Mynbou

Duurder krag kan Implats met R800 m. knou

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister
’n Werker by een van Implats se smelters. Foto: Implats
’n Werker by een van Implats se smelters. Foto: Implats

Die duurder kragpryse wat op pad is, kan Impala Platinum (Implats) 'n ekstra R800 miljoen oor 'n tydperk van 12 maande uit die sak jaag.

So sê Meroonisha Kerber, finansiële hoof van die mynbougroep.

Dis nie die enigste van Implats se sorge nie. Gemiddelde palladiumpryse was in die halfjaar tot einde Desember 16% laer op $994 per ons.

Platinumpryse was wel 5% sterker op $968 per ons en rodiumpryse het met 11% tot $4 627 per ons gestyg.

Sy dollarinkomste per ons vir die ses verskillende platinumgroepmetale wat hy verkoop, was 3% laer op $1 334, en die randinkomste was 8% laer op R23 831 per ons. Dis veral die laer randpryse wat sy verdienste geknou het.

Pyne in Kanada

Volgens Nico Muller, uitvoerende hoof, hou die laer palladiumpryse 'n bedreiging in vir die toekoms van Implats se afdeling in Kanada. Dis onseker hoe lank nog met die bedrywighede daar voortgegaan kan word.

"Ek sal nie verras wees as ons oor die komende maande of jaar besluit om dit stelselmatig te sluit nie."

Muller wou hom egter nie vaspen op 'n tyd nie, want die plan skuif die heeltyd na gelang van die span se pogings om koste te besnoei en doeltreffendheid te verbeter.

Einde verlede jaar is nog gesê die afdeling kan oor drie jaar gesluit word, maar geen vaste besluit is nog geneem nie. As die palladiumprys opskiet, kan alles weer verander.

Implats het 'n sterk balansstaat en het opgehoopte voorraad om te verwerk te midde van die gedempte prysomgewing, het Muller gesê.

Implats kon wel in die halfjaar sy sonkragaanleg by Zimplats in Zimbabwe tot volle kapasiteit bedryf, en daar is gevorder met die uitbreiding van die smelter daar.

Internasionale onsekerheid

Die onsekerheid in die internasionale ekonomie wat meer intensief word, soos geopolitiek en dreigende handelsoorloë, bedreig die platinumbedryf.

Dit is nie net markfaktore wat pryse bepaal nie. Hoewel daar minder pryssteun vir palladium en rodium is, is daar steeds fundamentele steun vir platinum, wat 'n unieke metaal is; die gebruike daarvan het nie verander nie. Talle lande het dit nou tot 'n kritieke mineraal verklaar en die vraag daarna sal nie wegval nie.

Van die groot bedreigings is die skuif na elektriese voertuie, en die onsekerheid oor die waterstofekonomie en die toekoms van brandstofsel-voertuie.

Amerikaanse invoertariewe

Op die vraag of Implats bedreig word deur enige moontlike tariewe wat Amerika op platinumgroepmetale uit Suid-Afrika kan hef, het Muller gesê daar is nie "oortuigende redes" vir handelstariewe nie.

Daar is boonop 'n sterk vraag na Implats se produkte van ander lande. 'n Paar jaar gelede op die Londense Platinumweek het Implats by die Amerikaners gekla hulle het te stadig gereageer om platinum tot 'n kritieke mineraal te verklaar, maar intussen het Amerika wel dié stap gedoen.

Implats se halfjaarsyfers

• produksie daal met 4% tot 13,74 miljoen ton;

• verkoopsvolumes groei met 5% tot 1,77 miljoen ons;

• inkomste is 3% laer op R42,3 miljard; en

• wesensverdienste daal met 43% tot R1,8 miljard.

- francois.williams@24.com