Impala Platinum (Implats) verwag 'n verlies van tussen R16,9 miljard en R17,8 miljard in basiese verdienste vir die boekjaar tot einde Junie.
Dit is teenoor basiese verdienste van R4,9 miljard 'n jaar gelede.
Die wesensverdienste vir die boekjaar sal volgens Implats tussen 85% en 90% laer wees.
Die laer basiese en wesensverdienste spruit uit 'n 34%-daling in die dollar-inkomste per ons platinumgroepmetale wat verkoop is. Dit is wel deels teengewerk deur 'n 5%-verswakking in die rand.
Benewens die laer metaalpryse was daar eenmalige koste van die bemagtigingstransaksie wat Implats gedoen het met die bemagtigingskonsortium Bokamoso, asook met die gemeenskappe om sy myne en met die werkers van Royal Bafokeng Platinum, wat nou deel is van Implats.
Die eenmalige koste het R1,9 miljard beloop.
Selfs die groter verkoopsvolumes en produksievolumes vanweë die insluiting van Impala Bafokeng (die nuwe naam van Royal Bafokeng Platinum nadat Implats dit oorgeneem het) kon dus nie help om Implats se verdienste te verhoog nie.
Die basiese verdienste is ook geraak deur afskrywings van R19,8 miljard, het Implats Woensdag in 'n handelsverklaring bekend gemaak.
By Impala Rustenburg moes R16,5 miljard se klandisiewaarde, eiendom, aanleg, toerusting en vooruitbetaalde tantième afgeskryf word weens die laer randprys van platinumgroepmetale.
By Impala Kanada is R1,6 miljard afgeskryf weens veranderende beplande bedryfsparameters.
Hoewel Implats sy bruto produksie met 13% tot 3,65 miljoen ons kon verhoog, sluit dit die bydrae van Impala Bafokeng in. As dit uitgesluit word, het vergelykende produksie met 1% afgeneem.
Die donker wolk oor Implats se afgelope boekjaar is egter die mynramp in November verlede jaar toe 13 werknemers dood en nog 73 beseer is weens 'n personeelhyser wat in die nr. 11-skag van sy Rustenburg-myn afgeval het nadat staalkabels gebreek het.
Dit het Implats se veiligheidsrekord erg geknou, met die koers van noodlottige beserings per miljoen werkure wat van 0,04 in die vorige boekjaar tot 0,127 verswak het.
Volgens Implats duur die ondersoek na die ongeluk steeds voort.
Die merkbare afname in die frekwensie en intensiteit van ladingvermindering wat Implats vir sy elektrisiteitsverbruik in Suid-Afrika moes toepas, het gehelp om sy produksievertoning te steun. Maar sy bedrywighede in Zimbabwe het ook meer kragonderbrekings ervaar.
Implats se verkoopsvolumes het met 16% tot 3,44 miljoen ons gegroei, en op 'n vergelykbare grondslag was dit 3% beter.
In die boekjaar het hy R12,3 miljard se kapitaal bestee.
Die groep het sy arbeidsherstrukturering by Impala Kanada en Zimplats afgehandel. In Suid-Afrika is 'n artikel 189-proses vir afleggings begin, maar danksy herontplooiing, heropleiding en die aanvaarding van vrywillige afleggingspakkette, was daar op die ou end geen gedwonge aflegging van enige personeel nie. Die herstruktureringsproses het die groep R488 miljoen gekos.
Implats verwag om sy finale jaarresultate op 29 Augustus bekend te maak.












