Waar is núwe vondste in SA?

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister

Suid-Afrika se trotse 150 jaar oue mynboubedryf kan teen 2050 'n stil dood sterf indien daar nie dringend met eksplorasie begin word vir nuwe minerale nie.

'n Litiummyn in Australië. Litium is een van die gesogte battery-minerale. Al het die Demokratiese Republiek die Kongo van die rykste neerslae ter wêreld, het die Australiërs dadelik die geleentheid benut om litium te begin myn. Foto: Bloomberg
'n Litiummyn in Australië. Litium is een van die gesogte battery-minerale. Al het die Demokratiese Republiek die Kongo van die rykste neerslae ter wêreld, het die Australiërs dadelik die geleentheid benut om litium te begin myn. Foto: Bloomberg

Die eksplorasie wat Suid-Afrika nóú nodig het, is braakland-eksplorasie (greenfields exploration) - splinternuwe projekte op onontwikkelde terrein, sê Grant Mitchell, hoof van junior en opkomende mynbou by die Mineraleraad van Suid-Afrika.

"Die soort eksplorasie wat nou plaasvind, is uitbreidings of die hervatting van mynbou in myne wat vroeër toegemaak is danksy nuwe tegnologie wat ontwikkel is.

"Maar ons moet núwe minerale kry," sê Mitchell.

By die jaarlikse Mynbou-indaba die afgelope week in Kaapstad het die Mineraleraad en verskeie betrokkenes in die bedryf gewaarsku oor die grootlikse afwesigheid van eksplorasie in Suid-Afrika.

Henk Langenhoven, hoofekonoom van die Mineraleraad, het gesê netto-investering in braakland-eksplorasie het gekrimp tot -0,6% in 2021.

Daarenteen lok 'n mynbouland soos Kanada tussen 5% en 7% van die wêreld se eksplorasie-geld teenoor Suid-Afrika, wat nie eens 1% haal nie.

Mitchell sê die sukses van eksplorasie in Kanada het baie te doen met die inisiatiewe wat die regering daar ingestel het om eksplorasie aan te moedig. Dit sluit in belastingaansporings soos deurvloei-aandele (flow-through shares).

Dit werk soos volg: Gestel 'n maatskappy samel $10 000 se waagkapitaal in vir eksplorasie, dan kry die beleggers die belastingvergunning. Die maatskappy verbeur dus die belastingvoordeel ten gunste van die beleggers.

Eksplorasie is 'n hoërisiko-belegging en dit is gewoonlik baie ryk individue wat bereid is om hul geld in iets te stoot wat óf tot niks kan lei nie óf die boerpot kan slaan, sê Mitchell.

Die belastingaansporings in Kanada - wat hoërisiko-beleggers vir hul waagstuk beloon - was so suksesvol dat Australië dit basies nagevolg het, sê Mitchell.

Grant Mitchell, hoof van junior en opkomende mynbou by die Mineraleraad van Suid-Afrika. Foto: Liesl Peyper
Grant Mitchell, hoof van junior en opkomende mynbou by die Mineraleraad van Suid-Afrika. Foto: Liesl Peyper

Die voorstel vir 'n soortgelyke belastingaansporing in Suid-Afrika het nie byval gevind by die regering nie, merendeels omdat daar soveel aanspraakmakers op die staatskas is soos welsynstoelaes, die voortdurende reddingsboeie aan staatsbeheerde ondernemings en salarisse van staatsamptenare.

Die harde werklikheid is egter dat bitter min nuwe mineraal-neerslae die afgelope 20 jaar in Suid-Afrika ontdek is. En die groot mynboumaatskappye in Suid-Afrika het 'n lewensduur van 20 tot 30 jaar.

"Wat gebeur daarna? Kapitaal is vloeibaar en hierdie groot maatskappye kan maklik hul geld na ander lande neem. Ons moet vooruit begin dink en aktief eksplorasie in Suid-Afrika aanmoedig om die pypleiding van nuwe mynbouprojekte in die land aan te vul," sê Mitchell.

Dit neem gemiddeld 15 tot 20 jaar vir 'n myn om tot stand te kom nadat 'n groot ontdekking gedoen is. "Dit beteken as daar groot neerslae gevind word, sal dit eers tussen 2038 en 2043 in produksie wees," sê Mitchell.

Beleggings in Afrika het nie verhoog nie - dit bly dieselfde.

Die Mineraleraad is terdeë bewus van die krisis en het tesame met die regering en die Raad vir Geowetenskappe (CGS) 'n plan opgestel om nuwe lewe in eksplorasie te blaas. Mosa Mabuza, uitvoerende hoof van die CGS, sê die doelwit is om binnekort 5% van die wêreld se eksplorasie-dollars na Suid-Afrika oor te dra.

Daar is ook 'n samewerkingsooreenkoms tussen die Mineraleraad, CGS en die JSE om junior en opkomende mynboumaatskappye te mentor om uiteindelik op die beurs te noteer. In Suid-Afrika is slegs ses junior mynboumaatskappye op die JSE genoteer, teenoor meer as 1 200 in Kanada.

Net soos eksplorasie is junior en opkomende mynbou 'n riskante belegging en baie van hierdie maatskappye wat in Suid-Afrika sake doen, sukkel om beleggings te kry van pensioenfondse en selfs individuele beleggers wat sku is vir risiko.

Gwede Mantashe, minister van minerale bronne en energie, by die afgelope week se Mynbou­-indaba. Foto: Brenton Geach
Gwede Mantashe, minister van minerale bronne en energie, by die afgelope week se Mynbou­-indaba. Foto: Brenton Geach

In Suid-Afrika is die meeste eksplorasiemaatskappye ook junior mynboumaatskappye. "Hulle sien die projek heeltemal deur. Eksplorasiemaatskappye oorsee doen die eksploreerwerk en sodra die neerslag gevind is, verkoop hulle die mynregte aan groot maatskappye vir ontginning daarvan," aldus Mitchell.

Dit is waarom dit belangrik is vir junior en opkomende mynboumaatskappye om uiteindelik beleggersgeld te kan lok sodat ordentlike eksplorasie gedoen kan word wat uiteindelik lei tot nuwe myne.

Die karige eksplorasie is nie net 'n Suid-Afrikaanse fenomeen nie, maar ook elders op die vasteland.

In 'n paneelbespreking by die afgelope indaba oor die ontginning van die sogenaamde batteryminerale - nikkel, litium, kobalt en koper, waarvan Afrika ryk neerslae het - is Afrika gekap oor sy onvermoë om te spring wanneer geleent­hede opduik.

"Neem litium as voorbeeld, wat volop is in die DRK (Demokratiese Republiek die Kongo), maar wie het die geleentheid benut? Australië!" het Benedikt Sobotka van die Global Battery Alliance gesê. Australië is nou die wêreld se grootste verskaffer, met litium wat by vier myne ontgin word.

Dít terwyl daar meer neerslae in die DRK is.

"Beleggings in Afrika het nie verhoog nie - dit bly dieselfde. En dis 'n probleem," het Sobotka gesê.

Liesl Peyper

SPELETJIES VANDAG

CTA