Mynbou

De Beers optimisties ondanks Anglo se skei-planne

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister
De Beers se uitvoerende hoof is vol vertroue dat die groep vir die volgende eeu nog die leier in die diamantbedryf sal wees, ongeag Anglo American se planne om die maatskappy te verkoop of te ontbondel.  Foto: De Beers/Facebook
De Beers se uitvoerende hoof is vol vertroue dat die groep vir die volgende eeu nog die leier in die diamantbedryf sal wees, ongeag Anglo American se planne om die maatskappy te verkoop of te ontbondel. Foto: De Beers/Facebook

Die diamantgroep De Beers werk aan 'n nuwe strategie, en is nie van stryk gebring deur die aankondiging van Anglo American dat hy sy belang in De Beers wil verkoop of ontbondel nie.

Dít blyk uit De Beers se reaksie Dinsdag op Anglo se herstruktureringsplanne.

Anglo wil ontslae raak van sy kookssteenkoolmyne in Australië en sy nikkelbedrywighede, wat in Brasilië en Suid-Afrika is. Hy wil ook sy belang in Anglo American Platinum ontbondel.

Die groep wil dan net fokus op koper, ystererts en die belang in 'n myn in Brittanje wat bemestingsprodukte wil lewer.

Die aankondiging van Anglo skep nuwe moontlikhede onder nuwe eienaarskap vir De Beers, sê Al Cook, uitvoerende hoof van die diamantreus.

"De Beers het die diamantbedryf meer as 'n eeu gelei. Ons het ongekende kundigheid, uitstekende bates in meer as 20 lande, 'n unieke verkopemodel en 'n ikoniese handelsnaam wat sinoniem met diamante is.

"Ek is vol vertroue dat ons die volgende eeu nog die diamantleier sal wees."

De Beers bly toegespits op sy strategie om waarde in belang van al sy belanghebbers te skep, sê Cook.

Volgens hom sal sekere goed nie verander nie, soos die voortgesette lewering van waarde vir alle belanghebbers insluitend sy vennote in Botswana, Suid-Afrika, Namibië, Kanada, Angola en ander lande.

Die regering van Botswana hou 'n 15%-belang in De Beers.

De Beers sê hy is verbind tot die nuwe ooreenkoms met Botswana wat in Junie verlede jaar beklink is. Dit behels dat Botswana 30% van die ongeslypte diamante wat in die land ontgin word, kan verkoop teenoor De Beers se 70%. Dit was sedert 2020 onderskeidelik 25% en 75%, en die jongste ooreenkoms bepaal dat Botswana se aandeel in diamantverkope teen 2033 tot 50% styg.

Terselfdertyd is die mynlisensie van Debswana - die gesamentlike mynonderneming waarvan De Beers en die Botswana-regering elk 50% besit - nog 25 jaar tot 2054 verleng.

Volgens Cook sal De Beers later vandeesmaand 'n nuwe strategie bekend stel.

"Diamante bly van die mees gesogte produkte wêreldwyd. Ek is opgewonde oor die geleentheid wat ons het om die betowering daarvan aan 'n nuwe geslag te bring. Met die volgehoue herstel in die vraag na ongeslypte diamante en 'n positiewe vooruitsig vir die sektor, is ek vol vertroue oor die toekoms van De Beers," sê Cook.

Daar is 'n insinking in internasionale diamantverkope weens ekonomiese onsekerheid en swakker groei in China. De Beers het in April effe beter verkope in sy jongste verkoopsiklus aangeteken, maar dit was steeds byna 18% laer as 'n jaar gelede. Verbruikersvraag na diamantjuweliersware groei egter steeds sterk in Indië, die grootste invoerder van diamante ter wêreld.

De Beers is in 1888 gestig en gee werk aan sowat 20 000 mense.

Kumba het Dinsdag bevestig hy sal steeds deel bly van die Anglo-groep.

Amplats sê hy glo sy bates het buitengewone potensiaal en hy is besig om die onderneming meer veerkragtig te maak om volhoubare opbrengste te lewer as een van die voorste produsente van platinumgroepmetale ondanks die afname in die siklus.

Amplats het in Februarie aangekondig hy moet herstruktureer en dat meer as 4 300 poste geraak kan word, van wie 3 700 sy eie personeel is en die res kontrakteurs. Kumba is ook met herstrukturering besig en kan 490 poste besnoei.

CTA