Groot ‘geheime’ kopers van goud verstom

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister
1 kg se goudstafies. Onbekende sentrale banke koop tonne goud vanjaar op om hul buitelandse valutareserwes te diversifiseer.  Foto: Bloomberg
1 kg se goudstafies. Onbekende sentrale banke koop tonne goud vanjaar op om hul buitelandse valutareserwes te diversifiseer. Foto: Bloomberg

Sentrale banke het verlede kwartaal 'n rekord-hoeveelheid goud gekoop om hul buitelandsevalutareserwes te diversifiseer.

'n Gewoonlik vervelige navorsingsverslag het die goudmark vandeesweek laat regop sit toe dit wys dat tot dusver ongeïdentifiseerde lande 'n yslike hoeveelheid goud gekoop het.

Die sentrale banke van lande het in die derde kwartaal 399 ton goud gekoop - byna dubbeld die vorige rekord, volgens die Wêreldgoudraad. Die bring die totaal tot dusver vanjaar op die hoogste sedert 1967 te staan.

Net minder as 'n kwart het gegaan aan kopers wat openbaar gemaak is, maar oor wie die res gekoop het, is daar allerlei bespiegelings.

Terwyl die meeste sentrale banke die Internasionale Monetêre Fonds (IMF) inlig wanneer hulle goud koop om hul koffers van buitelandse valuta aan te vul, is ander meer geheimsinnig daaroor.

Lande moet hul goudreserwes aan die IMF openbaar maak, maar nie almal speel oop kaarte nie. Foto: Getty Images
Lande moet hul goudreserwes aan die IMF openbaar maak, maar nie almal speel oop kaarte nie. Foto: Getty Images

Min lande het die vermoë om soveel goud te koop. Dit is genoeg om die impak op die goudprys te versag van beleggers wat besig is om goud te verkoop namate die Federale Reserweraad (Fed) van die VSA sy rentekoerse verhoog.

Ross Norman, uitvoerende hoof van Metals Daily, 'n inligtingsportaal wat op edelmetale fokus, het gesê in die lig van hoeveel verkope daar was, was hy effens verbaas dat die goudprys nie swakker was nie. "Maar nou het ons die antwoord."

Die Wêreldgoudraad, 'n drukgroep vir die mynbedryf, gebruik data van die konsultasiemaatskappy Metals Focus om sy beramings oor goudverkope en -aankope te doen.

Metals Focus maak op sy beurt staat op 'n kombinasie van openbare inligting, handelstatistieke en navorsing in die veld om syfers oor die vraag van verskillende sektore van die goudmark te verskaf.

Hoewel dit moeilik is om die groot kopers te identifiseer, het slegs sommige sentrale banke die vermoë vir sulke groot aankope.

1. China

Die wêreld se tweede grootste ekonomie openbaar selde hoeveel goud sy sentrale bank koop.

In 2015 het die Volksbank van China 'n sprong van byna 600 ton in sy goudreserwes onthul, wat beleggers in die mark ná ses jaar se stilte geskok het.

Die land het sedert 2019 geen verandering in sy goudvoorraad aangemeld nie, wat bespiegeling aangevuur het dat hy dalk in die geheim goud gekoop het.

Handelsdata toon dat China groot hoeveelhede goud aangekoop het. China het tot dusver vanjaar 902 ton goud ingevoer, wat reeds verlede jaar se totaal oortref.

Dit is bo en behalwe die meer as 300 ton wat die land se myne gewoonlik elke jaar produseer.

En hoewel die binnelandse vraag sterk was, met Chinese verbruikers wat in die derde kwartaal sowat 601 ton gekoop het, is dit op koers om minder as 2021 te wees. Vroeër die jaar het Covid-19-inperkings die aankope van juweliersware en goud deur een van die wêreld se grootste verbruikersmarkte belemmer.

Vir China is die behoefte om 'n alternatief vir die dollar te vind, wat sy reserwes oorheers, nou groter as voorheen.

Die spanning tussen China en Amerika is groot na aanleiding van die Amerikaanse stappe teen Chinese maatskappye wat halfgeleiers vervaardig. Boonop het Rusland se inval in Oekraïne gewys dat die Amerikaanse regering bereid is om sanksies teen sentrale banke se reserwes in te stel.

