Mynbou

Spoorlyne bring steeds pyne vir steenkoolmyne

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister
’n Uitsig op Thungela se Isibonelo-steenkoolmyn in Mpumalanga. Foto: Thungela Resources
’n Uitsig op Thungela se Isibonelo-steenkoolmyn in Mpumalanga. Foto: Thungela Resources

Transnet Freight Rail (TFR) se vertoning is steeds die belangrikste struikelblok vir die steenkoolmyngroep Thungela Resources.

Thungela verwag TFR sal na verwagting vanjaar 46 miljoen ton steenkool vervoer, gegrond op wat in die eerste helfte van die jaar gebeur het, sê Thungela in 'n handelsverslag Dinsdag.

Dit is weer eens minder as die vorige jaar, toe 47 miljoen ton steenkool vervoer is teenoor 2022 se 50 miljoen ton.

Verlede jaar se 47 miljoen ton is reeds die laagste volumes in 29 jaar.

Daar was reeds twee ontsporings op die steenkoolspoorlyn vanjaar wat Thungela sowat 650 000 ton in uitvoervolumes laat verloor het.

As TFR se vertoning teen die huidige koers voortduur, verwag Thungela dat die voorraad by sy myne teen einde vanjaar met 1,1 miljoen ton sal toeneem.

Volgens Thungela probeer die steenkoolbedryf steeds om TFR te help deur kritieke lokomotief-onderdele te bekom, en TFR het goed gevorder om kompressors en batterye te installeer wat reeds afgelewer is.

Thungela waarsku intussen sy verdienste per aandeel vir die ses maande tot einde Junie sal tussen 55% en 69% laer wees as 'n jaar gelede, grootliks weens laer steenkoolpryse. Dit is vererger deur laer gehalte steenkool wat uitgevoer word.

Deon Smith, finansiële hoof van Thungela, is wel optimisties oor die groep se uitbreiding in Australië, waar die Ensham-myn beter as verwag presteer het. Thungela het 'n bemarkingskantoor in Dubai oopgemaak, en die vestiging daarvan vorder ook goed.

Smith waarsku die huidige bedryfsomgewing bly onseker. Die vraag na steenkool tydens Europa en Asië se winter het nie aan verwagtinge voldoen nie en die voorraadvlakke van steenkool en aardgas by invoerhawens bly hoog. Dit beteken daar is 'n swakker vraag en laer pryse vir steenkool.

Die steenkoolmarkte is steeds gevoelig vir prysbewegings in die olie- en gasmark, met 'n sterker korrelasie met die gasmark. Die voortgesette oorlog in Oekraïne tesame met die spanning in die Midde-Ooste het kommer oor gasvoorsiening laat toeneem. Dit het onlangs begin lei tot beter pryse vir steenkool vanuit die Richardsbaai-hawe. Die gebrek aan beskikbaarheid van hoëgehalte-steenkool, en die verwagting dat Suidoos-Asiatiese invoerders hul steenkoolvoorraad sal aanvul ná die moeson-seisoen, bied volgens Smith steun aan verwagte beter pryse vir steenkool uit Richardsbaai.

Die maatstaf-steenkoolpryse uit Richardsbaai is tot dusver vanjaar egter 18% laer as die eerste helfte van verlede jaar. Dit was gemiddeld $99,71 per ton, teenoor $121 per ton vir die volle boekjaar verlede jaar.

Die pryse wat Thungela by Ensham in Australië behaal het, was gemiddeld $121,15 per ton, teenoor $155,85 per ton in die laaste vier maande van verlede jaar.

Thungela verwag dat sy uitvoerbare produksie uit Suid-Afrika in die eerste halfjaar van vanjaar 6,2 miljoen ton sal wees. Ensham se uitvoerbare produksie word op 1,9 miljoen ton geraam.

Volgens Smith verwag Thungela om in die tweede helfte van die boekjaar R800 miljoen aan die uitbreiding van sekere mynskagte te bestee.

Thungela verwag die groep se netto kontant teen einde Junie sal tussen R7,1 miljard en R7,4 miljard wees, insluitend R1,8 miljard wat vir kapitaalprojekte gereserveer word.

Thungela mik om sy halfjaarresultate op 19 Augustus bekend te maak.