Mynbou

De Beers verkoop effens meer diamante

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister
’n Ongeslypte diamant van De Beers.Foto: DE BEERS/FACEBOOK
’n Ongeslypte diamant van De Beers.Foto: DE BEERS/FACEBOOK

Diamantverkope in De Beers se jongste verkoopsiklus is 3,2% meer op $445 miljoen vergeleke met die vorige siklus.

Maar dit is steeds byna 18% minder as dieselfde siklus van 'n jaar gelede toe verkope $542 miljoen bedra het.

"Baie diamantondernemings volg nog 'n versigtige benadering tot aankope te midde van die onsekere ekonomiese landskap en die trae groeitempo in China," het Al Cook, uitvoerende hoof van die diamantreus, vandeesweek gesê met die bekendmaking van De Beers se jongste diamantverkope.

Hy is wel bemoedig deur die groei in die verkope van ongeslypte diamante in die onlangse verkoopsiklus vergeleke met die vorige een.

Verkope is gewoonlik traer in die tweede kwartaal van die jaar.

Die sogenaamde siklus 3 se voorlopige verkoopswaardes is waarop dit staan teen 16 April.

Die vorige siklus was siklus 2, en verteenwoordig diamantverkope tussen 1 Februarie en 12 Maart. Oor siklus 2 het Cook in Maart gesê die voortgesette ekonomiese onsekerheid in Amerika het kleinhandelaars konserwatief gestem wat betref hul aankope ná die vakansieseisoen aan die einde van 2023.

Verbruikersvraag na diamantjuweliersware is aan die groei in Indië, maar in China bly verkope traag.

In siklus 1 - die verkope wat strek van 21 Desember tot 30 Januarie - was verkope op $374 miljoen.

Dit het gevolg op siklus 9 van verlede jaar waarin De Beers net sowat $80 miljoen se ongeslypte diamante bemark het. Dit was omdat daar 'n moratorium op die invoer van ongeslypte diamante in Indië gegeld het.

Indië is die internasionale nodus vir diamantslypery, met Surat in die weste van Indië wat as die Diamantstad bekend staan vanweë die talle diamantslypondernemings in die stad.

Die onafhanklike diamantmaatskappy Petra Diamonds, wat drie ondergrondse myne in Suid-Afrika en 'n oopgroefmyn in Tanzanië bedryf, het ook die afgelope week laer diamantverkope bekend gemaak. Hy het in sy vyfde tender in April 362 132 karaat se diamante verkoop, wat 16% minder is as die 428 860 karaat wat in sy vierde tender in Februarie verkoop is. Sy verkope in geldwaarde was wel 3% beter op $49 miljoen, met gemiddelde pryse in dollar per karaat wat 22% beter was op $136.

Petra bedryf die Cullinan-myn in Gauteng, die Finsch-myn in die Noord-Kaap, asook 'n myn by Koffiefontein in die Vrystaat. Die Koffiefontein-myn is tans in sorg en instandhouding ter voorbereiding daarvan om die myn te verkoop. Petra het vroeër die maand 'n ooreenkoms met die diamantgroep Stargems gesluit om die myn aan hom te verkoop.

De Beers is in 1888 gestig en gee werk aan sowat 20 000 mense. Hy is wat waarde betref die grootste diamantprodusent ter wêreld, met diamantmynbedrywighede in Botswana, Kanada, Namibië en Suid-Afrika.

De Beers is deel van die Anglo American-groep.

CTA