2. Rusland

Rusland is die wêreld se tweede grootste land wat betref goudproduksie, en wat gewoonlik meer as 300 ton per jaar produseer. Voor Februarie 2022 het die land goud na handelsentrums soos Londen en New York, maar ook na lande in Asië uitgevoer.

Sedert die inval in Oekraïne is Rusland se goud nie meer welkom in die Weste nie, terwyl China en Indië huiwerig was om groot hoeveelhede van daar in te voer.

Dit het die moontlikheid verhoog dat die land se sentrale bank ingegryp het om die voorraad te koop, maar Rusland se algehele buitelandsevalutareserwes, insluitend goud, het vanjaar afgeneem.

Pres. Wladimir Poetin van Rusland en pres. Xi Jinping van China. Dis twee lande wat dalk meer goud besit as wat hulle openbaar maak.  Foto: Reuters
Pres. Wladimir Poetin van Rusland en pres. Xi Jinping van China. Dis twee lande wat dalk meer goud besit as wat hulle openbaar maak. Foto: Reuters

Rusland se reserwes van dollars en euro's is met die sanksies teen die land bevries, wat dit vir die land se sentrale bank minder aantreklik maak om nog dié buitelandse geldeenhede by te voeg.

Maar die sentrale bank dui ook nie apart aan hoeveel goud hy besit nie.

Die land was in die verlede 'n groot aankoper van goud en het ses jaar bestee om sy goudvoorraad op te bou voordat dit met die aanvang van die koronaviruspandemie opgehou het.

Rusland het in Februarie, ná die inval in Oekraïne, gesê hy is gereed om goud teen 'n sekere prys te koop, maar die sentrale bank se adjunkpresident, Alexei Zabotkin, het verlede maand gesê die aankope is nie meer prakties nie aangesien dit die geldvoorraad en inflasie sal opstoot.

3. Olie-uitvoerders

Min lande het beter gevaar weens vanjaar se energiekrisis as olie-uitvoerders van die Midde-Ooste. Saoedi-Arabië, die Verenigde Arabiese Emirate en Koeweit het almal 'n meevaller gekry, en sommige het kontant in buitelandse bates deur hul staatsbeheerde beleggingsfondse ingeploeg.

Die lande het dalk ook na goud gekyk om hul buitelandsevalutareserwes te diversifiseer.

Saoedi-Arabië het die grootste goudvoorraad in die Arabiese wêreld, maar het nie 'n verandering in sy besit sedert 2010 aangemeld nie. Destyds het 'n "ander manier van boekhou" daartoe gelei dat sy reserwes tot 323 ton verdubbel het.

4. Indië

Indië se sentrale bank het al voorheen groot goudaankope gedoen en het in 2009 van die IMF 200 ton goud gekoop. Sedertdien koop die land meer stelselmatig goud aan, terwyl hy ook tydige inligting hieroor aan die mark verskaf.

Die land kon dalk gegewe die druk op sy geldeenheid daarvan weggeskram het om vanjaar geld aan goud te bestee. Die druk op sy geldeenheid is die afgelope maande weens die sterk invoer van edelmetale vir sy verbruikersektor vergroot.

Die goudprys is vanjaar onder druk geplaas deur die aggressiewe Amerikaanse rentekoersverhogings om inflasie daar in toom te probeer hou.

Dit het beleggers in beursverhandelde fondse aangespoor om te verkoop.

Die prys van goud is wel ondersteun deur die vraag wat van ander gebiede, soos gewone beleggers in Asië en sentrale banke, gekom het.

Die sentrale banke van lande soos Turkye en Katar was onder die onlangse kopers, sowel as instellings wat nie bekend gemaak is nie. Die Wêreldgoudraad sê hoewel dit nie ongewoon is nie, is dit wel 'n aansienlike hoeveelheid goud wat deur onbekende kopers gekoop is.

"Nie alle amptelike instellings rapporteer hul goudbesit in die openbaar nie, of die inligting kom later eers," sê die raad in 'n kwartaalverslag. "Ons kan dit nie uitsluit dat verdere aankope deur onbekende kopers nog aangemeld gaan word nie."

Die goudprys het Vrydagoggend met 1,6% tot $1 657,61 per fynons gestyg. Dit is 9% laer oor 90 dae, toon data van Iress. - Bloomberg

SPELETJIES VANDAG

CTA