Eskom, Transnet rem aan Exxaro se wins

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister
Exxaro se hoofkantoor in Centurion, Gauteng.Foto: EXXARO/FACEBOOK
Exxaro se hoofkantoor in Centurion, Gauteng.Foto: EXXARO/FACEBOOK

Die steenkoolmyngroep Exxaro het steeds 'n halfjaardividend verklaar ondanks die daling van 32% in sy wins tot R6,3 miljard.

Maar die dividend per aandeel is R4,50 laer op R11,43.

Die voortdurende logistieke probleme veroorsaak deur Transnet se verval, laer verkooppryse en laer verkoopsvolumes, het bygedra tot die insinking in sy winssyfers.

Dis wel teengewerk deur 'n effe swakker wisselkoers, het Exxaro Donderdag met die bekendmaking van sy halfjaarresultate tot einde Junie gesê.

Eskom se eie probleme het veroorsaak dat Exxaro minder steenkool aan die kragverskaffer verkoop het. Die totale steenkoolproduksie van Exxaro se eie myne was 7% laer, en totale verkope 9% laer, grootliks weens laer verkope aan Eskom.

By die Grootegeluk-myn in die Waterberg-streek was verkope 10% laer weens Eskom se laer vraag nadat 'n eenheid by die Medupi-kragstasie gesluit is, en daar probleme was met die steenkoolhanteringstoerusting by die Matimba-kragstasie.

Uitvoer

Europese gas- en steenkoolvoorraad het in die halfjaar genoegsaam herstel, wat tot laer pryse gelei het.

Dit was nadat Exxaro en ander Suid-Afrikaanse steenkooluitvoerders aanvanklik ruim kon skep danksy die geskarrel onder Europese kragverskaffers vir alternatiewe energiebronne te midde van Rusland se inval in Oekraïne.

'n Warmer winter as gewoonlik, laer gaspryse en 'n sterk prestasie deur groenkragprodusente in Europa het bygedra tot die swakker vraag.

Die laer pryse het wel gehelp dat Suid-Afrikaanse steenkool weer gesog geraak het op die Indiese mark, wat pryssensitief is. Indië se aankope van Suid-Afrikaanse steenkool het in 2022 afgeneem weens die skerp stygende pryse wat toe geheers het.

Spoor

Die swak prestasie van Transnet Freight Rail (TFR) weens lokomotiewe wat onbeskikbaar is, kabeldiefstal, ontsporings en vandalisme, is steeds 'n uitdaging vir Exxaro. Die laer uitvoerpryse het ook beteken sy somme om steenkool via alternatiewe hawens as Richardsbaai uit te voer, het nie meer so lekker geklop nie.

Tog pluk hy reeds die vrugte van die taakspan wat TFR en die bedryf byeengeroep het, met diensvlakke wat nie verder agteruitgegaan het nie.

In die oorsigtydperk het Exxaro 2,45 miljoen ton per spoor na Richardsbaai vervoer, teenoor 2,54 miljoen ton 'n jaar gelede. Maar die swak spoordiens het ook beteken die staalgroep ArcelorMittal SA het minder steenkool van Exxaro gekoop.

Die bedryf se gemiddelde maatstaf-steenkooluitvoerprys via Richardsbaai was $130 per ton, wat 53% laer is as die $277 per ton wat 'n jaar gelede behaal is. Exxaro se gerealiseerde uitvoerprys per ton was gevolglik 52% laer op $127 teenoor $262 'n jaar gelede.

Groenkrag

By Exxaro se groenkragafdeling, Cennergi, is 5% meer elektrisiteit opgewek as wat verwag is. Die windplase wat Cennergi bestuur, het 335 gigawatt-uur (GWh) se elektrisiteit opgewek, teenoor 'n jaar gelede se 307 GWh en die verwagte 318 GWh. Dit was ondanks die verlies van 15 GWh se opwekking by een van die windplase weens 'n fout op 'n Eskom-kraglyn.

Cennergi het nog skuld van R4,46 miljard, maar dit sal volgens die groep teen einde 2031 afbetaal wees.

Exxaro mik om in die tweede helfte van die boekjaar met bouwerk aan 'n sonkragaanleg van 68 MW by die Grootegeluk-myn te begin, wat teen 2025 in bedryf sal wees. Die aanleg sal R1,56 miljard kos.

Ferro-allooi

Exxaro gaan sy ferro-allooibedrywighede verkoop. Dit pas nie meer strategies in by wat hy vir sy portefeulje van mynbouprodukte beoog nie, sê die groep. Hy soek nog na 'n geskikte koper.

Departement sukkel

Exxaro kla oor die agterstand by die departement van minerale bronne en energie met die verwerking van mynlisensie-aansoeke. Exxaro wys op die afwesigheid van 'n behoorlik funksionerende kadasterstelsel ('n aanlyn databasis van alle mynregte) en mededinging tussen aansoeke vir dieselfde myngebiede. Exxaro het besluit om nou self alle kennisgewings na te gaan by al die streekkantore van die departement.

SPELETJIES VANDAG

CTA