Tegnuus

Capitec gaan selfone begin verkoop, mik vir 10 m. datakliënte

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister
Gerrie Fourie, uitvoerende hoof van Capitec. Foto: Verskaf
Gerrie Fourie, uitvoerende hoof van Capitec. Foto: Verskaf

Data en lugtyd wat deur Capitec Connect verkoop word, het in die afgelope boekjaar tot einde Februarie 'n wins van R193 miljoen vir die Capitec-bankgroep ingebring. Dit het met 451% van R35 miljoen in die vorige jaar gespring.

Die diens is twee jaar gelede begin.

Volgens Gerrie Fourie, uittredende uitvoerende hoof van Capitec, het Capitec Connect 1,6 miljoen aktiewe kliënte.

Kliënte word as aktief gereken wanneer hulle 'n Capitec Connect SIM-kaart het wat minstens een keer in die ses maande tot einde Februarie gebruik is.

Dit is 'n styging van 74% vergeleke met die ooreenstemmende tydperk.

LEES OOK | Capitec se selfoondiens groei sneller as verwag

Volgens Fourie mik Capitec Connect daarna om oor twee tot drie jaar 10 miljoen kliënte te hê.

Dit was juis die afgelope vyf jaar se uitbreiding van suiwer lenings na ander produkte en dienste wat tot die volgehoue groei in die totale aktiewe kliënte van die bankgroep gelei het, sê hy.

Vyf jaar gelede het Capitec 13,9 miljoen aktiewe kliënte gehad en einde Februarie vanjaar was dit 24,1 miljoen (ingesluit handelaars wat van sy kaartmasjiene gebruik maak).

Dit is 9% meer as die vorige boekjaar se 22,1 miljoen kliënte.

Fourie sê die 10 miljoen is bereikbaar as gekyk word na die totale aktiewe kliënte wat by Vodacom, Telkom en MTN vooruitbetaalde datagebruikers is wat nie kontrakte het nie.

"Die ander manier om daarna te kyk, is hoeveel van die 24 miljoen kan ons kry om Capitec Connect te gebruik."

Van al Capitec se aktiewe kliënte maak 11 miljoen van sy waardetoegevoegde dienste gebruik. Die totale netto inkomste uit dié dienste (wat Capitec Connect insluit) het met 56% tot R4,2 miljard gestyg.

Capitec Connect se getal kliënte het die laaste paar maande teen 130 000 en 140 000 per maand gegroei, sê Fourie.

Die produkaanbod is verbeter en uitgebrei.

Aanvanklik het Capitec net een bondelproduk verkoop wat nie verval nie.

Die pryse volg dieselfde filosofie as ander Capitec-dienste dat dit standaard en deursigtig is.

"Ons mededingers gee nooit 'n vaste prys nie en het elke week 'n promosie. En wanneer iemand wil skuif, word die prys verminder. Ons filosofie is mense moet presies weet waarvoor hulle betaal. Dit is hoekom ons vaste pryse op al ons produkte het en ons glo dit skep meer waarde.

"Dit gaan vertroue bou by kliënte."

Volgens hom beloop Capitec se markaandeel van vooruitbetaalde data en lugtyd 41%, wat die grootste in die land is.

In die jaar is 307 miljoen minute se lugtyd verkoop en 13 400 teragreep data. Dit het onderskeidelik met 263% en 189% vanaf die vorige boekjaar gegroei.

Vir Capitec is die voordeel dat meer data oor kliënte bekom word sodat hulle beter verstaan word en groter waarde toegevoeg kan word, sê Fourie.

Sien op die meegaande grafiek die tipe data wat bekom word wanneer gesien kan word waaraan kliënte hul geld bestee. (Dit is wat op kaarte of aanlyn bestee word en daar moet in ag geneem word dat baie nog kontant bestee word deur sy kliënte.)

Later vanjaar gaan Capitec Connect begin om fone te verkoop. Die voordeel daarvan is die pryse waarteen dit aangebied gaan word en dat die SIM-kaart outomaties van Capitec Connect gaan wees.

Dit is 'n diens wat belangrik is vir kliënte, soos met die kleinhandelaars PEP en TFG gesien kan word, wat 'n groot deel van hul inkomste uit die verkoop van fone verkry.

"Die meeste mense in die informele mark het twee tot drie fone - 'n slimfoon wat 'n app kan gebruik en een of meer wat dit nie kan hanteer nie wat die basiese foon is."

Capitec Connect is 'n virtuele selfoondiensoperateur (MVNO) wat van Cell C se infrastruktuur gebruik maak.

- nellie.brand@24.com

SPELETJIES VANDAG

Spesiaal vir intekenare!CTA

Elke dag ’n nuwe blokraai, sudoku en woordblom asook ’n weeklikse vasvra élke Vrydag. 

SPEEL SAAM