeelhouers self 'n hoër aanbod van BHP of selfs van iemand anders verwag. Tsatsi sê Anchor sal steeds vashou aan hul Anglo-aandele.













