Baie na aan 'n vyfde van die krag wat in Suid-Afrika opgewek word, is nou "groen" - teenoor net 5% so onlangs as ses jaar terug.
Volgens data van Ember, 'n wêreldwye dinkskrum wat groenkragbeleid bevorder, het Suid-Afrika in Januarie 11,3% van sy krag uit die son opgewek, 4,9% uit die wind, 0,3% uit water en nog 0,1% uit ander hernubare bronne, soos biobrandstowwe. Die totaal vir groenkrag is dus sowat 16,6%.
Steenkoolkragstasies wek nog die meeste van die krag op, 74,3%, en ander fossielbrandstowwe, soos aardgas, 2,5%. Fossielbrandstowwe verteenwoordig dus 76,8% van opwekking.
Kernkrag verteenwoordig die laaste 6,6%.
Die prentjie het in 2018, die oudste beskikbare data op Ember se webwerf, aansienlik anders gelyk.
Toe is slegs 2,1% van die land se krag uit die son opgewek en 2,8% uit wind. Water (0,3%) en ander hernubare bronne (0,1%) was dieselfde persentasie. Altesame is net 5,3% van die krag uit hernubare bronne opgewek.
Steenkool het 89,7% van alle krag opgewek. Geen ander fossielbrandstowwe word aangedui nie.
Kernkrag het die res, 5,2%, opgewek.
Die syfers toon dat sonkrag binne ses jaar meer as vyfvoudig toegeneem het, en windkrag het byna verdubbel.
Die verdeling tussen krag uit "vuil" (besoedelende) en "skoon" bronne is nou 76,8% teen 23,2%. In 2018 was dit 89,7% teen 10,3%.

Rekordvlakke beurtkrag
Die impak wat die rekordvlakke beurtkrag die laaste jare gehad het, blyk duidelik uit hoe vinnig veral sonkrag net die laaste paar jaar opgeskiet het. In Januarie 2021 raam Ember nog opwekking uit sonkrag op net 3%.
2021, 2022 en 2023 was almal rekordjare vir beurtkrag, met 2023 'n besonder donker jaar waarin daar beurtkrag op 332 dae was - dus altesame net 33 dae sonder beurtkrag. In 2022 was daar op 205 dae beurtkrag.
Die kragkrisis het baie huishoudings en ondernemings genoop om na sonkrag oor te skakel.
Omdat weinig huishoudelike sonkragstelsels geregistreer is, is dit onseker of die data heeltemal akkuraat is en sonkragopwekking nie moontlik onderskat nie.
Nog 'n faktor is dat heelwat groot groenkragprojekte wat deel is van die regering se bodrondes vir groenkrag die laaste jare uit die konstruksiefase gekom en begin krag lewer het.
Mikpunte vir wêreld
Die Internasionale Energie-Agentskap se scenario vir die neutralisering van uitlaatgasse van fossielkragstasies is dat 33% van die wêreld se krag teen 2030 uit hernubare bronne moet kom.
In 2024 het dit reeds 30% behaal, volgens Ember. Saam met kernkrag word 40% van die wêreld se krag nou uit "skoon" bronne opgewek.
Skoner planeet
Dr. Dion George, minister van bosbou, visserye en die omgewing, beskryf die dalende tendens van steenkoolkragopwekking in die land se energiemengsel as "belowend", 'n "belangrike stap om uitlaatgasse te verminder en in pas te bly met ons nasionale en internasionale verbintenisse oor die klimaat".
"My departement sal aanhou om met alle belanghebbendes saam te werk om die aanvaarding van hernubare energie te versnel, uitlaatgasse te verminder en 'n gesonder planeet vir toekomstige generasies te verseker."
Hy het dié week agt van Eskom se steenkoolkragstasies vrygestel van omgewingsregulasies oor skadelike uitlaatgasse, maar gesê dis nie 'n "lisensie om te besoedel" nie.
LEES OOK | Eskom se oudste kragstasies kry langer vrypas oor besoedeling
Dit sluit onder meer in dat vrystel vir die meeste kragstasies net vir vyf jaar toegestaan word, behalwe vir dié wat teen 2034 afgeskakel word.
Eskom is steeds die grootste besoedelaar op die vasteland, en duisende siektes en sterftes word jaarliks aan sy kragstasies toegeskryf.
- hanlie.stadler@24.com













