Mynbou

Koper-mal BHP se verdienste geknou

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister
Van BHP se werknemers by ’n Komatsu-mynvragmotor by een van sy myne in Wes-Australië. Foto: BHP/Facebook
Van BHP se werknemers by ’n Komatsu-mynvragmotor by een van sy myne in Wes-Australië. Foto: BHP/Facebook

Die mynreus BHP is optimisties oor die toekoms van sy koper- en ysterertsbates.

Sy ambisie is om ver oor die 2 miljoen ton koper per jaar te produseer.

Maar die groep, wat vroeër vanjaar 'n bloutjie geloop het met sy ongenooide oorname-aanbod vir sy mededinger Anglo American, het in die boekjaar tot einde Junie 'n daling van 39% in basiese verdienste per aandeel in dollarterme aangeteken.

BHP, wat op die JSE asook die Australiese beurs genoteer is, het Dinsdag wel nog 'n slotdividend van 74 Amerikaanse sent verklaar, maar dit is 8% laer as die vorige boekjaar se 80 Amerikaanse sent.

BHP se verdienste voor rente, belasting, waardevermindering en afskrywings (ebitda) was $29 miljard, teenoor die vorige jaar se $28 miljard. Die wins toeskryfbaar aan aandeelhouers het egter van $12,921 miljard in die vorige boekjaar tot $7,897 miljard gekrimp.

Die laer wins is grootliks weens afskrywings van sowat $3,9 miljard in die waarde van eiendom, aanlegte, toerusting en ander bates.

Mike Henry, uitvoerende hoof, is egter optimisties dat die groep groot, hoëgehalte- en langlewe-bates in kommoditeite het waarvoor daar 'n groot vraag gaan wees in die konteks van internasionale tendense soos die skuif na skoner kragbronne, stygende lewenstandaarde, verstedeliking en bevolkingsgroei.

BHP het koperbates in Chili en Suid-Australië, en was juis hoogs geïnteresseerd om ook Anglo se koperbelange in Suid-Amerika te bekom sodat hy die grootste koperprodusent in die wêreld kon word. Dit sou hom 'n markaandeel van 10% gee. Anglo het telkens die voorstelle en aanbiedings van BHP van die hand gewys, en met sy eie herskikkingsplanne vorendag gekom waardeur hy sy eie koper- en ysterertsbelange wil behou, maar van plan is om sy platinumbates te ontbondel.

BHP het planne om sy Chileense koperproduksie tot 1,4 miljoen ton per jaar te verhoog, en sy mikpunt is om 650 000 ton koper per jaar in Suid-Australië te produseer.

Die groep het in die boekjaar sy koperproduksie met 9% verhoog, en nog groei van 4% word in die nuwe boekjaar verwag.

Benewens koper en ystererts produseer BHP ook nikkel, potas, termiese steenkool vir kragopwekking, asook steenkool wat vir staalproduksie gebruik word.

BHP wil op mediumtermyn meer kapitaal bestee aan strategiese kommoditeite vir die toekoms, soos koper. Hy mik na 'n gemiddelde kapitaalbesteding van $11 miljard per jaar oor die volgende drie jaar, het Vandita Pant, finansiële hoof, Dinsdag in 'n aanbieding aan aandeelhouers gesê.

Die groep het sy netto skuld in die boekjaar van $11,2 miljard tot $9,1 miljard verlaag.

BHP se aandeelprys op die JSE was Dinsdagoggend byna 1% sterker op sowat R495.