Maria Ramos, voormalige uitvoerende hoof van Absa, tree eersdaags af as voorsitter van AngloGold Ashanti se direksie.
Jochen Tilk, ook 'n jare lange onafhanklike direkteur, word in haar plek aangestel.
AngloGold het in 'n Sens-verklaring gesê Ramos het haar nie herkiesbaar gestel op die jaarvergadering op 28 Mei nie.
Die direksie het Tilk eenparig as haar opvolger aangewys, indien hy op die jaarvergadering tot direkteur herkies word.
Ramos het van 1 Junie 2019 op AngloGold se direksie gedien, en op 5 Desember 2020 die voorsitter geword.
Tilk is sedert 1 Januarie 2019 op die AngloGold-direksie.
"Ons is dankbaar vir Maria se enorme bydrae tot AngloGold Ashanti tydens haar ampstermyn as voorsitter," sê Alberto Calderon, die maatskappy se uitvoerende hoof.
"Sy het die hoogste vlakke van etiek, korporatiewe bestuur en strategiese leiding verpersoonlik, en was 'n groot steun vir my in my rol. Ons wens haar die beste toe, en sukses met haar nuwe planne."
Rhidwaan Gasant, AngloGold se leidende onafhanklike direkteur, bedank Ramos vir haar beginselvaste leierskap. "Tydens haar termyn het AngloGold enorme treë gegee om sy strategie te bevorder en sy doelwitte te haal, deur 'n nuwe, talentvolle en doeltreffende span leiers."
Tilk het 'n meestersgraad in mynbou-ingenieurswese. Hy was voorheen uitvoerende direkteur van Nutrien, 'n Kanadese verskaffer van landbouprodukte en -dienste, en is ook voormalige president en uitvoerende hoof van die kunsmisfirma Potash.
Gasant sê die firma is bevoorreg om iemand van Tilk se ervaring te hê om die direksie vorentoe te lei.
Ramos was van 1996 tot 2003 direkteur-generaal van die tesourie, van 2004 tot 2008 uitvoerende hoof van Transnet en van 2009 tot 2019 uitvoerende hoof van Absa.
Sy is getroud met Trevor Manuel, voormalige minister van finansies. Sy is 65 jaar oud.
Sy dien nog in die direksie van Richemont en het voorheen onder meer in Sanlam se direksie gedien.





















