Tegnuus

Blue Label ‘koop’ Cell C se skuld vir meer beheer, minder risiko

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister
Cell C se skuldlas word geleidelik verbeter.  Foto: Cell C
Cell C se skuldlas word geleidelik verbeter. Foto: Cell C

Ná miljarde rande se beleggings, kontantinspuitings en ondersteuning het Blue Label sy benadering tot die regruk van Cell C nou verander: meer beheer en minder risiko.

'n Jaar gelede het die telekommunikasiegroep Blue Label miljarde rande in Cell C ingespuit om sy skuldlas van R9 miljard tot R3 miljard te laat daal.

In daardie stadium was Blue Label slegs 'n minderheidsaandeelhouer in Cell C.

Luidens 'n verklaring wat Blue Label Donderdag op Sens uitgereik het, het hy nou twee ooreenkomste beklink wat sy benadering tot Cell C grootliks gaan verander.

Eerstens sal die nuwe ooreenkomste verseker dat sy blootstelling aan die risiko's verbonde aan Cell C verminder word, en tweedens word hy nou amptelik die meerderheidsaandeelhouer.

Cell C se skuldlas is met sy laaste stel voljaarresultate vir die boekjaar tot einde September 2023 tot R3 miljard verminder. Al staar onmiddellike insolvensie die diensverskaffer nie meer in die gesig nie, is die skuldlas steeds enorm.

Blue Label het as deel van sy eerste ooreenkoms sy volfiliaal The Prepaid Company (TPC) ingespan om die telekommunikasiemaatskappy Gramercy se skuldeis teen Cell C te koop. Die skuldeis beloop R415 miljoen en word bekom deur middel van 'n transaksie van R450 miljoen.

TPC se ooreenkoms met Gramercy bepaal dat die R450 miljoen in vier nierentedraende paaiemente betaal sal word.

Die tweede ooreenkoms wat deel van Donderdag se aankondiging is, is dat TPC Gramercy se 6,09%-belang in Cell C vir R6 miljoen gaan bekom.

Dié heeltemal aparte en onafhanklike transaksie sal ook deur vier nierentedraende paaiemente betaal word.

Teen November 2026, wanneer die laaste paaiemente vir albei transaksies betaal is, sal Blue Label dus die meerderheidsbelang in Cell C hê met 51,09% van alle Cell C-aandele.

Cell C se skuldlas sal egter al vanaf die amptelike goedkeuring vir albei transaksies met 14% besnoei word.

Dié soort skuld-tot-ekwiteit-transaksie is algemeen, maar is 'n heeltemal nuwe benadering vir Blue Label in hoe hy sy belange in Cell C bestuur.

2023 teenoor 2024

In 2023 het Blue Label 'n deurslaggewende rol gespeel om Cell C se skuld te verminder deur omvattende herkapitalisering. Dit het verskeie finansiële maneuvers behels, insluitend skuldfinansiering, bykomende beleggings, heronderhandeling van bestaande skuldeise en ondersteuning vir bedryfskapitaalvereistes.

In 2024 volg Blue Label 'n ander benadering om Cell C te ondersteun, wat die verkryging van 'n skuldeis en 'n ekwiteitsbelang behels.

Skuldfinansiering: Blue Label het in 2023 regstreekse skuldfinansiering van R1,03 miljard aan Cell C verskaf, wat gebruik is om 'n kompromis-aanbod aan versekerde leners te maak.

Skuldeisverkryging: Blue Label verkry vanjaar eerder 'n spesifieke skuldeis ter waarde van R415 miljoen van Gramercy. Dié strategie prioritiseer die oorname van bestaande skuld eerder as om nuwe finansiering te verskaf.

Deur die skuldeis te verkry, verkry Blue Label meer beheer oor Cell C se skuldstruktuur en kan hy as sodanig die bepalings en voorwaardes van die skuld regstreeks beïnvloed.

Hierdie nuwe benadering stel Blue Label ook in staat om sy eie finansiële blootstelling meer effektief te bestuur. Die verkryging van bestaande skuld kan minder riskant wees in vergelyking met die verskaffing van nuwe regstreekse finansiering aan Cell C.

Belange of beleggings

In 2023 het Blue Label verskeie bykomende beleggings in Cell C gedoen, insluitend die verkryging van effekte en die verskaffing van lenings wat deur aandele in Cell C verseker is.

Hierdie beleggings was daarop gemik om Cell C se finansiële posisie te stabiliseer en sy bedrywighede te ondersteun.

Vanjaar het Blue Label eerder 'n bykomende 6,09%-belang in Cell C teen R6 miljoen bekom. Dit is 'n regstreekse belegging in Cell C se aandele, wat Blue Label se eienaarskap en invloed vergroot.

Die verkryging van 'n ekwiteitsbelang vergroot Blue Label se eienaarskap in Cell C, wat hom meer beheer gee oor strategiese besluite en bedrywighede, veral terwyl Cell C nog probeer herstel.

Die vergroting van sy belang in Cell C bied ook die potensiaal vir aansienlike opbrengste indien Cell C se regrukplan suksesvol is.

Paaiemente of inspuitings

Die herkapitalisering wat Blue Label in 2023 aan Cell C verskaf het, het onmiddellike kontantinspuitings deur skuldfinansiering en bykomende beleggings behels. Dit het onmiddellike verligting aan Cell C se finansiële posisie gebied.

Vanjaar behels Blue Label se nuwe benadering die nierentedraende paaiementbetalings wat oor tyd versprei word. Dit verminder die onmiddellike finansiële las op Blue Label en versprei sy finansiële verantwoordelikheid.

Die verspreiding van betalings oor tyd kan Blue Label help om sy kontantvloei doeltreffender te bestuur. Dit verminder die onmiddellike impak op likiditeit en finansiële verhoudings.

Blue Label se finansiële resultate vir die boekjaar tot einde Maart vanjaar vertoon sterk, maar is steeds op plekke verswak teenoor die vorige boekjaar, veral weens sy blootstelling aan Cell C.

Só lyk Blue Label se finansiële hoogtepunte vir die 2023-'24-boekjaar:

• Inkomste: R14,6 miljard (daling van 23% op 'n jaargrondslag).

• Bruto wins: R3,3 miljard (-5%).

• Netto wins ná belasting: R647 miljoen (+140%).

• Kernwesensverdienste per aandeel: R0,76 (+68%).

• Kontant en kontant-ekwivalente: R896 miljoen.

William Horne

SPELETJIES VANDAG

Spesiaal vir intekenare!CTA

Elke dag ’n nuwe blokraai, sudoku en woordblom asook ’n weeklikse vasvra élke Vrydag. 

SPEEL SAAM