Hoop dat regering besin oor staalbedryf

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister

Die Mededingingskommissie se besluit om Suid-Afrika se sukkelende staalbedryf te ondersoek is hopelik 'n teken dat die regering uiteindelik sal besin oor die beskerming wat hy aan die staalreus ArcelorMittal SA (Amsa) bied - ten koste van kleiner maatskappye.

So sê Gerhard Papenfus, uitvoerende hoof van die werkgewersorganisasie Neasa, van wie sowat 1 800 klein en middelslag-staalondernemings in Suid-Afrika lede is.

Noordwes Staal in Brits. Die Mededingingskommissie wil 'n ondersoek loods na die praktyke van primêre staalvervaardigers en hoe dit die mededingendheid van kleiner ondernemings in die bedryf raak. Foto: Theana Calitz
Noordwes Staal in Brits. Die Mededingingskommissie wil 'n ondersoek loods na die praktyke van primêre staalvervaardigers en hoe dit die mededingendheid van kleiner ondernemings in die bedryf raak. Foto: Theana Calitz

Die regering het in 2016 begin om Amsa teen ingevoerde staal te beskerm met 'n invoertarief wat tans op 10% staan. In 2017 is daar boonop 'n bykomende 8%-beskermingstarief op ingevoerde staal gehef, maar dit is ná drie jaar afgeskaf.

Amsa is Suid-Afrika se grootste primêre staalvervaardiger.

Neasa is een van die organisasies wat sedert die instelling van die invoertarief waarsku dat dit die mededingendheid van die stroomafwaartse staalbedryf (maatskappye wat afhanklik is van staal om ander produkte te vervaardig) knak.

"Ons sê lankal dis 'n stadige gif. Ek sien elke maand hoe werkgewers uit besigheid gaan, dit krimp bietjie vir bietjie," sê Papenfus.

Die Mededingingskommissie blyk nou ag te geslaan het op die kommer van staalvervaardigers en het vroeg in April in die Staatskoerant 'n voorlopige raamwerk gepubliseer waarvolgens die ganse plaaslike staalbedryf ondersoek gaan word. Lede van die publiek het tot Vrydag 5 Mei kans om insette te lewer oor die aspekte wat ondersoek sal word.

Die kommissie sal in sy ondersoek fokus op die grondstowwe, ander insetkoste vir die produksie van staal en na die primêre staalprodusente. In die ondersoek sal ook gekyk word na faktore wat mededinging in die staal­bedryf skeeftrek en belemmer.

Die ondersoek is van toepassing op die hele waardeketting en nie een enkele speler nie, hoewel daar spesifiek gekyk sal word na die pryse wat primêre staalvervaardigers vir spelers in die stroomafwaartse staalbedryf vra en hoe dit die beskikbaarheid en gehalte van staal beïnvloed.

Amsa het sy eie mark ondergrawe met die pryse wat hy vasstel.

In sy raamwerk vir die ondersoek sê die Mededingingskommissie Amsa is steeds die grootste staalvervaardiger in Suid-Afrika met 'n jaarlikse produksie­vermoë van 7 miljoen ton. Amsa oorheers die mark vir warmgewalste staal 70 jaar lank, merendeels as gevolg van ondersteuning wat hy van die regering kry. Die prys wat verskaffers vir stroomafwaartse ­kliënte vra, het dalk 'n regstreekse invloed op hul mededingendheid, sê die kommissie.

Papenfus het aan Rapport gesê Amsa het "sy eie mark ondergrawe" met die pryse wat hy vasstel.

Hy sê 'n invoertarief ontmoedig stroomafwaartse maatskappye om staal in te voer, want dis makliker om iets plaaslik te koop as om vervoerkoste te betaal en dan nog boonop daarvoor te moet wag ook. Tog gee die invoertarief die plaaslike vervaardiger die kans om ook sý prys te verhoog, maar net genoeg dat dit steeds 'n klein bietjie voordeliger is om die produk plaaslik te koop eerder as om dit in te voer.

"Maar die oomblik wanneer jy jou prys verhoog, word die produk meer onbekostigbaar vir die kliënt wat dit plaaslik wil koop.

"So iemand wat arguments­onthalwe 'n staalafdak sou bou vir R30 000, moet dit nou vir R40 000 doen, wat dalk net buite sy bereik is. En pleks daarvan dat die staal dus aangekoop sou word, gebeur dit nie meer nie en só krimp die mark geleidelik. Dís die stadige gif waarvan ons praat," sê Papenfus.

Dit is duidelik dat Suid-Afrika se mededingendheid in die produksie en verskaffing van staal aan die afneem is.

Die Mededingingskommissie sê in sy voorlopige raamwerk vir die ondersoek hy is veral bekommerd oor werksverliese en Suid-Afrika se kwynende produksie­vermoë. Tussen 2010 en 2019 het indiensneming in die vervaardiging van basiese yster- en staalprodukte met 35% geval. In 2014 was Suid-Afrika in die 19de plek van internasionale staalproduksie, maar het in 2021 teruggesak tot nommer 32.

"Dit is duidelik dat Suid-Afrika se mededingendheid in die produksie en verskaffing van staal aan die afneem is. Inligting dui daarop dat die invoertariewe sekere staalprodusente beskerm en dit is belangrik om te gaan kyk wat die uitwerking daarvan is op die stroomafwaartse staalbedryf," sê die kommissie.

Die feit dat 'n ondersoek na die bedryf onderweg is, sal egter nie onmiddellike verligting bring vir kleiner staalondernemings nie, want ondersoeke neem gemiddeld twee jaar. Dit is egter 'n goeie begin, sê Papenfus.

"Ek vermoed die ondersoek bekommer die ouens wat aan die bokant van die voedselketting is. En al vat die ondersoek hoe lank, dit stuur die regte sein uit en dié wat hulle skuldig maak aan onmededingende gedrag, gaan besef hulle gaan hulle vasloop."

Liesl Peyper

SPELETJIES VANDAG

CTA